Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
‘Tyd om N-Kaapse munisipaliteite reg te ruk’

Die Noord-Kaapse premier het Dinsdag in Kimberley tydens ’n besoek van die Nasionale Raad van Provinsies gesê dit is tyd om munisipaliteite in die provinsie reg te ruk.

Afgevaardigdes het gehoor dat ongemagtigde, ongewone en vrugtelose besteding in die provinsie van R349 miljoen tot R624 miljoen in die 2017-’2018-boekjaar toegeneem het. Uitstaande skuld aan Eskom beloop R1,3 miljard.

Dr. Zamani Saul, premier, sê nie net moet oorsig verbeter nie, maar ook samewerking tussen regeringsdepartemente, die tesourie en sy kantoor. “Ons mors skaars hulpbronne, en wanadministrasie moet vasgevat word.”

Bafedile Lenkoe, Noord-Kaapse hoof van die departement van samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake, spreek die afgevaardigdes van die Nasionale Raad van Provinsies in Kimberley toe. Foto: Charné Kemp

Bafedile Lenkoe, hoof van die departement van samewerkende regering, tradisionele sake en menslike nedersettings, sê net een uit 31 munisipaliteite het ’n ongekwalifiseerde ouditverslag in die 2017-’18-boekjaar gekry. Drie munisipaliteite het verbeter en ses het verswak.

Die Phokwane-munisipaliteit, wat onder administrasie is, het sy dokumente vir die 2017-’18-boekjaar eers op 13 September vanjaar by die ouditeur-generaal (OG) ingedien en die Renosterberg-munisipaliteit s’n is steeds uitstaande. Die sperdatum vir die inhandiging van hierdie dokumente was Augustus verlede jaar.

Met die aanvang van die nuwe boekjaar in Julie vanjaar het die Richtersveld-, Karoo-Hoogland-, Ubuntu-, Emthanjeni-, Kareeberg-, Thembelihle-, Siyathemba-,

!Kheis-, Phokwane- en Joe Morolong-munisipaliteit nog niks van hul munisipale infrastruktuurtoewysing bestee nie.

Die tesourie sê wanbestuur word nie aan munisipale dissiplinêre komitees aangemeld nie. Verslae ná ondersoeke word nie by die tesourie ingehandig nie en dissiplinêre stappe word nie gedoen nie.

Ongemagtigde, ongewone en vrugtelose besteding word sonder korrekte prosedures afgeskryf. Die grootste behoefte is dat bekwame finansiële hoofde by munisipaliteite aangestel word om die nienakoming van maatreëls hok te slaan.

Volgens Simon du Plessis van die kantoor van die provinsiale OG word verswakkende rekenskap aan die swak bestuur van aankoopkontrakte en -prosesse, gebrekkige finansiële state, voortdurende ongemagtigde, ongewone en vrugtelose besteding, geen nagevolge vir wanbestuur, swak personeelbestuur, krediteure wat nie binne 30 dae betaal word nie en swak bestuurde bates en inkomste toegeskryf.

Ongemagtigde, ongewone en vrugtelose besteding by 77% van munisipaliteite het tot R624 miljoen in die 2017-’2018-boekjaar toegeneem. Hierdie syfer is egter onvolledig omdat sekere munisipaliteite se inligting uitstaande is.

Die grootste sondaars is die Gamagara-, Nama Khoi-, Ga-Segonyana-, Dikgatlong- en Siyathemba-munisipaliteit.

Die OG kon weens vermiste dokumente nie aankope van R138 miljoen nagaan nie. By 92% van die munisipaliteite was daar onregverdige bodprosesse. Vals verklarings van 15 verskaffers oor ander belange is by tien munisipaliteite ontdek, en R41 miljoen is aan familielede van amptenare en raadslede betaal. In baie gevalle is drie kompeterende tenders of kwotasies nie verkry, die puntestelsel nie korrek toegepas nie en sekere vereistes geïgnoreer.

Uitstaande skuld aan Eskom beloop R1,3 miljard: Die Kai !Garib-munisipaliteit skuld R223 miljoen, die Gamaragara-munisipaliteit R168 miljoen, die Siyancuma-munisipaliteit R126 miljoen en die Tsantsabane-munisipaliteit R121 miljoen. Die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley skuld Eskom sedert Julie vanjaar sowat R70 miljoen.

Munisipaliteite skuld die departement van water en sanitasie sowat R121 miljoen, wat nie waterrade insluit nie.

* Delmaine Christians, DA-LP, sê die provinsie is op die rand van ineenstorting.

“Bekwame bestuurslui word nie aangestel nie; by die Renosterberg-munisipaliteit was daar geen senior bestuurders die afgelope twee jaar nie. Kritiese infrastruktuurontwikkeling word deur junior amptenare bestuur.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.