Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
‘Weg met die vrou van Zim!’ betoog George

’n Groep ontevrede inwoners het Vrydag in reënweer voor die kantoor van die George-munisipaliteit betoog en gedreig om die dorp onregeerbaar te maak oor ’n senior aanstelling in die departement van finansies.

Die groep, waaronder lede van die organisasie Khoisan Defiance Campaign, is ongelukkig oor die aanstelling van Cheryl Segan, ’n Zimbabwiese vrou, as die adjunkdirekteur van finansies. Dit is nog nie bekend of sy al diens aanvaar het nie.

Hulle eis dat Henry Mitchell, wat die afgelope vyf jaar met tussenposes in die pos waargeneem het, aangestel word.

Die groep het plakkate geswaai met slagspreuke soos “Genoeg is genoeg. Regverdigheid moet geskied” en “Ons soek ‘equity’ in finansies by George-munisipaliteit”.

Joanie Visagie-Jantjies, ’n gemeenskapsleier, het onder meer gewaarsku dat hulle die finansieskantoor gaan beset indien die vrou aangestel word.

“Die departement is ook te wit, dit moet ’n bietjie ingekleur word,” het sy bygevoeg.

’n Groep betogers Vrydag by die kantore van die George-munisipaliteit. Foto: Jackie Kruger

Luidens die grieweskrif verwerp en protesteer alle werknemers van die munisipaliteit teen die onregverdige arbeidspraktyke, werwing en seleksieprosesse van die George-munisipaliteit.

Die aanstelling van ’n buitelander in die departement van finansies ten koste van plaaslike, gekwalifiseerde Suid-Afrikaners is onaanvaarbaar. Die finansies-departement is ook oorweldigend wit en voldoen die raad en sy administrasie nie aan transformasie-teikens nie, lui die grieweskrif.

Voorts word kennis geneem van onregverdige arbeidswerwing- en seleksieprosesse en strategieë waar werklose mense se name in ’n hoed gegooi word soos in ’n lotery en die name dan uitgetrek word gedurende aanstellingsprosesse.

Leerlingskapprogramme word ook gebruik ten gunste van familielede van raadslede en partywerwers van die George-munisipaliteit. Duisende plaaslike mense se name is op die databasis, maar wanneer dit kom by senior poste is dit duidelik dat werk vir vriende aan die orde van die dag is, word beweer.

Die betogers vra dat nepotisme, korrupsie en begunstiging gestaak moet word, asook die aanstelling van partywerwers en familielede. ’n Nuwe databasis moet ook geskep word vir mense van George.

Die groep eis binne sewe dae terugvoering. Die grieweskrif is deur Trevor Botha, George se munisipale bestuurder, in ontvangs geneem. Volgens hom is ’n ondersoek gelas en kry die griefskrif aandag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.