Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Wes-Kaap: So help munisipaliteite inwoners

Munisipaliteite oor die hele Wes-Kaap het ’n breë ingrypings aangekondig om die impak van die Covid-19-pandemie op hul gemeenskappe te verminder.

Anton Bredell, die Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning. Foto: Weslander

Anton Bredell, Wes-Kaapse LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, sê die belangrikste verantwoordelikheid van munisipaliteite is om te sorg dat die basiese dienste voortgaan. Kerndienste, waaronder tegniese dienste en water-, riool-, elektrisiteits- en afvalbestuur, word oor die provinsie voortgesit.

Water- en elektrisiteitsbeperkings is opgehef in gebiede waar dit tot voor die staat van inperking van krag was.

In plattelandse gebiede en informele nedersettings word mense met behulp van luidsprekers oor die koronavirus ingelig.

Bredell sê munisipaliteite werk almal ten nouste saam met die polisiediens en die weermag om die veiligheid van alle gemeenskappe te verseker.

“Distriksmunisipaliteite in die Wes-Kaap lewer steeds alle noodsaaklike dienste soos brandbestryding, padinstandhouding en omgewingsgesondheidsdienste. Ons rampbestuursentrums is almal sewe dae per week 24 uur per dag oop, en werk hard om die krisis te bekamp,” sê Bredell.

Van die bykomende maatreëls sluit in:

* Die Stellenbosch-munisipaliteit skort die betaling van alle munisipale gelde vir drie maande op. Alle hawelose mense in Franschhoek, Stellenbosch en Klapmuts word in tydelike akkommodasie gehuisves.

* Ondernemings in die Overstrand-munisipaliteit wat onder finansiële druk verkeer en nie hul munisipale rekeninge in Maart of April kan betaal nie, kan ’n verlengde betalingsooreenkoms aangaan om dit oor ses maande af te betaal. Inwoners wat sukkel, kan dieselfde ooreenkoms sluit.

* In die Hessequa-munisipaliteit is geld aan alle wyksraadslede beskikbaar gestel om waar nodig kospakkies in hul kiesafdelings uit te deel.

* Die Swartland-munisipaliteit werk saam met die private sektor om voedingskemas vir hawelose mense in te stel. Die munisipaliteit oorweeg nog ’n moontlike betaalvakansie vir eiendomsbelasting sowel as om rente op agterstallige rekeninge af te skryf.

* Die Witzenberg-munisipaliteit gaan nie streng kredietbeheer toepas tydens die staat van inperking nie. Alle voorafbetaalde elektrisiteitsmeters wat weens niebetaling van munisipale rekeninge geblok is, is weer gekoppel.

* Die Saldanhabaai-munisipaliteit het alle kredietbeheermaatreëls en -prosedures tot einde April opgeskort. Geen voorafbetaalde elektrisiteitsmeters sal dus geblok word nie.

* Die Drakenstein-munisipaliteit het ook alle water en elektrisiteit wat geblok was, herstel. Skuilplek word aan hawelose mense voorsien.

* Die Breedevallei-munisipaliteit het bykomende waterpunte en toilette in informele nedersettings geïnstalleer.

* Die Mosselbaai-munisipaliteit bied finansiële hulp aan almal wat eiendomme van die munisipaliteit huur.

* Die Oudtshoorn-munisipaliteit het verskeie maatreëls getref, waaronder dat geen rente van Maart tot Junie gehef gaan word op alle agterstallige rekeninge nie.

* Die Theewaterskloof-munisipaliteit het ook beperkings op water en elektrisiteit opgehef. Hy werk saam met nieregeringsorganisasies om waar nodig kospakkies uit te deel.

* In die Bergrivier-munisipaliteit het diegene wat net beperkte watertoevoer gehad het, nou ten volle toegang tot water.

* Die George-munisipaliteit gaan geen rente hef op diensrekenings vir April nie. Bykomende sanitasiegeriewe en waterpunte word in ’n aantal informele nedersettings verskaf.

Wes-Kapenaars met enige navrae oor die inperkingstydperk word versoek om die webwerf www.westerncape.gov.za/coronavirus te besoek.

Meer oor:  Anton Bredell  |  Wes-Kaap  |  Covid-19-Virus  |  Koronavirus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.