Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Tshwane wil 26% wins uit krag maak, hoor Nersa
Nomfundo Maseti en Fungai Sibanda, albei verteenwoordigers van Nersa, op Donderdag se openbare verhoor. Foto: Andrea Küsel

Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het die Tshwane-metro Donderdag op die vingers getik oor die verhoging van kragtariewe in dié stad.

’n Openbare verhoor is in die Pretoriase middestad gehou oor die metro se aansoek aan Nersa om kragtariewe te verhoog, asook om dié tariewe te herstruktureer.

Nomfundo Maseti, verteenwoordiger van Nersa, het Donderdag herhaaldelik aan verteenwoordigers van die metro gevra of hulle redes ingedien het vir die voorgestelde verhoging en herstrukturering.

Tom Mutshidza, verteenwoordiger van die Tshwane-metro, het onder eed erken dat ’n dokument wat die koste van kragverskaffing uitstippel nie ingedien is met sy aansoek om die kragtariewe te verhoog nie.

“Hoe verwag jy van Nersa om die aansoek te hanteer sonder dat die kostestruktuur ingedien is?” het Maseti aan Mutshidza in die verhoor gevra.

“Julle wil beduidende veranderinge maak maar julle verskaf nie die nodige inligting daaroor aan die reguleerder nie.”

Maseti het in die verhoor gesê dat Nersa sewe dae aan die metro sal gee sodat hulle bykomende inligting kan verskaf oor die uitwerking wat die verhogings op inwoners gaan hê.

Die kwessie spruit uit die Tshwane-metro wat sonder Nersa se goedkeuring voortgegaan het om die prys van krag op 1 Julie met 13% te verhoog. Hoewel dié verhoging binne Nersa se riglyne is, het die metro ook strukturele veranderinge aan sy kragtariefstelsel aangebring om ’n maandelikse heffing op voorafbetaalde krag te laat geld. Vir inwoners van stedelike gebiede beloop dié heffing R56. Aanvanklik wou die metro ’n maandelikse heffing van R200 op voorafbetaalde krag instel, maar op ’n raadsvergadering in Mei is daar gestem om dié bedrag te verlaag.

Lede van die publiek, die Tshwane-metro, Nersa en ander rolspelers sit Donderdag in die openbare verhoor in Pretoria oor die verhoging van kragtariewe in Pretoria. Foto: Andrea Küsel

Morné Mostert, AfriForum se hoof van plaaslike regering, het Donderdag gesê die metro se kragtariewe word verder geherstruktureer na slegs twee bloktariewe in plaas van vier.

“Die verbruik van krag was voorheen in vier kategorieë verdeel. Mense wat tussen 0 en 100 eenhede krag verbruik, is gewoonlik armer mense en is in die eerste blok geplaas. Die laagste blok se tariewe is die goedkoopste en die vierde blok se tariewe is die duurste. Hoe meer krag jy verbruik het, hoe meer het jy vir krag betaal,” verduidelik Mostert.

Nou is daar slegs twee bloktariewe, dié wat tussen een en 650 eenhede gebruik en ander wat 650 of meer eenhede gebruik. Volgens Mostert maak dié nuwe bloktariewe dit selfs moeiliker vir arm mense om krag te betaal.

“Daar is ook ’n nuwe seisoenale blok waar jy duurder vir elektrisiteit betaal in die wintermaande en ’n bietjie goedkoper in die somermaande,” sê hy.

Dit is juis oor dié herstrukturerings waarvoor Nersa ’n verduideliking van die metro vereis.

“Ons het daardie vraag verskeie kere aan die munisipaliteit gevra. Die beleid is baie duidelik dat, indien jy beduidende veranderinge aan tariewe gaan aanbring, dit belangrik is dat sulke veranderinge vergesel word deur die koste van verskaffing, sodat ons kan sien wat dit die metro kos om hierdie veranderinge te implementeer. Dít is wat vermis word en julle het gehoor dat hulle onder eed erken het dat hulle dit nie aan Nersa verskaf het nie,” het Maseti later by navraag gesê.

Lex Middelburg, voorsitter van die Tshwane Money Matters Caucus, het Donderdag in die verhoor gesê daar was niks in die metro se konsepvoorstel aan die metroraad wat raadslede of die publiek kon waarsku oor die strukturele veranderinge aan die tariewe nie.

“Daar was geen waarskuwing van wat op pad was nie. Niemand het daarvan geweet nie.”

Hy sê die stad begroot tans om sowat R13,96 miljard se opbrengste uit kragverskaffing te ontvang. Die metro het sowat R11,01 miljard op uitgawes vir kragverskaffing begroot.

“Dit beteken dat die metro ’n wins van sowat 26,8% maak, wat baie meer as die voorgestelde 10% is. Dit is skokkend.”

Meer oor:  Nersa  |  Nasionale Energiereguleerder  |  Tshwane-Metro  |  Krag  |  Elektrisiteit  |  Wins Maak.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.