Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Tshwane se chaos met krag vererger

Met een beweging het die Tshwane-metroraad se kraginspekteur verlede Donderdag nie net Imibhobho Fibre Africa in Waltloo, Pretoria, se krag afgesny nie, maar ook miljoene rande se onmiddellike én potensiële skade veroorsaak.

Die aanleg, wat nege produksielyne het vir die vervaardiging van plastiekpype, is gewoonlik 24 uur per dag, ses dae van die week in bedryf. Daardie oggend het dit egter gestaan weens beurtkrag van 07:00-09:30. Daarna het die vyf uur lange proses begin om die aanleg weer in bedryf te stel. Hulle was net reg om te begin, toe kom die inspekteur . . .

Al die maatskappy se fyn beplanning om R1,5 miljoen se pype betyds vir installasie aan hul nuwe klant in Botswana te lewer, was na die maan. Nie net die klant nie, maar ook die vervoerkontrakteur wat vooraf moes reël vir ’n tydgleuf om die vrag deur die grens te neem, was woedend.

Die fabriek het byna ’n week stilgestaan.

Werner de Bruin, direkteur van Imibhobho, raam die skade aan huidige en toekomstige sake op meer as R11 miljoen. Dít ná die slag van die inperking . . .

Imibhobho is een van tientalle ondernemings in Waltloo, meestal in die vervaardigingsbedryf, wat raadop is met die onvoorspelbare en onbekostigbare kragrekeninge van die Tshwane-metroraad. Van die raad se beloftes om hul probleme op te los, het daar tot dusver dadels gekom.

In Imibhobho se geval het die munisipaliteit in Mei, midde-in die Covid-19-inperking, skielik ’n “diverse” heffing van R245 000 op sy kragrekening ingestel. Dit het later geblyk die raad verwag van die onderneming om sy huidige deposito van R7 000 summier aan te vul tot R245 000.

Rillerstories

Soortgelyke rillerstories is algemeen.

Een onderneming het in Januarie ’n verbruiksrekening van R15 000 gekry, net om die volgende maand te hoor die rekening is R1,4 miljoen agterstallig.

’n Ander se koste het met 500% toegeneem.

Nog een is met ’n bul van ’n kraglesing geslaan vir die tydperk toe die fabriek onder slot en grendel was. En dit sonder dat enigeen op die perseel was om die meterlesing te neem . . .

Hengelene Redelinghuys-Krook, direkteur van die chemiese onderneming Abyx, sê hulle het ten einde raad die hulp van ’n konsultant ingeroep en op eie koste ’n toetsmeter langs dié van die munisipaliteit geïnstalleer.

Hulle betaal nou maandeliks vir die kragverbruik wat dié meter toon, maar volgens die munisipaliteit skuld hulle al byna R800 000.

Volgens Ruan Botha, konsultant van Corrective Power wat Abyx probeer help, het dinge begin skeefloop toe die Tshwane-metroraad onder DA-bewind verlede jaar sonder behoorlike voorbereiding die omstrede Peu-kragmeters by sy groot klante verwyder en met ander vervang het.

Dít is gedoen om te voldoen aan ’n hofbevel wat die vorige ANC-geleide raad se kontrak vir die installering van voorafbetaalde kragmeters met Peu Capital Partners ongrondwetlik verklaar en tersyde gestel het.

Meters 'nie korrek ingestel'

Volgens Botha is die meters nie korrek ingestel met installasie nie, met die gevolg dat die lesings verkeerd is en in ander gevalle is die meter aan die verkeerde rekening gekoppel op die stad se rekeningstelsel.

Waar die lesings skielik dramaties verhoog, beskou die metroraad die bestaande deposito’s as onvoldoende en vereis dat dit aangevul moet word.

Om die foute reg te stel, is haas onmoontlik, sê hy. Daar is verskillende afdelings in die munisipaliteit betrokke en as jy by die een regkom, val die pap by die volgende op die grond.

Die Waltloo-sakelui het op 27 Augustus met ’n groot afvaardiging van raadsamptenare vergader oor hul kragprobleme. Die amptenare het onderneem om teen 18 September met elke onderneming apart te vergader en hul probleme op te los. Dié vergaderings het egter nog nie begin nie.

Hulle het darem kennis van die munisipaliteit gekry dat niemand se krag in September afgesny sal word nie. Dít is volgens hulle egter skrale troos. Hulle het min vertroue dat die raad, wat tans deur ’n administrateur gelei word wie se gesag in die hof bevraagteken word, die saak gaan beredder. Hulle sê hulle oorweeg ’n betaalboikot.

Meer oor:  Imibhobho Fibre Africa  |  Waltloo  |  Tshwane-Metroraad  |  Chaos  |  Rekenings  |  Kragverbruik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.