Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
W-Kaapse munisipaliteite gehelp om oudits te verbeter

Die Wes-Kaap het al ’n lang pad gestap sedert hy in 2009 geen skoon oudits ontvang het nie en spog steeds met 25 uit 30 munisipaliteite met ongekwalifiseerde oudits, sê Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering.

Bredell het Vrydag die jongste ouditverslag van die ouditeur-generaal (OG) vir die boekjaar 2017-’18 verwelkom en beklemtoon dat 12 munisipaliteite skoon oudits ontvang het.

Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering.

In die vorige boekjaar het 21 munisipaliteite egter ongekwalifiseerde oudits sonder bevindings ontvang en nege munisipaliteite se ouditmenings het dus in 2017-’18 verswak.

Dit sluit in Drakenstein, George, Langeberg, Mosselbaai, Prins Albert, Saldanhabaai, Stellenbosch, Swartland en Theewaterskloof wat nie in vandeesweek se ouditverslag skoon oudits gehad het nie.

Volgens Bredell sukkel rade toenemend met erge finansiële beperkings weens die land se ekonomiese uitdagings.

“Ten spyte van dié omstandighede, het ons kennis geneem dat die OG nie bevind het dat ’n enkele munisipaliteit in die provinsie ’n sent aan Eskom in die boekjaar geskuld het nie en slegs een raad as finansieel kwesbaar beskou word.”

Kimi Makwetu, ouditeur-generaal (OG). Foto: Lisa Hnatowicz

Bredell sê die provinsiale regering is ook bewus van “die paar gebiede” waar agteruitgang gevind is en sal die probleemgebiede regstel.

Hy sê die verskil tussen ’n skoon oudit en ’n ongekwalifiseerde oudit met bevindings is dikwels ’n “tegniese kwessie” wat toegeskryf kan word aan die laat indiening van dokumente of die klassifikasie van transaksie wat foute bevat of onvoltooid is.

“Dit was ook die eerste jaar dat die rade nuwe maatreëls vir voldoening aan wetgewing moes nakom, wat met uitdagings gepaardgegaan het.”

Die provinsiale departement van plaaslike regering werk aan ondersteuningsplanne vir elke munisipaliteit vir die uitdagings wat hulle ervaar, onder meer ten opsigte van ouditmenings.

Verder bied die provinsiale tesourie bystand aan munisipaliteite om oudit-aksieplanne saam te stel om ouditmenings te verbeter.

In 2017-’18 het die persentasie ongekwalifiseerde finansiële oudits gedaal tot 89%, teenoor 93% in die vorige boekjaar.

Die persentasie munisipaliteite met geen bevindings op hul prestasieverslae het ook gedaal tot 86% – teenoor 89% in 2016-’17.

Munisipaliteite met geen bevindings oor die nakoming van wetgewing het afgeneem tot 43% nadat dit die vorige boekjaar nog op 79% gestaan het.

Met skoon oudits is die finansiële verslae van munisipaliteite vry van beslissende wanvoorstellings en is daar geen bevindings oor die verslagdoening oor doelwitte wat bereik is of nievoldoening aan wetgewing nie.

Daarby het onreëlmatige besteding by Wes-Kaapse munisipaliteite R666 miljoen beloop – ’n aansienlike styging van die R165 miljoen in 2016-’17.

Dit kom neer op 3% van die totale munisipale besteding en 1% van die provinsiale begroting vir plaaslike regering.

Ongemagtigde besteding het R243 miljoen beloop en kom neer op 2% van besteding of minder as 1% van die provinsiale begroting vir plaaslike regering.

Die OG noem ook dat verkwiste en vrugtelose uitgawes in 2017-’18 slegs R3 miljoen beloop het.

Die 12 munisipaliteite wat skoon oudits ontvang het, is die Weskus-distrik, die Kaapse Wynlande-distrik, die Overberg-distrik, Bergrivier, Breedevallei, Kaap Agulhas, Cederberg, Hessekwa, Matzikama, Overstrand, Swellendam en Witzenberg.

Die Kaapstad-metro, Sentraal Karoo-distrik, Tuinroete-distrik, Bitou, Drakenstein, Knysna, Langeberg, Mosselbaai, Prins Albert, Saldanhabaai, Stellenbosch, Swartland en Theewaterskloof het ongekwalifiseerde oudits met bevindings ontvang.

Beaufort-Wes, Oudtshoorn en George het gekwalifiseerde oudits met bevindings, terwyl die ouditmenings vir Laingsburg en Kannaland nog uitstaande is weens verslae wat nie ontvang is nie.

Met skoon oudits is die finansiële verslae van munisipaliteite vry van beslissende wanvoorstellings en is daar geen bevindings oor die verslagdoening oor doelwitte wat bereik is of nievoldoening aan wetgewing nie.

Volgens die OG was daar ’n aansienlike agteruitgang in die ouditmenings in die Wes-Kaap en is ’n verslapping in kontrole by sekere munisipaliteite opgemerk.

Met ongekwalifiseerde oudits kan daar bevindings wees oor die doelwitte waaroor daar verslag gedoen word en nievoldoening aan wetgewing.

Gekwalifiseerde oudits behels dat beslissende wanvoorstellings of foute in die finansiële verslae voorkom of dat daar onvoldoende bewyse is om te bevind dat die bedrae in dié verslae nie verdraai of verkeerd aangedui is nie.

Die meeste munisipaliteite (86%) in die provinsie het ’n goeie assessering van hul finansiële toestand ontvang, terwyl daar kommer oor Cederberg, Matzikama en Saldanhabaai se finansies is.

In Beaufort-Wes is beduidende negatiewe tekens vir die finansiële welstand gevind en word dit as kwesbaar beskou omdat die laste die bates oorskry en ’n hoë persentasie van skuld afgeskryf word.

Kaapstad en Beaufort-Wes is die enigste munisipaliteite in Wes-Kaap waar ouditmenings toegeskryf word aan “onvoldoende nagevolge vir swak prestasie en oortredings”.

In Kaapstad het onreëlmatige besteding R236 miljoen in 2017-’18 beloop, teenoor R47 miljoen in die vorige boekjaar.

Beaufort-Wes het ook onreëlmatige besteding van R52,2 miljoen aangegaan, die Tuinroete-distrik R56,8 miljoen en Cederberg R51,2 miljoen.

Volgens die OG was daar ’n aansienlike agteruitgang in die ouditmenings in die Wes-Kaap en is ’n verslapping in kontrole by sekere munisipaliteite opgemerk.

Nievoldoening aan wetgewing en regulasies was die hoofoorsaak van ongunstige ouditmenings in die provinsie en hou verband met verkryging, die voorkoming van onreëlmatige besteding en die versuim om finansiële verslae sonder beslissende wanvoorstellings te verskaf.

Volgens die OG het interne beheer by munisipaliteite in die geheel afgeneem en word dit toegeskryf aan ’n verswakking van verantwoordbaarheid in die leierskapkultuur, trae reaksie om aanbevelings toe te pas en onvoldoende kontrole om seker te maak dat wette en regulasies nagekom word.

  • Die OG se provinsiale oorsig van die oudits van munisipaliteite vir die boekjaar 2017-’18 kan HIER gelees word.
Grafika24
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.