Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Tswelopele-hoës deur VS-wetgewer ‘huis toe gestuur’

Die rusiemakende topbestuur van die bankrot Tswelopele-munisipaliteit (Bultfontein en Hoopstad) wat na mekaar gesit en vingers wys het vir die mislukkings van die munisipaliteit is Donderdag deur ’n komitee van die Vrystaatse wetgewer huis toe gestuur.

Dit is sodat hulle “kritiese introspeksie kan gaan doen oor hul skaamtelose gedrag voor die wetgewer”.

Frans Matsholo (regs), burgemeester van die Tswelopele-munisipaliteit, en Motshabinyana Raseu, die speaker van dié munisipaliteit, met hul verskyning Donderdag voor die openbarerekeninge- en finanskomitee van die Vrystaatse wetgewer. Foto: Marietjie Gericke

Mojalefa Buti (ANC), voorsitter van die openbarerekeninge- en finanskomitee van die wetgewer, voor wie die hoës moes verskyn het, het hulle behoorlik die leviete voorgelees. Hy het gesê dit is duidelik dat daar by dié munisipaliteit ingegryp sal moet word.

Sowel aangekondigde as onaangekondigde besoeke sal voortaan hier afgelê moet word.

“Dit gaan baie erger as wat ons ooit vermoed het. Julle is skaamteloos.

“Ons stuur julle huis toe om te gaan nadink oor hoe julle as ’n bestuur kan saamwerk. Dit is nie in belang van die arm gemeenskappe wat julle dien, om hier voor ons na mekaar te kom sit en vinger wys terwyl die munisipaliteit in sy huidige toestand is nie.”

Buti het gesê “geeneen van julle het vandag voor die komitee ‘getriomfeer’ nie. Julle het julself en julle munisipaliteit in die skande kom steek.

“Gaan verenig, berei antwoorde op ons vrae voor en kom gee op ’n sobere wyse rekenskap van die werk wat julle doen om arm mense se lewens te verbeter.”

Buti het gesê die munisipaliteit het ondanks drie konsultante wat hy aangestel het, van ’n ongekwalifiseerde ouditmening met bevindings agteruitgeboer tot ’n gekwalifiseerde ouditmening.

Boonop oorskry die laste die bates met R46,3 miljoen en is die munisipaliteit tegnies bankrot.

Matiro Mogopodi, finansiële hoof, het boonop erken dat die drie konsultante wat sy aangestel het sonder dat die burgemeester, Frans Matsholo, dit kon goedkeur, die munisipaliteit R2 miljoen per jaar kos.

Buti het met die aanvang van die vergadering gesê Tswelopele se ongemagtigde uitgawes beloop R4,2 miljoen, die onreëlmatige uitgawes R12,1 miljoen en die vrugtelose en vermorste uitgawes R4,9 miljoen.

Dit is in weerwil van die betrokkenheid van die drie konsultante: een wat jaarlikse finansiële state moet opstel, een wat die waardasierol moet opstel en nog een vir die bateregister.

Die groot geveg voor die komitee het begin toe Matsholo gesê het sy finansiële hoof gee nie vir hom maandeliks die verslae wat hy veronderstel is om te kry nie.

“Hoe moet ek weet wat in die munisipaliteit aan die gang is as ek so gesystap word?”

David van Vuuren, DA-LW, het gesê die netto verlies van die munisipaliteit het teen einde Junie 2018 op R7,5 miljoen te staan gekom. Dit terwyl die invorderingskoers uit munisipale rekenings maar op 39% gestaan het.

“Hier is geen stabiliteit nie,” het hy gesê.

Matsholo het erken dat hy twee maande laas ’n bestuursvergadering met die munisipale bestuurder en haar hoofde gehou het.

Dévar Smit, VF Plus-LW, en Ismael Majaki, EFF-LW, het albei gesê dit is baie duidelik dat hier ernstig ingegryp moet word.

“Ons stem saam dat die topbestuur eers huis toe gestuur moet word sodat hulle hul sake in orde kan gaan kry.”

Smit het ná die tyd gesê hy vermoed dat faksiegevegte die wortel van die kwaad onder die hoë amptenare is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.