Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Veiling munisipaliteit se voorland as hy nie opdok

Nadat die sukkelende Masilonyana-munisipaliteit in Theunissen honderdduisende rande van belastingbetalers aan regskoste in die water gegooi het, is ’n veiling van sy toerusting weer sy voorland as hy nie ’n hofbevel gehoorsaam nie.

’n Aansoek van die munisipaliteit vir die tersydestelling van ’n hofbevel wat hy by ooreenkoms met 13 boerderye aangegaan het om aan hulle altesaam R5,2 miljoen se skadevergoeding ná ’n brand te betaal, is pas in die Vrystaatse hooggeregshof van die hand gewys.

Die munisipaliteit het reeds R5,4 miljoen in die rekening van die boere se prokureur inbetaal en nog geld vir regskoste en rente geskuld, toe hy ophou betaal.

’n Veiling van Masilonyana se vragmotors en ander besittings in Mei vanjaar vir dié uitstaande skuld is ter elfder uur met ’n hofbevel gekeer.

Masilonyana het in sy nuutste aansoek gesê hy is ’n plaaslike munisipaliteit en nie ’n distriksmunisipaliteit nie soos waarvoor hy gedagvaar is vir die skadevergoeding vir die brand wat by sy stortingsterrein by Verkeerdevlei en Tsepong ontstaan het en 3 000 hektaar weiveld op plase vernietig het.

Regter Abe Mathebula het bevind dat dit net ’n verkeerde naam was en het dit in sy bevel reggestel.

Albei kante het heeltyd presies geweet dit is Masilonyana wat gedagvaar is en moet betaal.

Hy het ook gelas dat die munisipaliteit die regskoste van dié boere in die nuutste aansoek betaal, dié van die aansoek om die veiling te stop en ook die veilingkoste.

Henry Buchner van Honey-prokureurs, wat die boere se eise gehanteer het, sê indien die munisipaliteit nie die uitstaande koste, wat nou baie duisende rande meer is, betaal nie, gaan hy weer ’n veiling van die munisipaliteit se eiendom hou om dit te verhaal.

Adv. Joubert Zietsman het in opdrag van Buchner vir die boere opgetree. Adv. André Burger, SC, het in opdrag van Vinger-prokureurs vir die munisipaliteit opgetree.

* ’n Regsgeleerde het in reaksie gesê dié verkwisting van belastinggeld op onnodige hofaksies sal nie ophou totdat die howe nie kostebevele teen die amptenare wat sulke roekelose en onverantwoordelike besluite neem, in hul persoonlike hoedanighede toestaan nie.

“Hoe regverdig hulle dit teenoor die belastingbetalers as hulle geld só in die water gooi?”

Meer oor:  Theunissen  |  Munisipaliteit  |  Brandskade  |  Hofbevel  |  Veiling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.