Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Verfballe om kese in berge te hou dalk in Kaap verbied

Die Kaapstadse metroraad is teleurgesteld oor gerugte dat die Dierebeskermingsvereniging (DBV) besluit het om nie langer verfballe as afskrikmiddel teen bobbejane toe te laat nie.

Marian Nieuwoudt, burgemeesterskomiteelid van ruimtelike beplanning en omgewing, sê die metroraad was verras om te hoor van dié besluit, veral omdat hulle nie in die besluitnemingsproses geraadpleeg is nie.

Die DBV het by navraag gesê hulle was nog altyd baie duidelik oor die regulasies.

Hulle het onlangs foto’s gekry waarop verfmerke op beseerde bobbejane sigbaar is. Dit is egter nie duidelik waar die foto’s geneem is nie.

“Die DBV sal nou inligting nagaan wat deur CapeNature aan ons gestuur is. Daarna sal gesprekke gevoer word met alle betrokkenes oor die pad vorentoe,” lui hul verklaring.

Dié soort verfbalgewere word ingespan as afskrikmiddel vir bobbejane in die Kaapstadse metrogebied. Foto: Unsplash

Die metroraad beskou die gebruik van verfballe as ’n beskaafde afskrikmiddel. Hulle gebruik dit al lank as deel van hul bestuursplan – om die bobbejane só te kondisioneer dat hulle wegbly van mense se eiendom of plekke met besige paaie.

Die DBV het sedert 2012 ook dié soort afskrikmiddel ondersteun, asook in 2019 toe die nuwe operasionele prosedure aangepas is.

Nieuwoudt sê hulle wag nou op terugvoer van die DBV.

“Stedelike gebiede is nie veilig vir bobbejane nie. Ons moet sorg dat mense én bobbejane veilig is sodat konflik vermy kan word.”

As die gebruik van verfballe heeltemal verbied word, sal dit die raad se kontrak met sy diensverskaffer beïnvloed. Dit sal dus hersien moet word sodat hulle aan die nuwe regulasies voldoen. Mense wat naby gebiede met baie bobbejane woon, sal ook ingelig moet word.

Nieuwoudt sê hulle beskou die DBV as ’n belangrike aandeelhouer ná jare se samewerking oor verskeie sake wat met die voorkoming van dieremishandeling te make het.

Meer oor:  Dbv  |  Marian Nieuwoudt  |  Kaapstad-Metro  |  Bobbejane
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.