Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Tshwane se stadshoof ontruim sy pos

Moeketsi Mosola, munisipale bestuurder van die Tshwane-metro, het ingestem om einde Julie sy pos te ontruim.

Dit volg op ’n geslote Tshwane-raadsvergadering Donderdag waar dié besluit geneem is.

Moeketsi Mosola, wat nou sy pos as stadsbestuurder van Tshwane gaan ontruim.

’n Storm woed al lank oor Mosola se kop omdat hy glo die regulasies verontagsaam het in die toekenning van ’n omstrede kontrak aan die raadgewende ingenieursgroep GladAfrica. Dié kontrak is in November 2017 aangegaan vir hulp van GladAfrica om die metroraad se infrastruktuurprojekte ter waarde van R12 miljard te bestuur.

Mosola se kop is daarna reeds by twee geleenthede geëis vir sy rol in die toekenning van die kontrak en sy oortreding van die gedragskode vir personeel van die metro.

Stevens Mokgalapa, burgemeester van Tshwane, het in Februarie aangekondig dat die kontrak aan die einde van die finansiële jaar gekanselleer gaan word ná ’n bevinding van Kimi Makwetu, ouditeur-generaal (OG), dat Mosola die Wet op die Bestuur van Munisipale Finansies oortree het.

Solly Msimanga, wat toe nog burgemeester was, het die OG se bevinding verwelkom en bygevoeg dat die betalings aan GladAfrica onreëlmatig was.

Msimanga het toe bedank om op sy kandidatuur vir die Gauteng-premierskap te fokus, terwyl Mosola in sy pos aangebly het.

John Moodey, Gautengse leier van die DA, het Vrydag luidens ’n verklaring gesê dat die besluit dat Mosola sy pos moet ontruim, “nie ligtelik geneem is nie”.

Volgens hom het die DA gevra dat die GladAfrica-kontrak ondersoek word, maar dat die ANC en EFF gekeer het dat die stad se veelparty-koukus Mosola skors.

“Die beperkinge van wetgewing en die beskerming deur dié twee partye het veroorsaak dat ’n onderlinge ooreenkoms vir sy bedanking die mees praktiese wyse geword het, en wat uiteindelik tot voordeel van die stad se inwoners sal wees,” sê Moodey.

“Ons eerste prioriteit is om dienste aan die mense van Tshwane te lewer en om hul lewens te verbeter. Ons sal nie toelaat dat enigiemand in die pad daarvan staan nie. Die stad sal nou die pos van stadsbestuurder adverteer en verseker dat slegs die beste moontlike kandidate vir dié aanstelling oorweeg word,” sê Moodey.

Omogolo Taunyane, metro-woordvoerder, het by navraag aan Netwerk24 gesê die bedankingsooreenkoms tussen Mosola en die stad moet nog onderteken word. “Die metro het tot die einde van die maand geleentheid om die ooreenkoms te onderteken en ’n waarnemende stadsbestuurder sal bes moontlik teen die begin van Augustus aangestel word,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.