Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Wagte ‘bevoel en bevat’ mense in Tswaing
06 September 2018

Veiligheidswagte deursoek mense wat munisipale geboue in Sannieshof en Delareyville besoek glo met die hand, al is dit onwettig.

Volgens Soret Viljoen, DA-raadslid in die Tswaing-munisipaliteit, wat die gebied bedien, sê mense het by haar kom kla oor die deursoekings wat selfs by biblioteke gedoen word. “Mense is buite bevoel en bevat. My hart wou gaan staan. Die vroue was ontsettend kwaad hieroor.”

Volgens Viljoen het haar klagtes hieroor by die munisipale hoof van veiligheid en sekuriteit en die munisipale bestuurder op dowe ore geval. “Isaac Moruti, die munisipale bestuurder, weet hiervan en laat toe dat dit voortgaan.”

Viljoen het Fenny Gaolaolwe, LUR vir plaaslike regering in Noordwes, nou gevra om in te gryp. “Dis ingevolge die Strafproseswet onwettig dat ’n veiligheidswag sulke deursoekings doen, al vermoed hy of sy iemand is skuldig aan ’n misdryf. Net ’n polisiebeampte mag sulke deursoekings doen.”

Volgens Viljoen het die DA betroubaar verneem die Tswaing-munisipaliteit lei sy veiligheidswagte glo self op om mense te deursoek.

“Ons veroordeel dit ten sterkste. Die publiek kan nie proefkonyne vir opleiding wees wanneer dit nie in ooreenstemming is met Suid-Afrikaanse wetgewing en reëls nie. ’n Veiligheidswag mag mense slegs deursoek as hy jou in hegtenis neem, of met jou toestemming.”

Viljoen sê die onwettige deursoekings kan Tswaing miljoene kos as mense siviele eise daaroor gaan begin instel. “Die munisipaliteit behoort eerder ’n masjien aan te skaf wat mense skandeer en dit by die ingang van die munisipale gebou sit. Dan sal dit nie nodig wees om mense deur te soek nie.”

Die opleiding van veiligheidswagte is blykbaar intussen vir twee weke gestaak, maar die munisipaliteit is volgens Viljoen geheimsinnig oor of hulle mense weer sal deursoek. “Die deursoekings is ook ’n skending van mense se grondwetlike reg op privaatheid.”

Moruti het nie Dinsdag sy selfoon of e-pos beantwoord of op boodskappe gereageer nie.

Meer oor:  Delareyville  |  Sannieshof  |  Veiligheidswagte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.