Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Wees Vrystaatse dorpe genadig, pleit DA-LP by Eskom

Die tesourie moet ingryp om wanfunksionele munisipaliteite te bestuur, vra David Ross, DA-LP in die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor).

“Die tesourie moet daardie munisipaliteite se staatstoelae gebruik om Eskom mee te betaal.”

Hy wil so gou moontlik met die tesourie praat om te keer dat Eskom die Tokologo-munisipaliteit in die Vrystaat se krag afsny.

Tokologo (Boshof, Dealesville en Hertzogville) skuld Eskom R30,9 miljoen en het ’n aanmaning gekry dat elektrisiteitstoevoer Dinsdag 26 Junie afgesny gaan word.

David Ross, DA-LP

“Sakeondernemings het genoeg gely in die swak bestuurde dorpe. Inwoners kan nie bekostig dat die krag afgesny word nie,” sê Ross.

Volgens hom het hy verlede week gekeer dat twee ander Vrystaatse munisipaliteite, Nala (Bothaville en Wesselsbron) en Masilonyana (Theunissen, Winburg en Brandfort), se elektrisiteitstoevoer afgesny word.

Nala skuld R181,9 miljoen aan Eskom en Masilonyana R54,03 miljoen.

“Wat ek in dié stadium probeer doen, is om uitstel te kry sodat munisipaliteite afbetalingsooreenkomste kan eerbiedig.”

Hy het verlede week met die tesourie oor Nala en Masilonyana gepraat in die lig van dr. Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, se onderneming teenoor Skoor dat hy Eskom sal vra om nie elektrisiteitstoevoer aan munisipaliteite te ontkoppel nie omdat inwoners wat gereeld hul elektrisiteitsrekening aan munisipaliteite betaal ook hierdeur benadeel word.

Volgens Ross is hy deurentyd in gesprek met Jan Hattingh, hoofdirekteur van begrotingsanalise vir plaaslike regerings in die tesourie, oor hoe om munisipaliteite verantwoordbaar vir die uitstaande skuld aan Eskom te hou.

“Met dié gesprekke kon voorkom word dat Nala en Masilonyana se krag verlede week afgesny word.”

Hy wil ook met Hattingh praat oor die benarde omstandighede van Suid-Vrystaatse dorpe in Kopanong, waar die inwoners van Jagersfontein en Fauresmith bykans geen munisipale dienste kry nie.

“Die werkloosheid en armoede in dié plekke word net meer en meer.”

Meer oor:  David Ross  |  Skoor  |  Eskom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.