Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Vrystaatse munisipaliteite ‘oor skuldafgrond’

Vrystaatse munisipaliteite is oor die skuldafgrond met debiteureskuld van ’n astronomiese R19,38 miljard, wat verhoog het van verlede jaar se R15,72 miljard.

Die meeste hiervan word aan grootmaat-diensverskaffers soos Eskom (R9,8 miljard) en waterrade (R3,8 miljard) geskuld.

Dié inligting blyk uit ’n verdoemende verslag van die Vrystaatse provinsiale tesourie wat die LUR vir finansies, Gadija Brown, Dinsdag aan lede van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) op ’n oorsigbesoek in Bloemfontein voorgehou het.

George MichalakisFoto: Argief

Luidens die verslag skuld die grootste ekonomiese sentrums in die Vrystaat, die Mangaung-metro (R6,1 miljard) en Matjhabeng (R3,3 miljard) saam R9,4 miljard hiervan.

Staatsdepartemente en regeringsinstansies is vir 11,3% van dié skuld (R2,03 miljard) verantwoordelik.

George Michalakis, DA-LP en lid van die NRP, het gesê die provinsiale tesourie het erken dat die provinsiale departement van openbare werke nie sy skuld aan munisipaliteite kan betaal nie.

Brown het gereageer dat die departement wel sy huidige skuld aan Vrystaatse munisipaliteite intussen betaal het en reeds 65% van die agterstallige bedrae afgelos het.

Sy het gesê daar word hard gewerk om die department se skuld aan munisipaliteite uit te wis.

Roy Jankielsohn, DA-LW, het op die inligtingsvergadering aan die NRP gesê die Vrystaatse munisipaliteite is nie ’n skip wat besig is om te sink nie, dit het klaar gesink.

Michalakis het gesê Vrystaatse munisipaliteite het geen reddingsboei meer nie en stort net in duie.

“Slegs drie van dié reddelose munisipaliteite, die Mangaung-metro (Bloemfontein), Kopanong (Suid-Vrystaat) en Mantsopa (Ladybrand), skuld Bloemwater gesamentlik R762 miljoen.”

Michalakis het gesê Vrystaatse munisipaliteite het almal finansieel ingeplof en dit gaan jare neem om die ANC se gemors reg te ruk. Intussen wag inwoners vergeefs op basiese dienste wat nie gelewer kan word nie omdat die munisipaliteite geldelik geruïneer is.

Michalakis het gesê ses Vrystaatse munisipaliteite het verslag gedoen dat hul kontantbalans in die bank minder as R10 000 bedra, wat beteken dat hulle nie volhoubaar kan wees nie en die gevaar loop om nie salarisse en krediteure te kan betaal nie.

Die ses is Mohokare (Smithfield), Xariep (die Suid-Vrystaatse distriksmunisipaliteit), Masilonyana (Winburg), Setsoto (Ficksburg), Dihlabeng (Bethlehem) en die Thabo Mofutsanyana-distriksmunisipaliteit (Harrismith en Witsieshoek).

Mohokare, Masilonyana, Tokologo, Matjhabeng, Setsoto, Nketoana, Maluti-a-Phofung (Qwaqwa), Phumelela (Vrede), Ngwathe (Parys) en Mafube (Villiers) het ’n invorderingskoers van onder 50%.

* Michalakis het ook verwys na die Mangaung-metro se waterskuld aan Bloemwater.

Hy het gesê in die voordrag van die provinsiale tesourie word erken dat die huidige waterkrisis die gevolg daarvan is dat die metro nie gehou het by ’n vroeëre afbetalings-ooreenkoms nie.

Bloemwater het hom bereid verklaar om R112 miljoen se rente wat die metro skuld, af te skryf.

Bloemwater is later, luidens die voorlegging “na die hoofkwartier van die ANC genooi in ’n poging om ’n mediasiegesprek tussen die twee partye aan die gang te kry”.

Michalakis het gesê dit wys duidelik hoe vaag die skeidslyn geword het tussen die party en die staat en dat Ace Magashule, vorige premier, steeds die toutjies trek met katastrofiese gevolge vir inwoners.

Dr. Limakatso Moroosi, uitvoerende hoof van Bloemwater, het gesê Bloemwater kry geen staatsubsidie nie en kan nie aan sy mandaat voldoen as munisipaliteite hom nie betaal nie.

Ockie Stadler, Bloemwater se finansiële hoof, het gesê die waterraad kan weens die reuse-skuld nie meer sy groot projekte uitvoer om waterinfrastruktuur uit te brei nie.

Armand Cloete, VF Plus-LP in die NRP, het in ’n verklaring gesê uit verskillende voorleggings het dit duidelik geblyk dat politieke inmenging deur die ANC die provinsie verlam.

“Die ANC wil nie en kan nie die moeilike besluite neem om van korrupte en ongekwalifiseerde amptenare ontslae te raak nie. In baie gevalle is dié amptenare hiërargies hoog op in die ANC se leierskap en word daar nie teen hulle opgetree nie.”

Elke vlak waarin die ANC in die provinsie regeer, skuld ’n ander vlak geld. Terwyl Eskom ’n reddingsboei nodig het, skuld Vrystaatse munisipaliteite die elektrisiteitsverskaffer alleen R1,9 miljard.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.