Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Water wyd gesny in Rosestad weens skuld

Die Mangaung-metro gaan waterlewering oor ’n wye spektrum afsny weens uitstaande water-, erfbelasting- en sanitasie-skuld aan die metro van bykans R6 miljard.

Die water gaan binnekort by nog Bloemfonteinse skole, sake-ondernemings, staatsdepartemente, groot winkelsentrums en woonhuise ontkoppel word.

Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie, sê dit is ’n probleem dat Moody’s die metro afgradeer oor die groot skuld wat meebring dat die metro nie dienste kan lewer en sy krediteure kan betaal nie.

Honderde agterstallige rekenings

Qondile Khedama Foto: Argief

Rossouw Botes, DA-raadslid, sê net in die Vrystaatse onderwyssektor, wat insluit die Vrystaatse onderwysdepartement, onderwyskantore, skole en koshuise, is daar 414 agterstallige rekeninge vir water, erfbelasting en sanitasie ten bedrae van meer as R212 miljoen.

“Die probleem is dat skole wat vir waterrekenings verantwoordelik is, dit gewoonlik uit skoolfondse op datum betaal. Die departement van openbare werke en die onderwysdepartement wat egter die erfbelasting moet betaal, doen dit nie en gevolglik word die kinders nou die lydende party,” sê hy.

Botes sê van die skole het afbetalingsooreenkomste met die metro aangegaan. Hy het ook van skole verneem dat die departement van openbare werke onderneem het om van 26 Augustus af van die agterstallige skuld te begin betaal.

“Van Dinsdag af is kennisgewings ook afgelewer by Bloemfonteinse huishoudings wat agterstallig is.”

Woensdag word kennisgewings in tien gebiede in Bloemfontein afgelewer.

14 dae kennis

“Almal kry 14 dae kennis om te betaal,” sê Botes.

Hy sê die water van staatsdepartemente wat agterstallig is met munisipale rekenings word op 24 en 25 Augustus gesny.

Dit sluit blykbaar in die O.R. Tambo-gebou, wat die premier en haar LUR’e huisves, en die Fidel Castro-gebou, wat provinsiale staatsdepartemente huisves. Hulle skuld glo ook aansienlike bedrae, sê Botes.

Plaaslike sakeondernemings kry ook Vrydag kennis dat hul water afgesny gaan word.

Hardie Viviers, DA-koukusleier, sê dit is jammer dat skole geteiken moet word, terwyl die Vrystaatse departement van openbare werke die metro altesame R325 miljoen skuld.

“Dink net wat die metro alles met daardie geld kan doen as openbare werke begin betaal. Die metro sal byvoorbeeld die meeste van sy skuld aan Bloemwater kan betaal.”

Dr. Elizabeth Snyman van Deventer, raadslid van die VF Plus, sê dit is hoogtyd dat inwoners, sakeondernemings en staatsdepartemente vir dienste begin betaal en dat die metro water ontkoppel as inwoners nie munisipale rekeninge betaal nie.

Sy sê die ANC het self die kultuur van wanbetaling geskep deur mense jare lank toe te laat om nie vir dienste te betaal nie.

Ophoop van munisipale rekenings

“Hoe gebeur dit dat iemand se munisipale rekening tot R150 000 en R200 000 ophoop? As iemand R1 000 skuld en dit nie betaal nie, moet sy water dadelik afgesny word sodat hy kan betaal.

“Dit is baie makliker om R1 000 in die hande te kry as om skielik R15 000 of R150 000 te moet bekom.”

Mxolisi Siyonzana, speaker, sê by navraag hy dwing stadsraadslede om vir hul munisipale dienste te betaal.

Dit is baie makliker om R1 000 in die hande te kry as om skielik R15 000 of R150 000 te moet bekom.

“Diegene met skuld het afbetalingsooreenkomste aangegaan sodat die geld maandeliks van hul vergoeding verhaal kan word,” sê hy.

Hy het self tuis ’n voorafbetaal-watermeter laat insit.

Hans Britz, DA-raadslid en oud-finanshoof van die metro, sê raadslede het 'n jaar gelede net meer as R700 000 geskuld, wat langer as 90 dae uitstaande was. “Dit is moeilik om te sê wat die omstandighede tans is omdat die metro nog nie sy geldstate aan ons voorgelê het nie. Dit is laat.”

Hy sê hy gaan tog vasstel hoeveel raadslede skuld.

Howard Ndaba, woordvoerder van die Vrystaatse onderwysdepartement, sê hy sal binnekort kommentaar lewer.

Meer oor:  Mangaung-Metro  |  Skuld  |  Waterlewering  |  Metro
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.