Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Twee Bloem-slagpale gesluit oor bloed oor pad stroom
Adv. Mzwakhe Mofokeng, administrateur van die Mangaung-metro. Foto: Argief

Twee slagpale in Bloemfontein gaan gesluit word nadat dik strome bloed Vrydag oor die M10- nasionale verbypad gestroom het.

Die bloed het ook oor ’n baan van die Rudolf Greyling-laan gespoel.

Adv. Mzwakhe Mofokeng, administrateur van die Mangaung-metro, sê die slagpale voldoen nie aan die vereistes van wetgewing nie.

Maar volgens Bennie Odendaal, produksiebestuurder van die Bloemfontein-abattoir, is die storting weens die munisipaliteit se dreine wat verstop was en dat die gesondheidsdepartement van die metro dáárop moet antwoord.

Die SMA (Superb Meat Abattoir) was nie vir kommentaar beskikbaar nie.

Dik strome bloed het weer die afgelope week oor die M10- nasionale pad en Rudolf Greyling-laan in Bloemfontein geloop weens verstopte dreine. Foto: Verskaf

Netwerk24/Volksblad het op 10 Julie vanjaar ook oor die dik strome bloed afkomstig van abattoirs op dieselfde roetes geskryf.

Die Mangaung-metro, wat onder administrasie geplaas is, het toe gesê dat die saak ondersoek word.

Mofokeng het in daardie stadium vir Netwerk24/Volksblad na ’n skoonmaaksessie genooi en gewys hoe hy en sy personeel dieremis, vet en stukke van diere soos oë en ore uit die dreine van die rioolnetwerk, waarin die bloed afgevoer is, gehaal het.

Volgens die inwoners van die aanliggende hoewe-gebied, Estoire, kom die probleem al sedert 2010 voor en is daar groot sakeondernemings aan die oorkant van die pad van die slagpale wat uit Bloemfontein wil wegtrek omdat hulle eiendomme telkens met bloed oorstroom word en dit ’n gesondheidsrisiko inhou.

Mofokeng het Saterdag gesê dat die slagpale slegs verdunde bloed in die rioolnetwerk mag afvoer en ook net indien hulle daarvoor betaal.

Siwwe moet ook aangebring word om vastestowwe op te vang om te voorkom dat die rioolstelsel hierdeur verstop word.

Mokgadi Kganakga, DA-raadslid, sê ook sover sy weet loop die bloed al van 2010 af uit die rioolnetwerke en is klagtes ontvang van perde wat siek word wat van die bloedwater suip.

“Om die mangate telkens te gaan skoonmaak, los nie die probleem op nie, want die stelsel gaan net weer met bloed opgevul word.”

Sy sê dit was nie eers ’n maand ná die metro se skoonmaaksessie nie, of die bloed het op 10 Augustus weer oor die pad begin uitloop.

Kganakga sê in die onlangse verlede het bloed op 21 Augustus en weer op 3 September begin uitloop.

“Die ergste is dat die metro private kontrakteurs gebruik wat derduisende rande kos om die bloed, mis en vet uit die rioolstelsel te haal.”

Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Bloemfontein  |  Slagpale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.