Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Upington-munisipaliteit wil glo Die Eiland verkoop

Die Eiland-vakansieoord in Upington gaan glo eersdaags deur die Dawid Kruiper-munisipaliteit verkoop word weens die voortdurende vandalisme en toestand van verval van die oord.

Die VF Plus het sy teleurstelling oor die besluit uitgespreek en sê dit is simptomaties van die dienslewering wat agteruitgaan in ’n munisipaliteit wat oor die bronne beskik om ’n ekonomiese krag in dié streek te word.

Die oord was vir jare ’n bekende landmerk van die streek en toeriste van oor die land heen het graag Die Eiland se groen grasperke, kampterrein, chalets en ander ontspanningsgeriewe geniet en hier tuisgegaan op hul pad na die Kgalagadi-oorgrenspark.

“Dit het al die jare aan die plaaslike owerheid behoort en is deur billike pryse en goeie instandhouding gekenmerk. Boonop het dit tot die munisipaliteit se inkomste bygedra,” sê Hendrik Greyling, VF Plus-raadslid.

Hy sê Upington is die hoofstad van die westelike Kalahari en het naas Kimberley die grootste bevolking in die Noord-Kaap.

Die streek word geken aan sy gelykmatige landskap waardeur die Oranjerivier, met sy talle groot vrugbare eilande, vloei.

“Kenmerkend aan die gebied is die duisende hektaar wingerde waar tafeldruiwe, rosyne en wyndruiwe verbou word. Pekanneutboorde, lusernlande en ander gewasse vorm saam met die wingerde ’n groen strook deur die rooi Kalahari-landskap. Dit alles gee die omgewing en die dorp self ’n besonderse bekoring wat toeriste van heinde en verre trek,” sê Greyling.

Dit het al die jare aan die plaaslike owerheid behoort en is deur billike pryse en goeie instandhouding gekenmerk. Boonop het dit tot die munisipaliteit se inkomste bygedra.

Hy sê goeie munisipale dienste is egter noodsaaklik om die ideaal vir toerisme te verwesenlik, en die verkoop van Die Eiland onderstreep dit dat dié element ontbreek.

“Dit kan wel verander as meriete weer die belangrikste oorweging vir die aanstelling van munisipale amptenare word.”

Die Dawid Kruiper-munisipaliteit is om kommentaar genader oor die redes vir waarom die oord verkoop sal word. Die kommentaar sal bygewerk word sodra die munisipaliteit dit stuur.

Netwerk24 se joernalis is ook toestemming geweier om foto’s by die oord te neem en is toegang tot die oord geweier.

Volgens Patrick Williams, woordvoerder van die munisipaliteit, is die oord steeds ’n Covid-19-kwarantyngerief wat tans ontsmet word.

Meer oor:  Upington
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.