Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Upington-gemeenskap staan saam teen korrupsie, geweld

Donderdag gaan verskillende gemeenskappe van Upington saam teen waterbesoedeling, korrupsie, werkloosheid, misdaad, geweld teen vroue en kinders, en grondonteiening sonder vergoeding beswaar maak.

Evangelis Esau Montzinger van The Outcry of the Body of Christ-kerk sê sowat 30 verskillende gemeentes en AfriForum gaan ’n optog na die twee munisipaliteite, die departement van samewerkende regering en landelike ontwikkeling en die ANC se kantore hou om verskillende griefskrifte te oorhandig.

Die kerk verteenwoordig die “arm en stemlose mense van die streek”.

Die optog begin om 08:00 en hy hoop sowat 1 000 mense sal opdaag.

“Ons het vier briewe sedert 7 Augustus vanjaar aan die premier gestuur, waarin ons ons kommer oor korrupsie in die Dawid Kruiper-munisipaliteit uitspreek,” sê Montzinger. “Ons het ook bewyse om ons bewerings te staaf. Al antwoord wat ons kry, is dat hulle na ons sal antwoord.”

Rioolbesoedeling besmet die rivier in Upington.Foto: Verskaf

Hulle eis dat die ZF Mgcawu-distriksmunisipaliteit by die Dawid Kruiper-munisipaliteit ingryp.

“Die kragtariewe is te hoog, en daarom eis ons om elektrisiteit regstreeks van Eskom te koop. Die waterbesoedeling weens swak rioolinfrastruktuur ruk hande uit. Ingevolge die Grondwet is ons geregtig op ’n skoon en veilige omgewing.

“Die ANC moet kaderontplooiing stopsit. Die kerk het ernstige bedenkinge oor die aanstelling van topamptenare by die munisipaliteit. Ons vermoed daar is ernstige wanadministrasie en nepotisme.

“Die departement van samewerkende regering moet die onregmatige toekenning van tenders by die munisipaliteit ondersoek. ’n Grondindaba moet gehou word om die toewysing van grond te bespreek sodat almal grond kan besit. Die regering moet dringend droogtehulp aan boere verskaf.”

Werner Strauss, takvoorsitter van AfriForum in Upington, sê die rioolbesoedeling is ’n groot probleem.

“Die rioolpype is stukkend en rioolvuil loop oral in die omgewing. Nie net word ons lewens deur siektes bedreig nie, maar die landboubedryf kan groot skade ly. Die Oranjerivier en sy kanaalstelsel is erg besoedel. Dit bedreig die verbouing van gewasse en vrugte, asook die vleisbedryf.

“Ons is ook woedend dat die munisipaliteit nie ’n erf aan Sakkie Spangenberg wil verkoop om die bekende Sakkie se Arkie-toeristeboot te verskuif nie. Die munisipaliteit het reeds die ander erf op die Oranjerivier, van waar Sakkie se Arkie bedryf is, onder hom uitverkoop.

“Ons vra reeds meer as ’n jaar dat hulle ’n ander erf aan Sakkie se Arkie verkoop, maar hulle ignoreer ons. Dit is die bekendste toeriste-attraksie in die dorp. Nie net bestee mense geld om op die rivier te vaar nie, maar ook gastehuise, restaurante, supermarkte en vulstasies baat ekonomies by toerisme,” sê Strauss.

Meer oor:  Upington  |  Korrupsie  |  Besoedeling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.