Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Valke gevra om 'omkopery' in Matjhabeng te ondersoek

Die Valke is gevra om ondersoek na klagtes van omkopery teen ’n koerantman en van korrupsie teen amptenare in die Matjhabeng-munisipaliteit in die Vrystaat in te stel.

Aubrey Mthombeni, ’n opdraggewende redakteur van die Sunday World, is afgedank ná ’n tugverhoor waarin bevind is dat hy glo geld gevra het om nie ’n reeks artikels oor die Matjhabeng-munisipaliteit (Welkom, Goudvelde) te publiseer nie.

Dr. Roy Jankielsohn Foto: Argiewe

Dr. Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier, sê ’n gesprek in die restaurant van die Dunkeld West-rolbalklub is opgeneem, waarin Mthombeni na bewering eksplisiet vra dat amptenare hom R1 miljoen moet betaal sodat die reeks artikels oor beweerde korrupsie in die munisipaliteit nie gepubliseer word nie. Mthombeni het glo aangevoer dat dit die munisipaliteit groot skade sal berokken.

“Die nuwe reeks artikels sou na bewering daartoe gelei het dat die Matjhabeng-munisipaliteit finaal in duie stort. Dit sou weer beteken dat die munisipaliteit deur die Vrystaatse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) onder administrasie geplaas sou word.”

Jankielsohn sê die bewerings is ernstig en hou met wanadministrasie en onbehoorlike optrede in terme van die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad verband.

Ingevolge dié wet is jy skuldig aan ’n strafregtelike oortreding as jy kennis gehad het of redelikerwys geweet het van onreëlmatige en onwettige optrede en dit nie aangemeld het nie.

“Die media het ’n plig om verslag te doen oor moontlike korrupsie sonder vrese of begunstiging en die versuim om dit te doen kan beskou word as ’n poging om ’n saak te help toesmeer of om medepligtig aan moontlike korrupsie te wees.”

Aubrey Mthombeni Foto: Argiewe

Jankielsohn sê die DA het die Valke gevra om inligting te kry wat in die besit van Mthombeni kan wees en om die bewerings van korrupsie in die munisipaliteit te ondersoek.

Die munisipaliteit sal Vrydag deur protesaksies oor swak dienslewering en die disfunksionele administrasie geteiken word.

Jankielsohn sê die munisipaliteit het ’n geskiedenis van bewerings oor bedrog. Die name van twee senior ANC-amptenare, Mathabo Leeto, voormalige burgemeester, en dr. Benny Malakoane, voormalige munisipale bestuurder, word glo genoem.

“Hulle is albei herontplooi en deur die voormalige premier Ace Magashule tot posisies van LUR’e in die Vrystaat bevorder. “Die LUR’e is meer as een keer aangekla en in elkeen van die gevalle het die nasionale vervolgingsgesag (NVG) later die korrupsieklagte laat vaar.”

Hy sê die Suid-Afrikaanse Perskode vereis baie duidelik van joernaliste om nie “kommersiële, politieke, persoonlike of ander nie-professionele oorwegings te hê wat hul verslagdoening beïnvloed nie. Hulle moet konflik van belange vermy, asook praktyke wat lesers oor die media se onafhanklikheid en professionaliteit kan laat twyfel.

“Daar mag geen voordele wees wat nuusdekking kan beïnvloed nie.”

Hy sê joernaliste behoort nie omkoopgeld te vra in ruil vir politieke gunste nie.

“Die DA glo dat die mense van die Vrystaat verdien dat korrupsie in hul provinsie met wortel en tak uitgeroei word.”

Meer oor:  Matjhabeng-Munisipaliteit  |  Valke  |  Ondersoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.