Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Virus keer nuwe Tshwane-raad

Raadslede van die Tshwane-metroraad, waaronder dié van die ANC en EFF, vrees dat hulle vir baie langer as drie maande sonder ’n salaris gaan wees nadat die ontbinding van die raad Vrydag van krag geword het.

Lebogang Maile, Gautengse LUR vir plaaslike regering.

Die besluit beteken dat alle raadslede hul poste verloor. ’n Administrateur neem die bestuur van die metro oor.

Rapport verneem om dié rede is daar van die ANC- en EFF-raadslede wat heimlik hoop die DA wen sy saak oormôre in die hooggeregshof in Pretoria.

Die DA vra die hof nie net vir die nietigverklaring van die raad se ontbinding nie, maar ook om die ANC- en EFF-raadslede te dwing om raadsvergaderings by te woon.

Die ontbinding van die raad beteken dat nuwe verkiesings binne 90 dae – teen middel Junie – in al 107 wyke gehou moet word, maar in die lig van die onsekerheid rondom die uitbreking van Covid-19, kan dit dalk baie langer duur. Boonop kan partye nie tans stemme werf nie.

Die Verkiesingskommissie (OVK) het in die lig van die pandemie al 26 tussenverkiesings wat tussen nou en Mei gehou sou word, gekanselleer omdat dit tot byeenkomste van meer as 100 mense op ’n keer kan lei. Sulke byeenkomste is onwettig kragtens regulasies wat die afgelope week in die Staatskoerant gepubliseer is.

Partye kan nie tans stemme werf nie.

Die regulasies is uitgevaardig nadat pres. Cyril Ramaphosa verlede Sondagaand ’n ramptoestand afgekondig het.

Die Nasionale Raad van Provinsies het Woensdag die besluit goedgekeur om die Tshwane-raad te ontbind.

Net die Wes-Kaap was daarteen gekant.

Die raad kon sedert Desember nog nie daarin slaag om ’n kworum te kry nie omdat die ANC en EFF die sittings geboikot het.

Die DA voer in hofstukke aan die besluit van David Makhura, Gautengse premier, en Lebogang Maile, LUR vir plaaslike regering, om die raad op 5 Maart te ontbind, was polities gemotiveer en dat nie alle ander opsies voor dié drastiese stap oorweeg is nie.

Alle politieke partye in die raad sowel as alle ANC- en EFF-lede word as respondente gelys.

Randall Williams, DA-burgemeesterskandidaat, sê dit is omdat die DA beoog om ’n interdik te kry om hulle te dwing om raadsvergaderings by te woon, sou die hofaansoek slaag.

“As ons ’n interdik wil vra, moet ons hulle elkeen as respondent by die saak lys. Slaag die aansoek, sal die raad so gou moontlik in drie vertrekke vergader.

“So dit is dieselfde vergadering, maar mense sit in drie verskillende plekke en verskillende soorte tegnologie word ingespan.

“Een van die eerste take sal wees om ’n stadsbestuurder aan te stel, sonder wie die stad se werksaamhede nie kan voortgaan nie,” sê Williams.

Dr. Kgosi Maepa, ANC-voorsitter in Tshwane, het Vrydag gesê die ANC-raadslede word deur die party ontplooi en enigiemand wat ontevrede is, weet hoe werk die grieweproses.

Moafrika Mabogoane, EFF-koukusleier, sê huidige EFF-raadslede is nie noodwendig hul posisie op die partylyste gewaarborg nie.

Hulle word deur die EFF ontplooi en dié party kan die lyste wysig.

Voormalige EFF-raadslede sit wel met ’n potensiële probleem – die party het hulle onlangs gedwing om bakkies te koop vir werwingswerk in die wyke.

Toe Rapport wou weet of hulle nou bang is dat hulle nie meer die paaiemente sal kan betaal nie aangesien hulle nie meer ’n inkomste het nie, wou een raadslid weet waarom Rapport aanvaar “die bakkies is op skuld gekoop”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.