Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Tshwane, Jhb met administrasie gedreig
Lebogang Maile, die Gautengse LUR vir ekonomiese ontwikkeling. Foto: Zamokuhle Mdluli

Tshwane en Johannesburg, albei DA-beheerde metro’s, “gaan onder administrasie geplaas word as hulle nie hul kant bring nie”.

So het Lebogang Maile, Gautengse LUR vir menslike nedersettings en stedelike beplanning, Maandag gedreig.

Hy het op ’n nuuskonferensie in Johannesburg ’n donker prentjie geskets oor die stand van munisipaliteite in Gauteng. Nege van die 11 munisipaliteite in die provinsie loop weens verskeie uitdagings die gevaar om wanfunksioneel te word, sê hy.

Midvaal

Hy sê Midvaal is die enigste munisipaliteit in Gauteng wat vir die boekjaar van 2017-’18 ’n skoon oudit ontvang het.

Van die uitdagings waardeur munisipaliteite in die gesig gestaar word, is beweerde bedrog en korrupsie, gewelddadige diensleweringsbetogings, dienste wat nie betaal word nie en ’n agterstand in dienslewering.

Tshwane die voorbok

Maile sê byna al die metro’s gaan gebuk onder onreëlmatige en vermorste besteding – met “Tshwane wat die voorbok” is.

Hy het ook na Herman Mashaba, DA-burgemeester van Johannesburg, gekap en hom daarvan beskuldig dat hy ’n “drama queen” is.

“Mashaba het ons uitgedaag om sy munisipaliteit onder administrasie te plaas. Hy moet pasop, ons sal dit wel doen as dit die omstandighede van inwoners gaan verbeter,” sê Maile.

Hy het ontken dat hy die DA-metro’s teiken om politieke munt daaruit te slaan.

“Ons tree op teen alle munisipaliteite. Ons het aan die burgemeester van Ekurhuleni geskryf oor die toiletsage. Trouens, ons het aan al die munisipaliteite geskryf oor die oudituitslae. Dit het niks te doen met wie die munisipaliteite beheer nie,” sê hy.

“Ons kan Tshwane en Johannesburg weens die stand van sake onder administrasie plaas. Maar ons het nie. Ons hou vandag ’n olyftakkie uit en vra die metro’s om met die provinsiale regering saam te werk.”

Maile sê daar is baie mense wat kla.

Mens kla

“Ek het dik lêers oor Johannesburg, mense wat kla. Dit is wetteloosheid, dis wanfunksionele regering. Daar is ernstige beweringe oor hoe die metrobaas (munisipale bestuurder) in Johannesburg aangestel is. Daar is kwessies oor ’n ongekwalifiseerde persoon (in beheer) in Tshwane.”

Hy sê sy departement gaan ’n komitee op die been bring om munisipaliteite in die provinsie te ondersoek. Die komitee, wat tien lede sal hê, sal onder die voorsitterskap van Trevor Fowler, voormalige munisipale bestuurder van Johannesburg, staan. Die komitee moet binne drie maande terugvoering gee.

Mashaba kap terug

Mashaba het in reaksie op Maile se uitlatings oor hom gesê hy moet sy feite regkry.

“Meer as 1 000 mense is in hegtenis geneem ná ondersoeke deur ons teenkorrupsie-eenheid, insluitende Dan Bovu, voormalige ANC-lid van die burgemeesterskomitee, oor stadsraadgrond wat aan kwesbare mense verkoop is,” sê Mashaba op Twitter.

Omogolo Taunyane, woordvoerder van Stevens Mokgalapa, burgemeester van Pretoria, sê die metro het nog geen skriftelike kennisgewing van Maile ontvang nie, maar sal in die belang van deursigtigheid dit bestudeer sodra hulle dit kry.

“Ons neem kennis van die verslag en verwelkom enige inisiatief wat deursigtig en onafhanklik is. Ons sal ons aan die proses onderwerp, sou daar ’n behoefte daaraan wees.”

Meer oor:  Lebogang Maile  |  Tshwane  |  Johannesburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.