Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Vonke spat in Mangaung oor metropolisie se verslag

Die vonke het vir twee uur lank gespat oor “’n opgeblaasde” en “omstrede” vorderingsverslag oor die Mangaung-metropolisie van sowat R253 miljoen wat die ANC-beheerde raad oor die volgende vyf jaar in Bloemfontein tot stand wil bring.

Dit sluit in ’n adjunkhoof, senior offisiere, bykomende assistente en sekretaresses terwyl ook voorsiening gemaak word vir range en wapens en die oprigting van ’n munisipale hof.

Brig. Israel Kgamanyane, wat aangestel is as Mangaung se metropolisiehoof. Foto: Argief

Intussen sit brig. Ketsebae Kgamanyane, wat al in 2017 as die metropolisiehoof aangestel is, nog sonder ’n polisiemag.

Netwerk 24 het al in November 2017 berig dat Kgamanyane voorheen deur die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) ondersoek is.

Kgamanyane verdien die afgelope vier jaar in die pos as metropolisiehoof ’n salaris van tussen R1,3 miljoen en R1,8 miljoen per jaar.

Intussen is ’n Casspir-voertuig ten duurste teen ’n beweerde “opgeblaasde prys” vir die polisiemag deur die metro se middelman, Mothebe Wheels, aangekoop.

Dirk Kotzé Foto: Argief

Opposisieraadslede het op die begrotingsvergadering Woensdagaand gesê die metropolisie is onbekostigbaar.

Sam Mashinini, Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, het ’n voordrag oor die oprigting van die polisiemag gelewer en die raad gesoebat om die polisiemag se uitbreiding goed te keur.

“Geen bykomende poste sal geskep word nie.”

Hy sê dit is nou agt jaar dat gepraat word oor die stigting van die polisiemag.

Boonop kan die metro die mag volgens Themeni (Skully) Nxangisa, LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake, bekostig, sê hy.

Dr. Elizabeth Snyman van Deventer, raadslid van die VF Plus, wou weet hoe die LUR wat die metro onder administrasie geplaas het, nou kan sê dat die metro dit kan bekostig.

Dirk Kotzé, DA-raadslid, sê in Mangaung word inwoners toenemend slagoffers van misdaad soos roekelose en nalatige bestuur, skade aan munisipale infrastruktuur, en moord en verkragting van vroue en kinders.

Die metro het al die hulp moontlik nodig, maar die regte dinge moet van die begin af reg gedoen word.

Hy sê in die verslag word gevra om die openbare veiligheidsafdeling na die metropolisiemag oor te skuif.

Hy sê die stigting van ’n metropolisiemag is in 2012 na die raad gebring en die hoof is in 2017 reeds aangestel.

Sam Mashinini, LUR vir polisie. Foto: Argief

“Nou, vier jaar later, ontvang ons ’n onvolledige sakeplan wat aan Mashinini voorgelê en deur hom goedgekeur is.”

Kotzé sê as die stadsbestuurder die sakeplan aan ’n bankbestuurder of die uitvoerende hoof van ’n private instelling voorgelê het, sou dit in die snippermandjie beland het.

Hy het ook vrae gehad oor ’n geskatte inkomste vir die metropolisiemag uit verkeersboetes van R23 miljoen vir die 2020-’21-boekjaar en R60 miljoen vir die 2023-’24-boekjaar. Hy meen dat dit onrealisties is, veral nadat die ANC in die raad in Januarie R18 miljoen se inkomste uit verkeersboetes vir drie jaar moes afskryf omdat dit nie ingesamel is nie.

Kotzé sê in die verslag word foto’s gewys van wapens en range aan senior amptenare, maar nie gesê hoe dit die sakeplan raak nie.

Dr. Elizabeth Snyman van Deventer Foto: Argief

Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester, het vroeër gesê dat 600 wetstoepassingsbeamptes teen einde 2019 vir die polisiemag aangestel sou wees.

“’n Klomp nuwe senior en assistentposte is geskep, maar ons het slegs 117 wetstoepassingsbeamptes.

“Ons wil weet of die senior beamptes en assistente die strate van Mangaung gaan patrolleer.”

Hy het ook vrae gehad oor 19 poste vir nuwe senior beamptes sonder posbeskrywings op die metropolisiemag se organogram.

Kotzé sê die DA sien net hoe nog ’n deur vir kaderontplooiing oopgemaak word.

Hy sê die verslag oor die metropolisie is in November 2019 goedgekeur en in Maart 2020 in die Staatskoerant afgekondig.

In die verslag word gesê dat ’n munisipale hof ook op die been gebring gaan word.

Hy sê die metropolisiemag moet na die veiligheid van gemeenskappe omsien en is nie daar om leë kantore met ANC-kaders te vul nie.

“Mense se lewe is hier op die spel,” sê Kotzé.

• Snyman van Deventer het in ’n verklaring gesê die VF Plus is in beginsel nie teen die metropolisie nie, maar waarsku dat dit nie prioriteit bo dienslewering behoort te geniet nie.

“Nxangisa is nie eerlik as hy sê dat die metro die metropolisieprojek sal kan finansier nie. Die 2020-’21-begroting is reeds 80% deur toelae befonds.”

Meer oor:  Metropolisie  |  Mangaung
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.