
Inwoners van oor die Vrystaat heen het aan die optog in Bloemfontein deelgeneem weens griewe oor waterprobleme.Foto: Marita Herselman
Vrystaatse inwoners wat daagliks met waterprobleme worstel, het van oor die provinsie heen gekom om saam met die DA ’n griefskrif oor hul stryd by die premierskantoor in Bloemfontein in te dien.
Patricia Kopane, die DA se premierskandidaat in die Vrystaat, het die optog van meestal vroue vanaf Hoffmanplein tot by die premierskantoor gelei.
Van die optoggangers het met leë emmers en waterbottels geloop om hul stryd te simboliseer.
Plakkate het gelui: “25 jaar en steeds geen water nie.”
“Die premier moet dringend ingryp waar Vrystaatse munisipaliteite waterrade meer as R3 miljard skuld,” het Kopane Donderdag tydens die optog gesê.
Dr. Roy Jankielsohn, leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, Nomsa Marchesi, die DA se woordvoerder oor basiese onderwys, en ander raadslede en aktiviste van die party het ook aan die optog deelgeneem.

Patricia Kopane (voor met die emmer), die DA se premierskandidaat in die Vrystaat, het die optog gelei. Onder die optoggangers was ook Nomsa Marchesi (met die krukke), die DA se woordvoerder oor basiese onderwys, en dr. Roy Jankielsohn (agter Kopane met die hoed), leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer. Foto: Marita Herselman
“Die DA en die inwoners eis nou dat die premier en die mislukte ANC-regering dringend gehoor gee aan art. 27 van die Grondwet. Dit stipuleer almal het die reg om toegang tot voldoende kos en water te hê,” sê Kopane.
Volgens Kopane gaan die munisipaliteite van Matjhabeng, Maluti-a-Phofung, Nala en Mangaung onder die ergste waterprobleme gebuk.
Ook inwoners van onder meer Brandfort, Dealesville, Zastron, Excelsior en Bothaville het aan die optog deelgeneem.
“Ons soek water, ons sukkel al baie, baie jare. Die dreine stink in die informele nedersetting. Ons loop ver, tot in die dorp, vir water. Ons gaan vra water by die plase,” sê Lydia Leepile van die township Mountain View in Brandfort.
Martha Brandt van die township Dikgalaope sê ook hulle loop ver om water aan te dra. “Daar is nie water nie, ons moet asseblief hulp kry.”
Marchesi, ook ’n kiesafdelingshoof in die Xhariep-distrik, het op krukke aan die optog deelgeneem. “Daar is geen water in die distrik nie. En dit is nie omdat dit nie reën nie, ons weet dit het gereën,” sê sy.

Die optoggangers het vanaf Hoffmanplein tot by die premierskantoor in Bloemfontein geloop om ’n griefskrif oor waterprobleme te oorhandig.Foto: Marita Herselman
Sy sê Xhariep se infrastruktuur is oud en word nie in stand gehou nie.
Kopane sê munisipaliteite kan nie volhoubaar water voorsien nie omdat hulle nie oor die tegniese vaardighede beskik nie.
“Die munisipale infrastruktuurtoelae wat die waterinfrastruktuur in stand moet hou, word weens korrupsie nie vir instandhouding aangewend nie,” sê sy.
Thuso Ramaema, adjunk-direkteur-generaal in die Vrystaatse premierskantoor, het die memorandum ontvang.
Hy sê die premierskantoor sal die memorandum bestudeer en besluit wat gedoen moet word.
Ramaema sê daar moet egter onthou word sommige munisipaliteite is in dié situasie weens ’n probleem met die invordering van betalings vir munisipale dienste.

Nomthandazo Patroon, DA-aktivis. Foto: Marita Herselman

Thuso Ramaema, adjunk-direkteur-generaal in die Vrystaatse premierskantoor, het die memorandum ontvang.Foto: Marita Herselman