Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Vonke spat oor afbrand van Bloem se stadsaal

Die vonke het Dinsdag behoorlik  op ’n Mangaung-metroraadsvergadering gespat tussen raadslede van verskillende politieke partye oor die afbrand van die Bloemfonteinse stadsaal.

Olly Mlamleli, Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake Foto: Foto24

Dulandi Leech, DA-raadslid het die uitvoerende burgemeester, Olly Mlamleli, ingeklim en gesê: “Die wyse waarop die burgemeester die staking en die waterkrisis hanteer het, sowel as haar termyn as burgemeester, wys dat sy nie bevoeg vir die amp is nie. Jy het dalk nie die vuur self aangesteek het nie, maar dit is duidelik dat die ramp voorkom kon gewees het as jy die saak anders hanteer het. Jy sal altyd in die geskiedenisboeke onthou word as die burgemeester verantwoordelik vir die afbrand van die stadsaal.”

Leech het gesê: “Dit is met ontsaglike hartseer dat die raad vergader. Die donker wolk van droewigheid lê steeds vars en duidelik in ons harte waar ons simbool van eenheid verwoes is.”

Sy het gesê die hele Mangaung treur. Daar is eenvoudig goed wat vir altyd verlore is.

“Die DA is van mening die geweld en disrespek kon vermy gewees het. Vorige pogings en dreigemente om die stadsaal te verwoes, moes rooi ligte laat flikker het.

“Die DA sal jou verantwoordelik hou en sal met die nodige prosesse begin, wat wetgewende vrae insluit, amptelike klagte en mosies,” het sy vir Mlamleli gewaarsku.

Dit is met ontsaglike hartseer dat die raad vergader. Die donker wolk van droewigheid lê steeds vars en duidelik in ons harte waar ons simbool van eenheid verwoes is.

Mlamleli het hierop gesê sy is nie seker of die stadsaal as ’n simbool van eenheid bestempel kan word nie, want ná 1994 het die wittes dit nie meer gebruik nie. “Daar is die lieflikste tuine, maar hulle het gekies om liewers in hul eie erwe te ontspan.”

Maryke Davies, ook ’n DA-raadslid, het gesê die verslag oor die Samwu-staking “bewe van die leuens”.

Sy het gesê dit was oor “nalatigheid van die mense in beheer” wat daartoe gelei het dat die stadsaal afgebrand het.

David Pongola, ANC-raadslid het van alles ’n grap probeer maak en gesê: “Ek het vir raadslid ‘Leechie’ die aand uit die gebou sien kom toe dit afgebrand het.”

Pongola het later geskerts dat hy ook vir raadslid Baba Sebolao van die EFF daar sien uitkom het.

EFF-raadslede het heeltyd plakkate voor hul koppe gehou waarop geskryf was: “Olly is responsible for the burning of the city hall én Mangaung has never been so dirty, courtesy of ANC councillors.”

Tsholo Ratichobe van die EFF het gesê: “Olly moet gaan.”

Hy het gesê daar is kwessies van die werknemers wat sy nie in haar verslag vermeld nie. “Olly het heeltyd tydens die staking oor die radio gelieg en gemaak of die staking verby is toe dit nog nie was nie. ’n Komitee moet saamgestel word wat na die werkers omsien.”

Olly het heeltyd tydens die staking oor die radio gelieg en gemaak of die staking verby is toe dit nog nie was nie.

Lulama Titi-Odili, raadslid van die ANC, het gesê Mlamleli is bekwaam. “Die ANC stel net bekwame leiers aan. Ons uitvoerende burgemeester is baie toegewyd. “Onderhandelings met die stakers by die plaaslike arbeidsforum is gevoer deur raadslede waarvoor julle gestem het. Mlamleli het ook baie gedoen om die probleem opgelos te kry. Samwu-werkers maak allerlei bewerings oor nepotisme, maar kan dit nie bewys nie.”

Die EFF het gesê hulle wil ’n mosie van wantroue in die burgemeester instel.

Rossouw Botes, DA-raadslid, wou weet waar die geld vandaan gaan kom om vir die stakers se verhogings te betaal, waarop Mxolisi Siyonzana, die speaker (ANC) gesê het ’n aanvullende begroting sal opgestel word.

DA lê blomme by afgebrande stadsaal

DA-raadslede het na die Mangaung-metro se raadsvergadering Dinsdag pers blomme as simbool van rou en wit angeliere as simbool van hoop by die afgebrande Bloemfonteinse stadsaal gaan lê.

Dié stadsaal is verlede Woensdag deur stakende Samwu-stakers aan die brand gesteek.

Tjaart van der Walt, DA-raadslid, het by die blomlegging, gesê hoewel dit volgens ingeligtes meer as R200 miljoen kan kos om die stadsaal weer oor te bou, die materiële skade steeds op die agtergrond is wanneer dit kom by die enorme verlies aan herinnerings oor die wonderlike gebeurtenisse wat hier plaasgevind het.

Die Bloemfonteinse stadsaal het ’n ryke erfenis van geskiedkundige gebeure vir die meeste van sy inwoners.

Hy het gesê: “Die ruïnes van die stadsaal is simbolies van die uitvoerende bestuur van die metro wat met hul gulsigheid, argloosheid en egoïsme op ’n selfvernietigende pad is.

“Die uitvoerende bestuur van die metro sien hulle self nie as diensleweraars van inwoners van die metro nie. Maar die inwoners van die stad gaan nie stilbly nie. Ons gaan nie toelaat dat ons verlede en toekoms vernietig word deur gulsigheid en politieke gevegte om die beursie van die munisipaliteit nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.