Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Vrystaat-dorpe kry 50% water ná ooreenkoms

Al nege Suid-Vrystaatse dorpe het nou 50% water nadat ’n ooreenkoms tussen die Kopanong-munisipaliteit (Suid-Vrystaatse dorpe) en Bloemwater, die waterraad van die departement waterwese en sanitasie, Vrydag bereik is.

Dit volg nadat Bloemwater die waterlewering na die nege dorpe op 1 September na slegs 30% verminder het weens wanbetaling van die Kopanong-munisipaliteit, wat Bloemwater R450 miljoen skuld.

Die Kopanong-munisipaliteit moet dienste aan Reddersburg, Edenburg, Trompsburg, Bethulie, Springfontein, Philippolis, Gariepdamdorp, Fauresmith en Jagersfontein lewer.

Sisi Ntombela, die Vrystaatse premier, is deur Bloemwater ingelig dat waterlewering na die Kopanong-munisipaliteit se nege dorpe en die Mangaung-metro verminder gaan word, vier dae voordat dit gebeur het. Dit is volgens ’n afskrif van ’n prokureursbrief. Foto: Tladi Moloi

Die meeste van die inwoners en sakeondernemings in die dorpe het aan Netwerk24 gesê dat hulle van Dinsdag tot Vrydag sonder ’n druppel water was weens die lae waterdruk.

Die Kopanong-munisipaliteit het Vrydag ’n hofaansoek gebring waarin gevra word dat Bloemwater die waterlewering na die nege dorpe sal herstel en die munisipaliteit die kans gee om te kan onderhandel oor ’n afbetalingsplan vir sy waterskuld.

Bernard Phitsane, voorsitter van die raad van Bloemwater, wat vandeesweek aan Netwerk24 gesê het dat Bloemwater besig is om in duie te stort omdat munisipaliteite nie betaal nie. Foto: Argief

Die saak sou in die hooggeregshof in Bloemfontein aangehoor word, maar is toe in kamers van die hof gehou waar ’n ooreenkoms tussen die partye bereik is.

As deel van die ooreenkoms het die Kopanong-munisipaliteit dadelik R500 000 aan Bloemwater oorbetaal en ooreengekom oor bedrae wat teen sekere sperdatums betaal sal word.

Qondile Khedama, woordvoerder van die Mangaung-metro, sê Bloemwater en die metro kon ’n ooreenkoms bereik oor afbetaling, waarna die waterinperkings opgehef is. Foto: Argief

R200 000 moet op 5 Oktober betaal word en R5 miljoen op 5 Desember.

Die partye se finansiële hoofde sal Maandag vergader om oor ’n afbetalingsplan te praat.

Bloemwater het op 28 Augustus ’n brief aan die Vrystaatse premier, Sisi Ntombela, gerig om haar in te lig dat waterlewering aan die Kopanong-munisipaliteit en die Mangaung-metro verminder gaan word weens wanbetaling.

Intussen kon ’n ooreenkoms ook tussen Bloemwater en die Mangaung-metro oor die jongste watervermindering bereik word, het Qondile Khedama, woordvoerder van die metro, in ’n nuusverklaring gesê.

Bernard Phitsane, voorsitter van Bloemwater se raad, het onlangs gesê die metro skuld Bloemwater R1,2 miljard en dat Bloemwater op sy knieë is omdat Vrystaatse munisipaliteite hom nie betaal nie.

Meer oor:  Kopanong-Munisipaliteit  |  Bloemwater  |  Vrystaat  |  Watertekort  |  Waterkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.