Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Tshwane-kragpryse: VF Plus gaan by burgemeester kla

Die VF Plus, een van die DA se koalisievennote in die Tshwane-metro, sê hy sal die “onbillike verhoging in kragpryse” met Stevens Mokgalapa, die DA-burgemeester, bespreek.

Die nuwe kragtariewe wat onlangs aangekondig is, het skokgolwe deur die Tshwane-metrogebied gestuur.

“Daar sal twee stelle tariewe geld, een vir die wintermaande (Junie tot Augustus) van R1,82 per kWh, teenoor R1,52 per kWh in die somermaande (September tot Mei),” sê Awie Erasmus, VF Plus-raadslid en voorsitter van die openbarerekeninge-komitee in die Tshwane-metroraad, in ’n verklaring.

“Daar sal nou net twee kategorieë of kerwe wees, in vergelyking met die bestaande vier kategorieë.

“Die impak van die veranderings kan geweldige gevolge inhou vir verbruikers, in besonder vir kleiner verbruikers, aangesien die vaste bedrag van R200 sal veroorsaak dat hul persentasieverhoging aansienlik hoër kan wees,” sê Erasmus.

Klein verbruikers is ook gewoonlik die inwoners wat die kwesbaarste is vir verhogings, en hulle sal die swaarste geraak word.
Awie Erasmus, VF Plus-raadslid

“Daar sou verwag word dat indien die verbruik laag is, die verbruiker bevoordeel sal word, wat met die nuwe struktuur nie die geval sal wees nie. Klein verbruikers is ook gewoonlik die inwoners wat die kwesbaarste is vir verhogings, en hulle sal die swaarste geraak word.”

Die VF Plus sê hy sal daarop aandring dat die struktuur en tariewe met die volgende raadsitting op 27 Junie reggestel word.

Rapport het die naweek vir Eric Bott, direkteur van Energy Measurement Consulting en kenner van kragtariewe, aangehaal wat sê Tshwane se aanvangstarief van R200 is baie hoog.

Hy sê Tshwane se tariewe moet nog deur die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) goedgekeur word en verbruikers se enigste hoop is dat die reguleerder vir hulle in die bresse sal tree en die tariewe na die metro terugverwys om dit te hersien.

EFF ''irrelevant'' in Tshwane

Intussen sê die ANC in Tshwane die EFF in dié streek het “irrelevant” geword.

Die party sê in ’n verklaring Julius Malema, EFF-leier, het vroeër gesê Tshwane sou teen Junie ’n EFF-burgemeester gehad het. Dit het nie gebeur nie.

Die ANC het verlede maand die mat onder die EFF uitgepluk deur die DA en sy koalisievennote met die begrotingsvergadering te steun, terwyl net die EFF daarteen gestem het.

Die ANC sê die EFF het met die plaaslike verkiesing in 2016 net 11% van die stemme op hom verenig. Die ANC het met dié verkiesing 68 wyke gewen teenoor die DA se 39. Die EFF het nie ’n enkele setel verower nie.

Hy is dankbaar Tshwane het die skuld van arm huishoudings afgeskryf.
ANC-verklaring

Die ANC sê hy wil by die EFF weet of hy met vandeesmaand se raadsvergadering ’n mosie van wantroue in Mokgalapa gaan indien, “of soos gewoonlik ’n ommekeer gaan maak”.

Die ANC sê hy het ’n groot rol daarin gespeel om seker te maak die nuutste Tshwane-begroting is ten gunste van die armes. Hy is dankbaar Tshwane het die skuld van arm huishoudings afgeskryf.

“Dit het nou duidelik geword die EFF stel tot nadeel van gemeenskappe en die welvaart van die mense eerder belang in ‘paleispolitiek’.”

Die EFF het nog nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

Meer oor:  Vf Plus  |  Tshwane  |  Burgemeester  |  Kragpryse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.