Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
VF Plus pak Bloem se vullisprobleem

Die VF Plus in Bloemfontein het die veldtog Vullis Vrydag bekend gestel om inwoners die geleentheid te gee om hul probleme rondom vullisverwydering met Olly Mlamleli, burgemeester van Mangaung, te deel.

Armand Cloete, woordvoerder van die VF Plus, sê vullisverwydering is ’n groot probleem in die gebied en hulle word weekliks oorval met navrae en klagtes oor vullisverwyderingsdienste wat nie gelewer word nie.

“Ons wil die betalende inwoners se ongemak so aan die burgemeester oordra.”

Deur Vullis Vrydag kry inwoners die geleentheid om foto’s van hul vullis wat teen Vrydae nie verwyder is nie, aan die VF Plus te stuur. “Die party se raadslede sal dit dan elke Vrydag aan die burgemeester stuur en vra dat dit verwyder word.”

Hy sê die VF Plus gaan ook self ingryp. “Ons sal voortaan Vrydae vullis op sekere plekke self laat verwyder en die rekening aan die munisipaliteit stuur, totdat die probleem aandag kry.”

Hy sê verskeie moontlikhede is oorweeg om die ware toedrag van die vullisprobleem onder die burgemeester se aandag te bring.

“Omdat ons dit nie voor haar huis kan laat opstapel nie, is besluit om haar e-posse en WhatsApp te verlam.

Die foto’s sal ook aan adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder, gestuur word.”

Cloete sê die burgemeester het in Junie tydens die metro se verskyning voor die Vrystaatse openbare rekeningkomitee in die wetgewer bevestig 880 werknemers is by die uitgebreide program vir openbare werke aangestel om die voortslepende probleem van vullis in die stad op te los. Dit gebeur egter nie.

“Vullis lê weke lank op sypaadjies. Mense en diere skeur die sakke oop, dit is ’n onhoudbare situasie.”

Intussen neem die salarisrekening van die metro jaarliks toe, terwyl daar ’n onderbesteding op kritiese dienste is, sê hy.

Jaar ná jaar neem munisipale belasting toe, maar dienste word nie gelewer nie.

“Betalende inwoners van Mangaung verdien ’n skoon omgewing en doeltreffende vullisdienste. Die VF Plus ondersoek nog meganismes om die Mangaung-bestuur tot verantwoording te roep om die dienste te lewer.”

Cloete sê dit is die munisipaliteit se verantwoordelikheid om vullis te laat verwyder en hy moet uiteraard tot verantwoording gedwing word, maar hulle kan in die tussentyd nie toelaat dat die stad in ’n ashoop verval nie.

“Inwoners kan hul foto’s van opgehoopte vullis stuur na Elizabeth Snyman van Deventer by 082 305 1540 of Devar Smit by 084 206 3375. Dit kan ook op die VF Plus Vrystaat se Facebook-blad gedeel word.”

Meer oor:  Bloemfontein  |  Vf Plus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.