Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Water: Geen verligting oor Kerstyd vir Graaff-Reinet

Inwoners van Graaff-Reinet se Kerswenslys sal waarskynlik vanjaar kort wees met net ’n enkele versoek: Water in hul krane.

Inwoners van dié Oos-Kaapse Karoodorp ervaar sedert vroeg vanjaar probleme met hul watertoevoer nadat die Nqwebadam, die dorp se waterbron, opgedroog het.

Die Dr. Beyers Naudé-munisipaliteit se 30 boorgate het verligting vir die inwoners gebring, maar die krane in die hoogliggende dele van die dorp het gereeld opgedroog.

Die afgelope paar weke is selfs die krane in die laagliggende gebiede droog.

“Eers was daar die verskoning van beurtkrag wat die toevoerprobleme veroorsaak het, maar dit het dae gelede al geëindig en die situasie is nou nog erger,” het Samantha Graham-Maré, DA-LP en leier van die kiesafdeling vir die munisipaliteit, gesê.

Sy het meer as week laas watertoevoer in haar huis gehad.

Volgens haar koop sommige inwoners water om te drink, maar die gemiddelde inwoner van die dorp kan nie bekostig om daagliks water te koop nie, wat hulle afhanklik van die munisipaliteit vir waterverskaffing maak.

“Hier is watertenkwaens wat water aflewer, maar die munisipaliteit weier om ’n skedule hiervoor op te trek.

“Dit beteken niemand kan beplan vir wanneer die watertenkwa in hul gebied sal wees nie en as jy dit mis, het jy dit vir die dag misgeloop.”

Slegs ’n klein plas modderwater is hier en daar in die leë Nqwebadam by Graaff-Reinet te sien. Foto: Lulama Zenzile

Wilca Smith, waarnemende munisipale woordvoerder, sê egter dit duur ’n uur of meer om die watertenkwaens vol te maak en hulle kan nie voorspel hoeveel water ’n gebied sal benodig nie, daarom is dit moeilik om ’n skedule op te stel.

Volgens haar ry die watertenkwaens daagliks tussen 05:00 en 22:00 in al die gebiede rond.

Sy waarsku dat elke huishouding net 200 liter water per dag mag vat en private watertenks en swembaddens mag nie deur die watertenkwaens volgemaak word nie.

By navraag of die inwoners ten minste oor Kersfees water in hul krane sal hê, het Smith gesê die watersituasie sal onveranderd bly en dat beurtkrag moontlik daartoe kan bydra.

Die probleme met watertoevoer is blykbaar weens die lae waterdruk in die boorgate en die groot vraag na water.

Graaff-Reinet gebruik tans 28 van sy boorgate, wat slegs 7 megaliter water per dag kan voorsien, in plaas van 12 megaliter water wat nodig is.

“Hoogliggende gebiede sal steeds sukkel met min tot geen water. Die waterdruk is te laag om water by dié gebiede te kry,” het Smith gesê.

Die watertoevoer na sommige gebiede kan ook nie afgesny word nie, aangesien die infrastruktuur verouderd is en die pype moontlik kan breek.

Volgens Smith is die munisipaliteit nie in ’n finansiële posisie om dié infrastruktuur te vervang nie en indien dit wel in die toekoms gedoen word, sal dit stelselmatig vervang word.

Met dié dat die dorp tot rampgebied verklaar is, het die munisipaliteit reeds om hulpfondse aansoek gedoen, het Smith gesê. Die oordrag van R30 miljoen uit die vorige begroting is ook goedgekeur en planne is hiervoor geoormerk.

Vroeër vandeesmaand is ’n waterkonferensie op die dorp gehou, waartydens kort- en langtermynplanne vir beter watertoevoer bespreek is. Smith sê ’n opvolgvergadering sal binnekort gehou word oor die inwerkingstelling hiervan.

Graham-Maré meen egter die munisipaliteit moet as onmiddellike ingryping meer watertenkwaens beskikbaar maak, met ’n skedule vir elke gebied.

Sy dink ook die munisipaliteit moet private individue aanstel om te help met waterverspreiding en druk moet op alle regeringsvlakke toegepas word om die nodige waterlisensies vir verdere gebruik van boorgate te bekom.

Meer oor:  Graaff-Reinet  |  Droogte  |  Watertoevoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.