Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Twee munisipaliteite: die een gedy, die ander gly

Die twee munisipaliteite grens aan mekaar, maar terwyl Midvaal floreer, is Emfuleni al vir vyf jaar een van die swakste in die land. Rapport het gaan kyk wat doen die DA-beheerde Midvaal reg en waar Emfuleni, onder ANC-beheer, verbrou.

1. Die man (en span) wat dinge net doen

Ná “agt regtig vervullende jare” as Midvaal se burgemeester het Bongani Baloyi (34) verlede maand aan Rapport bevestig hy is nie weer verkiesbaar vir dié pos ná die munisipale verkiesing op 27 Oktober nie.

Die Midvaal-munisipaliteit het die Golden Arrow-prys ontvang vir die munisipaliteit wat die meeste gedoen het om die omgewing skoon te maak en infrastruktuur te ontwikkel. Foto: Facebook

Onder sy leierskap as DA-burgemeester het die munisipaliteit sewe opeenvolgende skoon oudits gekry en Midvaal het gevorder van die 16de bes presterende munisipaliteit in die land in 2013 tot die vyfde beste munisipaliteit uit 278 vanjaar.

“Dit sal ’n spesiale idioot neem om dit in duie te laat stort wat ons gebou het,” sê Baloyi.

Sy nalatenskap is enorm.

Paaie is in ’n goeie toestand en ontspanningsgeriewe soos parke en munisipale swembaddens word goed in stand gehou.

Die munisipaliteit het die Golden Arrow-prys ontvang vir die munisipaliteit wat die meeste gedoen het om misdaad te beveg, werk te skep, die omgewing skoon te maak en infrastruktuur te ontwikkel.

‘Hulle wil water hê. Almal wil.’

In sy twee termyne het Baloyi stabiliteit na Midvaal gebring – op politieke vlak en in dienslewering en hy het ’n bevorderlike sake-omgewing geskep waarin ondernemings floreer.

Dít, sê hy, het hy gedoen danksy ’n duidelike visie, meetbare kort- en langtermyndoelwitte, ’n hoë vlak van verantwoordbaarheid en etiese leierskap. En wat hy noem sy “formidabele span”.

Die munisipaliteit betaal sy krediteure gemiddeld binne tien dae, teenoor ’n nasionale gemiddelde van 180 dae. Midvaal bestee ook slegs 24% van sy totale inkomste van R1,16 miljard aan salarisse wat R130 miljoen laat vir infrastruktuurprojekte.

“Dienslewering is wat mense van ’n plaaslike regering verwag,” sê Baloyi. “Inwoners van Risiville gee nie om wat Helen (Zille) of Tony (Leon) gesê het nie. Hulle wil water hê. Almal wil skoon water hê, paaie en dat slaggate herstel word.

Bongani Baloyi, Midvaal-burgemeester vir die afgelope agt jaar. Foto: Deon Raath

“Om by ’n punt te kom waar ons is, is alles te danke aan individue wat hul deel doen.”

Luidens die ouditeur-generaal (OG) se jongste verslag (2018-’19) het Midvaal “baat gevind by ’n hoë vlak van institusionele kennis deur sleutelbestuursamptenare soos die munisipale bestuurder, hoof finansiële beampte en hoof van die voorsieningskettingbestuur wat vir minstens vyf jaar by die munisipaliteit is”.

Die OG het geen wesenlike wanvoorstellings in die munisipaliteit se finansiële gegewens gevind nie.

“Die gegewens is in ooreenstemming met die wet en regulasies met betrekking tot besteding aan openbare fondse.” Dit het gelei tot ’n ongekwalifiseerde ouditmening.

Baloyi sê hy sal vir ’n rukkie nie betrokke raak by aktiewe politiek nie. “Dit is soos om van een verhouding in ’n ander te gaan sonder ’n afkoelperiode!”

Eers wil hy fokus op die dinge waarvoor hy die afgelope agt jaar nie tyd gehad het nie.

“Ek wou al agt jaar gelede begin jag het,” sê Baloyi. “Ek begin myself nou vra: ‘Wat is jou belangstellings?’ Ek wil nou weer my lewe leef, my lewe weer normaliseer en ’n normale Suid-Afrikaanse ondervinding hê.”

Carina van der Walt, wat reeds drie jaar in Henley-on-Klip in Midvaal woon, sê hoewel daar ook in dié buurt kwessies is soos waterlekkasies, herstel die munisipaliteit dit vinnig.

“Ek wil glad nie in Emfuleni bly nie,” sê sy.

2. Selfs mees basiese maatreëls ontbreek

Die Emfuleni-munisipaliteit in die Vaaldriehoek se maandelikse waterrekening is R90 miljoen, maar net die helfte van die water word gebruik – die res loop weg weens gebarste pype.

Hawthornestraat in Drie Riviere.Foto: Verskaf

Dit is net een van die probleme in dié wankelende, ANC-beheerde munisipaliteit waar dienslewering in duie gestort het.

Klippies Kritzinger, ’n inwoner van Vanderbijlpark en uitvoerende hoof van die plaaslike sakekamer, is so raadop dat hy 50 kennisgewingborde in sy buurt opgerig het waarop daar staan: “Slow please. Ratepayers repairing the roads because the municipality is bloody useless.”

“Die munisipaliteit is totaal wanfunksioneel,” sê Kritzinger. “Ek en baie ander inwoners het nou opgehou om vir dienste te betaal. Daar word nie waterlesings geneem nie, so hulle laat mense betaal op ’n geskatte waarde, wat baie hoër is as die werklike lesing.

