Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Vrae oor duur sportsentrum vir Bfn

Skerp vrae word gevra oor die Vrystaatse provinsiale regering wat nou die vierde jaar agtereenvolgens gevra word om ’n bydrae van R10 miljoen te maak vir die bou van ’n nasionale hoëvlak-sportsentrum terwyl dit nie gebou word nie.

James Letuka, DA-wetgewerlid in die Vrystaat, sê dit is vanjaar die vierde jaar dat die nasionale departement van sport, kuns, kultuur en ontspanning elke provinsiale departement in die land opdrag gegee het om R10 miljoen van hul jaarlikse begroting by te dra vir die oprigting van die Nasionale Opleidings- en Olimpiese Voorbereiding-sportsentrum in Bloemfontein.

James Letuka, DA-wetgewerlid, wil weet waar is die multimiljoenrandse nasionale sportsentrum in Bloemfontein.Foto: Marietjie Gericke

Letuka sê Fikile Mbalula was die nasionale minister van sport, kuns, kultuur en ontspanning toe die projek begin is. Bloemfontein is ook sy tuisstad.

“Vier jaar nadat die oorspronklike voorstel ingedien is, is daar nog net stof te sien van die belegging omdat die nasionale departement slegs die amptelike sooispit-geleentheid vir die projek op 10 November 2018 bygewoon het.”

Letuka sê tot op datum is reeds R30 miljoen van elk van die nege provinsies gevat vir die oprigting van die sentrum. Daar lê dus nou R205 miljoen by die nasionale regering.

Daar is geen kommunikasie oor die beplanning nie, geen konkrete gerief, geen verantwoordbaarheid of dringendheid of geen bewyse van navorsing oor die behoeftes van die sportlui nie.

Letuka sê die DA het in die Vrystaatse wetgewer en in die parlement via die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) verskeie vrae oor die saak gevra.

Dit is aan Makhi Mahasa, Vrystaatse LUR vir sport, kuns, kultuur en ontspanning, asook die minister van die portefeulje, Nathi Mthethwa, gekommunikeer.

Mahasa het op ’n vraag oor wanneer die eiendom vir die ontwikkeling oorgedra is, gesê: “Ons wag steeds vir die nasionale departement van openbare werke om te bevestig dat die oordrag of uitruiling van die grond afgehandel is.”

Letuka sê dit is interessant dat Patricia de Lille, die nasionale minister van openbare werke en infrastruktuur, ontken het dat so ’n oordrag van grond bestaan toe die DA haar hieroor gevra het.

Sy het ook gesê daar is geen eiendom wat tussen die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) en die departement van openbare werke en infrastruktuur uitgeruil is vir die bou van die sentrum nie.

Letuka sê R22 miljoen is reeds op voorafbeplanning en ontwerpe vir die projek uitgegee, maar niks kan nog gewys word nie.

Hy het gesê dit hou die risiko van ’n volgende Ramkraal-skandaal vir die Vrystaat in.

Vanweë die Vrystaat se sentrale ligging is dit die beste vir so ’n sentrum geposisioneer.

Dit kan werkgeleenthede aan Vrystaters bied, en kan ook dien as voorbereidingsgerief vir hoëvlakprestasie vir sportlui van verskillende sportkodes.

Letuka sê dit is hoog tyd dat die Vrystaat voorkeur by die regering kry vir ekonomiese ontwikkeling.

Tankiso Zola, direkteur van kommunikasie van die Vrystaatse departement van sport, kuns, kultuur en ontspanning, is twee keer gebel vir kommentaar, maar het nie sy telefoon beantwoord nie.

Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, het gesê sy moet haarself op hoogte bring van die projek en sal later kommentaar lewer.

Meer oor:  James Letuka  |  Bloemfontein  |  Sportsentrum  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.