Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
‘Verdoemende bewyse van omkopery’ teen raadslede

Verdoemende bewyse van wangedrag is na bewering gekry in ’n onafhanklike ondersoek wat die Rustenburgse munisipaliteit oor ’n DA- en EFF-raadslid laat doen het.

In dié ondersoek deur onafhanklike regslui is glo sterk prima facie getuienis teen Agnes Tsamai, ’n DA-raadslid, en Johannes Motswhane, ’n EFF-raadslid, dat hulle die munisipale kode oortree het. Hulle het glo onbehoorlike druk op die munisipaliteit geplaas om Gustav Clappen, ’n sakeman wat van die munisipaliteit se voertuie herstel het, te betaal.

De Wet Nel van die Vryheidsfront Plus is die fluitjieblaser oor die nes van beweerde omkopery wat in die Rustenburg-munisipaliteit in Noordwes oopgekrap is. Foto: Stephen Roberts

Clappen skryf in ’n beëdigde verklaring hy het munisipale amptenare by verskeie geleenthede omgekoop omdat hy gesukkel het dat die munisipaliteit hom vir sy dienste betaal.

Hy het vroeër aan Netwerk24 gesê hy het Motshwane betaal vir hulp, maar nooit vir Tsamai nie. Motshwane het Dinsdag ten sterkste ontken dat hy by omkopery betrokke was.

“Ek gaan hof toe hieroor, ek het nooit enigiets van Clappen ontvang nie.”

Die Vryheidsfront Plus het in November 2017 die fluitjie geblaas oor dié bewerings en het klagte van korrupsie en bedrog met tersaaklike bewyse by die Valke ingedien. Dié ondersoek is nog aan die gang.

De Wet Nel, Vryheidsfront Plus-raadslid, sê die Rustenburg-munisipaliteit het hierna op sy party se versoek die onafhanklike ondersoek laat doen.

“Korrupsie moet met wortel en tak uitgeroei word, dis onaanvaarbaar dat opposisieraadslede nie na behore deur hul partye gestraf word nie.”

Clappen se beëdigde verklaring

Gustav Clappen se beëdigde verklaring waarin hy erken hy het munisipale amptenare omgekoop, is een van die dokumente wat die onafhanklike ondersoekers onder oë gehad het. Hulle het ook na bandopnames geluister en onderhoude gevoer. Van die bewerings wat hieruit na vore gekom het, is dat Motshwane tussen R30 000 en R60 000 ontvang het omdat hy druk help plaas het dat Clappen betaal word.

Clappen het glo ook gratis herstelwerk aan Motswhane se rooi Hyundai, asook aan sy vriendin se Mercedes-Benz gedoen. Clappen het in November 2017 teenoor Netwerk24 erken hy wou betaal vir vakansies vir Tsamai en Motshwane, maar dit het nooit gebeur nie.

Clappen het ook gesê die munisipaliteit het hom in ’n stadium meer as R3 miljoen geskuld, maar ’n skikkingsooreenkoms is later bereik ingevolge waarvan die geld in twee paaiemente aan hom betaal is.

Tsamai en Motshwane dien nog in die raad.

Hoewel Tsamai aanvanklik beweer het sy is onskuldig en dat sy binne haar mandaat opgetree het, het sy eindelik toegegee sy het ontoepaslik opgetree. Sy het nie Dinsdag op versoeke om kommentaar gereageer nie. Luidens ’n amptelike dokument van die DA het Tsamai in ’n tugverhoor oor die omkoopbewerings erken sy het Rustenburg se munisipale bestuurder van Mei tot September 2017 herhaaldelik en op onwettige wyse geteister en onder druk geplaas om Clappen te betaal.

Tsamai het ook nie verklaar dat Clappen haar glo ’n vakansie aangebied het nie. Tsamai is gevolglik in 2018 skuldig bevind daaraan dat sy die DA se gedragskode oortree het, maar nie aan korrupsie nie.

Die DA het haar partylidmaatskap beëindig, maar dis opgeskort op voorwaarde dat sy in haar termyn as raadslid haar nie weer skuldig maak aan soortgelyke oortredings nie. Sy is ook ’n boete van R15 000 opgelê. Tsamai is beveel om as lid van die munisipaliteit se openbare rekeninge-komitee te bedank en verbied om vir die duur van haar termyn enige leierskapsposte te beklee of in partystrukture te dien. Dis nie duidelik wat met haar partylidmaatskap sal gebeur wanneer haar termyn as raadslid verstryk nie.

Joe McGluwa, DA-leier in Noordwes, het Dinsdag gesê die party verwelkom die ondersoek. “Die DA se besluite is ook onderhewig aan die raad se besluite oor optrede in reaksie op die verslag.”

Thulani Makhanya, EFF-voorsitter in die Bojanala-distrik, wat Rustenburg insluit, het Dinsdag gesê die party is bewus van die bewerings teen Mothswane, maar het gewag dat die munisipaliteit se ondersoek afgehandel is voordat hulle oor optrede besluit.

Nel sê nadat die verslag oor die ondersoek voor die raad gedien het, sal ’n komitee aangewys word wat aanbevelings sal maak oor watter stappe teen Tsamai en Motshwane gedoen gaan word.

Meer oor:  Munisipaliteit  |  Politiek  |  Raadslede  |  Omkopery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.