Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Wes-Kaap maak plan vir kragkrisis

Die Wes-Kaapse regering is besig om planne te beraam om water- en rioolpompe tydens beurtkrag aan die gang te hou om nog ’n beurtkragkrisis af te weer. Dit kom nadat Eskom dit duidelik gemaak het dat Suid-Afrika se beurtkragdrama ver van verby is.

Ivan Meyer, LUR vir landbou, Alan Winde, Wes-Kaapse premier, saam met Anton Bredell, LUR vir onder meer plaaslike regering.

Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het Dinsdag op ’n nuuskonferensie in Tygerberg gesê daar is groot kommer oor die voortslepende beurtkrag wat veroorsaak dat water- en rioolpompe vir lang tydperke af is.

Die Wes-Kaap sê hy is slaggereed om die gevolge van die voortslepende beurtkrag in die provinsie te hanteer. Die Kaapstad-metroraad het op sy beurt gesê hy gaan die hof nader oor die beurtkragkrisis.

Ian Neilson, die stad se waarnemende uitvoerende burgemeester, sê die metro beoog om toestemming van die regterpresident van die hooggeregshof in Gauteng te kry om ’n dringende verhoor oor die energiekrisis aan te vra. Die metro doen aansoek dat die minister van energie en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) toestemming gee dat die metro energie van onafhanklike kragprodusente (IPP’s) kan koop.

Intussen het verskeie provinsiale departemente insluitende gesondheid, landbou en plaaslike regering op ’n gesamentlike inligtingsessie die provinsie se gereedheid vir voortgesette kragonderbrekings bespreek.

Bredell sê die provinsie is besig om reëlings te tref om water in reservoirs te kry. Dit sluit in om kragopwekkers in te span, asook watertenkers wat water na dorpe kan aanry.

Bredell sê as daar nie na die pompe gekyk word nie, kan die newe-effekte van ’n watertekort en rioolstelsels wat oorspoel, veel erger skade berokken.

Die Kaapstad-metroraad het Dinsdag gewaarsku dat inwoners van Kaapstad sonder water kan sit weens waterpompe wat nie kan werk wanneer beurtkrag toegepas word nie.

Beurtkrag van die omvang wat nou ervaar word, beteken dat die pompe vir water en rioolstelsels nie behoorlik kan werk nie.

Hoewel die metroraad nog nie kan sê hoe erg dit die dienste gaan raak nie, plaas die omvang van beurtkrag druk op die vermoë om water oor die hele metrogebied te versprei.

Die situasie word gemonitor en die metroraad sal wanneer nodig meer inligting bekend maak.

Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou, Alan Winde, Wes-Kaapse premier, en Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Dinsdag op ’n nuuskonferensie in Tygerberg, Kaapstad.

Volgens die metroraad is dit nie nodig vir inwoners om nou al paniekerig te raak nie.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, sê die sektore wat die swaarste ly weens beurtkrag, is toerisme en landbou.

Volgens Winde is die polisie, rampbestuurspanne en verskillende provinsiale departemente gereed indien fase 8-beurtkrag ingestel word.

“Ek is die versekering gegee dat ’n duidelike noodplan vir enige gebeurtenis bestaan en dat die gesamentlike operasionele sentrum reeds 24/7 funksioneer as ’n voorsorgmaatreël. Kerndepartemente en -agentskappe het verlof gekanselleer, en ek is verseker dat personeel oor die feestyd beskikbaar sal wees,” sê Winde.

Winde sê hulle werk saam met die Kaapstad-metroraad om te verseker dat die sewesrugbytoernooi, wat ’n groot toerisme-byeenkoms is, sonder enige probleem sal voortgaan.

Wat gesondheidsdepartemente betref sê Winde daar is kragopwekkers by alle gesondheidsorggeriewe en dat die vervaardigers van suurstof vir pasiënte, wat ’n ononderbroke kragtoevoer benodig, sal kan voortgaan om te werk.

Meer oor:  Eskom  |  Anton Bredell  |  Wes-Kaap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.