SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Water word uiteindelik na Mockesdam vrygelaat

Goeie nuus vir Bloemfonteiners die naweek is dat grootmaatwater vir die noorde van die stad Vrydag uit die Rustfonteindam vrygestel is, terwyl die kragdrama ook vir eers afgeweer is deurdat Eskom en die Mangaung-metro se kragverspreider, Centlec, tot ’n vergelyk kon kom.

Inwoners van die noorde kan dalk nog vir enkele dae sonder water sit.

Eskom het Vrydag in ’n nuusverklaring gesê Eskom en Centlec het ná vergaderings Donderdag en Vrydag met Skully Nxangisa, Vrystaatse LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), ’n afbetalingsooreenkoms bereik.

Bloemfontein, Botshabelo, Thaba Nchu, Dewetsdorp, Wepener en Van Stadensrus se krag sal dus nie meer van Dinsdag af bedags ontkoppel word nie.

Dr. Tseliso Ntili, Vrystaatse hoof van die departement waterwese en sanitasie, het Netwerk24 self Vrydagoggend gebel met die goeie nuus dat 1 500 miljoen kubieke meter water Vrydagoggend om 11:00 uit die Rustfonteindam na Mockesdam vrygestel is.

Dit kom ná ’n week van hoogdrama toe Maselspoort sy suiweringsaanleg Maandagoggend moes afskakel omdat water nie meer uit die dolleë Mockesdam onttrek kon word nie.

Water vloei hier uit die Maselspoortdam na die Mockesdam vir suiwering by die Maselspoort-watersuiweringsaanleg. Die inwoners van die noordelike woonbuurte van Bloemfontein kry van Maselspoort af water.

Bloemwater, waterraad van die departement van waterwese en sanitasie, het boonop die hele week geweier om water vanuit die Rustfonteindam na Maselspoort vry te laat oor die beweerde wanbetaling van die metro aan Bloemwater wat hom honderde miljoene rande skuld.

Kido Thoabala, assistent-kommunikasiebestuurder van Bloemwater, het Vrydag bevestig dat onderhandelings tussen Bloemwater en die metro oor die vrystelling van ongesuiwerde water van die Rustfonteindam na Mockesdam geslaag het.

“Dié twee instellings het ’n ooreenkoms oor ’n afbetalingsplan bereik,” het sy gesê.

Adv. Tankiso Mea, die stadsbestuurder van die metro, het Vrydag gesê “ons doen ons bes om te verseker dat Bloemfontein se noordelike woonbuurte nie sonder water moet sit nie.”

Maar Rossouw Botes, DA-raadslid en die party se woordvoerder oor watersake, sê volgens beplanning behoort die vrygestelde water eers Sondag by Mockesdam te wees, waarna die onttrekking by die Maselspoort-aanleg vir suiwering sal plaasvind.

“Die een Arboretum-reservoir was Vrydagoggend om 09:00 op slegs 2% en die ander een was op 18%. Dit gaan dus onafwendbaar wees dat die inwoners van die noordelike woonbuurte vir ’n paar dae oor die naweek sonder water gaan sit.”

Botes sê die proses neem ongelukkig tyd.

Hy sê daar was weer samesprekings tussen die Mangaung-metro en Bloemwater en nog R14,6 miljoen is Donderdagmiddag oorbetaal nadat Maandagmiddag R15 miljoen oorbetaal is.

Intussen sê Wouter Wessels, VF-Plus-LP en Vrystaatse onderleier van die party, Mangaung het Vrydagoggend op hul prokureursbrief gereageer en die stadsbestuur het aan hulle bevestig dat die Rustfonteindam se sluise oopgemaak word en water sal na Mockesdam vloei.

“Dit beteken water sal Mockesdam teen Sondag bereik. Dan moet die water na die Maselspoort-suiweringsaanleg vloei; die reservoir moet dan vol loop en die netwerk moet genoeg water kry.

“Daar sal teen Dinsdag genoeg water wees.”

Wesels sê die VF Plus verwelkom die ooreenkoms tussen die metro en Bloemwater, maar is ontevrede dat dit so gesloer het. Dit het meegebring dat daar nou wel ’n tekort aan water in die noorde van Bloemfontein gaan wees.

“Die krisis is grootliks afgeweer. Die metro misluk egter daarin om voldoende te beplan om krisisse vroegtydig af te weer. Politiekery en onbevoegdheid skend die mees basiese regte van inwoners.”

Meer oor:  Bloemwater  |  Droogte  |  Mockesdam
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.