Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Waterkrisis in Qwaqwa vererger

Die waterkrisis in Qwaqwa het vererger met die Fika Patso-dam wat bykans leeg is omdat waterlekke in die dam nie herstel is nie, sê dr. Berry Hlatswayo, DA-koukusleier in die Thabo Mofutsanyana-distriksmunisipaliteit.

Hy sê die DA-koukus het ’n oorsigbesoek aan die dam gebring omdat inwoners hier al maande lank met droë krane sit.

Die bykans leë Fika Patso-dam in Qwaqwa.Foto: Verskaf

“Daar sou nie ’n krisis gewees het as die waterlekke reggemaak is nie,” sê hy.

“Navorsing is sowat drie jaar gelede gedoen om vas te stel waarom die dam nie water hou nie. Dit het aan die lig gebring dat water lek uit verouderde pype wat uit die dam lei, maar niks is gedoen om ’n ramp te voorkom nie. Die inwoners is nie bewus gemaak van die status van die dam nie en is ook nie gevra om water spaarsamig te gebruik nie.”

Hy sê die gebruik van watertenks is boonop ’n skema wat daarop gemik is om individue te verryk. Daarby is die reservoir in wyk 32 gevandaliseer.

“Elektriese kabels is gesteel en die ANC-beheerde munisipaliteit het nie veiligheidsmaatreëls getref nie. In Mabolela in wyk 18 is ’n groot reservoir tien jaar gelede gebou, maar dit is nooit in gebruik geneem nie, terwyl drie klein reservoirs daarnaas buite werking gestel is.

Hlatswayo sê die mense van Qwaqwa verdien beter. Bewusmakingsveldtogte moes geloods word om die mense in te lig oor die dreigende waterkrisis.

Hy sê DA-raadslede sal ’n omvattende plan aan die beoogde waterberaad voorlê. Daar sal aan lede van die wetgewer gevra word hoekom die Mabolela-reservoir nooit in gebruik geneem is nie nadat dit teen ’n koste van miljoene rande gebou is.

Dr. Tseliso Ntili, Vrystaatse hoof van die departement waterwese en sanitasie, het bevestig dat die Fika Patso-dam nou minder as 10% van sy volle vermoë bevat.

“Ons departement stuur aanstaande week mense daarheen om ’n volledige hulppakket aan inwoners te bied. Veral inwoners van die Maluti-a-Phofung- munisipale gebied het hulp nodig.”

Ntili kon nie sê hoekom die waterinfrastruktuur nie in stand gehou is nie en het gesê Maluti-a-Phofung se munisipaliteit kan dalk lig hierop werp.

Maluti-a-Phofung is tans onder administrasie en is onder die tien munisipaliteite landwyd wat Eskom die meeste geld skuld.

Die munisipaliteit skuld Eskom en die waterraad meer as R5 miljard, is onlangs deur Netwerk24 berig.

Meer oor:  Qwaqwa  |  Munisipaliteit  |  Waterkrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.