Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Vervoerstelsel kos reeds R435 m. met ‘niks om te wys’
So sal die bushaltes lyk wat vir die Hauweng-openbare vervoerprojek orals in Bloemfontein opgerig sou word, het Olly Mlamleli, die Mangaung-metro se burgemeester, vroeër gesê.Foto: Argief

Volgens ’n verslag van die ouditeur-generaal (OG) het Mangaung reeds R435 miljoen op sy Hauweng-vervoerprojek bestee met bitter min om daarvoor te wys.

Skerp vrae word nou hieroor deur opposisie-raadslede van die metro gevra.

Adv. Tankiso Mea, die stadsbestuurder van die Mangaung-metro wie se kantoor die projek bestuur, het op skriftelike vrae van DA-raadslid Rossouw Botes erken dat sy kantoor sowat R230 miljoen van die R435 miljoen wat reeds bestee is aan Glad Africa oorbetaal het. Die DA reken dié bedrag beloop eintlik R283 miljoen.

Die omstrede ingenieursfirma Glad Africa het die tender ontvang om die openbare en geïntegreerde vervoerprojek namens die metro oor die volgende vyf jaar op te rig.

Netwerk24 het vroeër berig die maatskappy word ook by onreëlmatighede betrek rakende ’n soortgelyke multimiljoenrand-kontrak met die Tswane-munisipaliteit in Pretoria.

Volgens die OG se kantoor het die Tswane-munisipaliteit reeds R500 miljoen verloor voordat die kontrak met Glad Afrika wedersyds beëindig is.

Hoewel gebaseer in Midrand, Johannesburg, het Glad Africa ’n kantoor in Bloemfontein.

Mokgadi Kganakga, DA-raadslid van Bloemfontein, beweer in ’n verklaring dat die metro Glad Africa reeds bykans R283 miljoen vir “spookdienste” betaal het.

“Die metro het Glad Africa ’n geraamde bedrag van R282 770 371 vir konsultasie- en konstruksietariewe betaal vir projekte wat verband hou met sy geïntegreerde openbare vervoernetwerk,” sê Kganakga.

Adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder.Foto: Argief

Volgens die ouditeur-generaal se verslag, wat Netwerk24 onder oë gehad het, het die metro reeds meer as R435 miljoen aan die projek bestee.

Dié geld het hoofsaaklik aan konsultante en beplanning gegaan.

In dieselfde verslag sê die OG dat fase twee van die projek vertraag is as gevolg van die gebrek aan hulpbronne.

Volgens Kganakga is vrae aan Mea oor die projek vaag en onduidelik beantwoord.

“Ons wil weet waaraan die geld bestee is, want daar gaan omtrent nog niks aan nie.”

Hoewel Mea voorgee dat die projek onder sy bestuur val, kon hy nie die presiese datum waarop die tender aan Glad Africa toegeken is, by navraag verskaf nie, sê Kganakga.

Volgens Mea se antwoorde is Glad Africa in Julie 2015 as konsultante op die projek aangestel.

Die firma se tender is intussen tot Desember 2019 verleng.

Mea het nie Netwerk24 se herhaalde oproepe beantwoord nie.

Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester, het eweneens nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

Volgens Kganakga behoort die stadsbestuur deursigtig te wees wanneer vrae gevra word oor waaraan miljoene rande van belastingbetalers se geld bestee is.

Volgens haar wek die vaagheid agterdog.

Qondile Khedama, kommunikasiehoof van die metro, het by navraag gesê hy gaan ondersoek instel en het onderneem om binne enkele dae terugvoering te verskaf.

Meer oor:  Glad Africa  |  Bloemfontein  |  Mangaung  |  Bedrog  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.