Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Waterskuld: Voorafbetaalde meters wink

Voorafbetaalde watermeters is verbruikers en ondernemings se voorland indien sukkelende munisipaliteite landwyd nie hul agterstallige waterskuld van miljarde rande aan waterrade betaal nie.

Die parlement het Dinsdag gehoor dat dit een van verskeie aanbevelings van ’n interministeriële komitee (IMK) is om die nasionale waterskuld te vereffen. Die aanbevelings word binnekort vir goedkeuring aan die kabinet voorgelê.

David MahloboFoto: Leanne Stander

Loodsprojekte vir die installering van voorafbetaalde watermeters is reeds in die munisipaliteite van Maluti-a-Phofung, Thabazimbi, Naledi en Govan Mbeki begin.

David Mahlobo, adjunkminister van menslike nedersettings, water en sanitasie, Parks Tau, adjunkminister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), die Vereniging van Plaaslike Regerings (Salga) en die Munisipale Infrastruktuur Ondersteuningsagent (Misa) het dít Dinsdag aan die parlement gesê.

Hulle het ’n gesamentlike sitting van die portefeuljekomitees oor Cogta en menslike nedersettings toegespreek oor hoe munisipaliteite gehelp kan word om hul waterskuld aan waterrade en die waterhandelsentiteit te betaal.

Die komitees het gehoor dat munisipaliteite waterrade teen 30 September vanjaar gesamentlik sowat R14,9 miljard geskuld het.

Dít is behalwe die sowat R23,5 miljard wat munisipaliteite vir Eskom skuld weens agterstallige elektrisiteitskuld.

Ntandazo Vimba, Misa se uitvoerende hoof, het Dinsdag gesê ’n groot deel van die waterskuld is histories omdat munisipaliteite se skuld die laaste jare kommerwekkend toegeneem het.

Hy skryf dit toe aan die “kultuur van nie-betaling onder verbruikers, sowel as ander inkomsteverliese weens verouderde waterinfrastruktuur en diefstal”.

Volgens Vimba het die IMK verskeie aanbevelings gedoen, onder meer om voorafbetaalde of slimmeters vir water by verbruikers in munisipaliteite te installeer.

“Dit is die enigste manier om die kultuur van nie-betaling op te los omdat die kultuur van eers verbruik en later betaal nie werk nie.”

Om agterstallige waterskuld in te win is aanbeveel om skuld van wanbetalende munisipale raadslede en amptenare se salarisse te verhaal.

Daar is ook aanbeveel dat geen staatstenders voortaan aan bieërs met munisipale skuld toegeken moet word nie, terwyl bouplanne van eiendomseienaars wat agterstallige skuld het, ook nie goedgekeur sal word nie.

Verder sal sakelisensies nie goedgekeur word nie, terwyl verskaffers met skuld ook nie vir dienste betaal sal word voordat dit vereffen is nie.

Mahlobo het op sy beurt gesê hoewel talle munisipaliteite in ’n geldelike verknorsing is, moet die beginsel dat verbruikers vir dienste moet betaal, gehandhaaf word.

“Ons weet wat die watersituasie in die land is. Ons het dit nie in oorvloed nie en dit word erger. Waterrade benodig hulpbronne vir die ontwikkeling en instandhouding van watertoevoer-infrastruktuur.”

Volgens hom is ’n belangrike gevolg van nie-betaling dat die verskaffing van water aan munisipaliteite nie gewaarborg kan word nie.

Leonard Basson, DA-LP, sê munisipaliteite se waterinfrastruktuur het landwyd in duie gestort en is wanfunksioneel.

“Munisipaliteite kan dit eenvoudig nie bestuur nie. Dit moet aan waterrade gegee word om dit namens munisipaliteite te bestuur en om skuld direk in te vorder.”

Machene Semenya, komiteevoorsitter, het versoek dat ’n aksieplan oor hoe die aanbevelings geïmplementeer kan word, binnekort aan LP’s voorgelê word.

Sy het dit benadruk dat die regering steeds hulpbehoewende huishoudings se water en elektrisiteit sal subsidieer. “Hier word gepraat van verbruikers wat kan betaal, maar dit nie doen nie,” het Semenya gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.