‘Algemene bestuur is afwesig.’

“Mense sit dispute in oor hul water- en kragrekeninge, wat beteken terwyl die dispuut aan die gang is hoef hulle nie te betaal nie.”

Probleme met water en krag het amper “normaal” geword.

Die munisipaliteit, wat onder meer Vanderbijlpark en Vereeniging bedien, is die afgelope vyf jaar deur Ratings Afrika aangewys as een van die swakste in die land wat betref finansiële bestuur.

In vanjaar se graderings het Emfuleni ’n punt van net 12 uit 100 gekry teenoor 70 uit 100 vir die naburige, DA-beheerde Midvaal.

Leon Claassen, ’n analis by Ratings Afrika, sê Emfuleni is tegnies insolvent.

Kowiestraat in Drie Riviere. Foto: Verskaf

Die munisipaliteit se likiditeitstekort is R3,5 miljard. “Sy laste is meer as sy bates.

“Wanbestuur en korrupsie is die grootste probleme in Emfuleni. Daar is geen korporatiewe beheer nie,” sê Claassen. Die probleme daar sluit in:

* Water: Emfuleni skuld Rand Water R1,3 miljard. Die waterdruk is daarom tussen April 2020 en verlede week tot 63% van die normale vlak verlaag.

Risiville, ’n buurt in die veel beter bestuurde Midvaal-munisipaliteit, kry egter ook water by Emfuleni en is deur dieselfde afname in waterdruk getref.

AfriForum het verlede maand met ’n hofgeding begin nadat inwoners van Emfuleni maande onder wateronderbrekings gely het.

Blackwoodstraat in Drie Riviere .Foto: Verskaf

Salome Janse van Rensburg, raadslid van Risiville, sê die druk was daar so laag dat mense nie ná 07:00 wasmasjiene of skottelgoedwassers kon gebruik nie. Die waterdruk is verlede Vrydag herstel.

Sy sê Emfuleni stuur vir Midvaal ’n rekening vir Risiville se water en Midvaal betaal die geld aan Emfuleni oor.

Emfuleni versuim dan om Rand Water te betaal.

Ná ingryping deur Bongani Baloyi, Midvaal-burgemeester, wat dié betalings aan Emfuleni teruggehou het, is die waterdruk herstel. Die verhoging in druk het 81 waterpype in Drie Riviere en nog pype in aangrensende buurte laat bars. Duisende liter skoon water is vermors.

* Duisende vakante poste: Daleen Venter, ’n DA-raadslid van Drie Riviere in Emfuleni, sê munisipale rekeninge is in chaos. “Baie mense betaal al twee jaar geskatte bedrae; ander betaal glad nie omdat hulle nie rekeninge ontvang nie en ander ontvang weer rekeninge van R300 000.”

Daleen Venter, ’n DA-raadslid van Drie Riviere in Emfuleni.Foto: Deon Raath

Peter Verbeek, die DA se woordvoerder vir finansies in Emfuleni, sê minstens die helfte van die poste in die munisipaliteit se finansies-afdeling en tussen 60% en 65% van die poste in die afdeling vir paaie en vloedwater is vakant. “As munisipaliteit kan ons tot 6 400 werknemers aanstel. Tans is daar 2 200 mense in diens. Ons invorderingskoers is 71%, terwyl dit 95% behoort te wees.”

* Finansiële wanbestuur: Claassen sê algemene bestuur, wat insluit herstelwerk en finansiële bestuur en waarvoor ’n behoorlike bedryfsbegroting nodig is, is afwesig. “ ’n Kapitaalbegroting moet pas by die inkomste en surplusse wat jy kan genereer. As jy begroot vir ’n invorderingskoers van 95% moet jy seker maak jy vorder dit in. By Emfuleni ly hulle bedryfsverliese en begroot vir geld wat hulle nie inkry nie.”

Claassen sê die Wet op die Bestuur van Munisipale Finansies (MFMA) bepaal krediteure moet binne 30 dae betaal word. Emfuleni betaal nie vir Eskom of sy verskaffers nie. “Dit begin by die burgemeester. Hy, die munisipale bestuurder en die hoof- finansiële beampte moet toesien dat die munisipaliteit kundig bestuur word.”

Makhosonke Sangweni, woordvoerder van die Emfuleni-munisipaliteit, sê Rand Water het die waterdruk in Emfuleni as kredietkontrolemetode verlaag wat gelei het tot tekorte in hoërliggende gebiede. Hy sê hulle werk saam met Rand Water om dit te herstel.

Sangweni sê die munisipaliteit se verouderde water- en sanitasiestelsel ontvang dringende aandag van die ministerie van menslike nedersettings, water en sanitasie. Hy erken die munisipaliteit verloor “sowat 40% van water” weens onwettige verbindings, nie-meting en verouderde infrastruktuur.

Volgens Sangweni het “uitdagings met kontantvloei” die afgelope jare instandhoudingswerk belemmer en tot ’n beduidende toename in die getal water- en rioollekkasies gelei. Hy moedig inwoners aan om hul e-posadres te registreer sodat rekeninge direk aan hulle gestuur word.

Die provinsiale regering help om 57% van die vakante poste in die munisipaliteit se waterafdeling te vul, sê hy.

Meer oor:  Bongani Baloyi  |  Midvaal  |  Da  |  Anc  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.