Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Wetgewer wys katnes in Mangaung-metro uit
Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester, wat eers “vermis was” toe sy Dinsdag 08:00 voor die komitee vir openbare rekeninge van die Vrystaatse wetgewer moes verskyn het, het in opdrag van die komitee wel om 15:00 opgedaag. Foto: Mlungisi Louw

’n Katnes van wanbesteding is onthul toe die Mangaung-metro en sy elektrisiteitsverspreider, Centlec, Dinsdag voor die Vrystaatse wetgewer se komitee op openbare rekeninge in Bloemfontein verskyn het oor die oudit-uitkomste van die 2016-’17-geldjaar.

Uit wetgewerlede se vrae aan adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder, en Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester, het onder meer aan die lig gekom dat:

* Altesaam R141 miljoen net aan die voorafbeplanning vir die N8-ontwikkeling nie ver van die Bram Fischer-lughawe bestee is sonder dat enige steen gelê is;

* Die metro R40 miljoen bestee het op die vooraf-omgewingstudies vir die bou van die Gariep-pypleiding van die Gariepdam na Bloemfontein, sonder dat die pypleiding nog gebou is. Boonop het Bloemwater en die departement van waterwese en sanitasie soortgelyke studies laat doen;

* Altesaam R190 miljoen bestee is op voorafbeplanning aan die N8-busroete van Maphisa-weg in Phahameng in die suidooste van die stad af.

Mxolisi Siyonzana, speaker van die Mangaung-metro, Olly Mlamleli, uitvoerende burgemeester, adv. Tankiso Mea, stadsbestuurder, en Motshewa Tladi, voorsitter van die metro se munisipale komitee vir openbare rekeninge, verskyn Dinsdag voor die komitee vir openbare rekeninge van die Vrystaatse wetgewer. Foto: Mlungisi Louw

Mea het gesê vier senior amptenare van die metro, insluitend die metro se vorige munisipale bestuurder, het hul werk verloor oor die R141 miljoen wat op die voorafbeplanning van die N8-ontwikkeling bestee is.

Hy het gevoel dat dié saak “begrawe” moet word omdat dit deel van ’n vorige bestuursbedeling van die metro was. Die opposisie het nie hiermee saamgestem nie.

Dr. Roy Jankielsohn (DA) het gesê soos met die omstrede Ramkraal-projek waar R120 miljoen in die voorafbeplanning “weggeraak” het, moet daar ook volledige verslag gedoen word oor wat met al dié geld gebeur het en waarop dit bestee is.

Die komitee het hierop die metro-bestuurslede opdrag gegee om met volledige verslae vorendag te kom oor hoe die geld bestee is.

Opposisielede was van mening dit is omdat die metro nie behoorlike projekbestuur doen nie, dat sake in die metro verloop soos nou die geval is.

Mlamleli, wat nie 08:00 vir die geskeduleerde verskyning voor die wetgewerkomitee opgedaag het nie, maar wel 15:00 nadat sy opdrag ontvang het om te kom, het aan die begin van die vergadering bontgestaan om te verduidelik waarom sy ’n “vergadering met die jeug belangriker geag het as om voor die komitee te verskyn”.

Jankielsohn het haar daarop gewys dat sy nie die waarheid gepraat het nie omdat die jeugvergadering eers 11:00 begin het. Hy het die uitnodiging in die vertrek rondgeswaai.

Mxolisi Siyonzana, speaker van die Mangaung-raad, het “met respek” gereageer dat die uitnodiging nie duidelik gestel het wie almal moes verskyn nie. “Die burgemeester het gedink dit is voldoende as sy haar burgemeesterskomiteelid belas met finansies stuur.”

Mlamleli het oor projekte gesê dat die minister van menslike nedersettings nou betrokke is by die N8-ontwikkeling en dat met die projek voortgegaan word.

Wetgewerlede het Dinsdag bestuurslede van die Mangaung-metro vier ure lank oor die 2016-’17-oudituitkomste ondervra.Foto: Mlungisi Louw

Oor die Garieppypleiding het sy gesê dat Bloemwater nou die implementeringsagent is, dat die metro steeds betrokke is omdat dit op sy grond gebou word en dat die minister van waterwese en sanitasie onlangs hier was en geld vir die bou van die projek sal bewillig.

Sy het gesê die metro sal nie onder administrasie geplaas word nie.

“ ’n Herstelplan vir die metro is met die provinsiale en nasionale tesourie se hulp opgestel, terwyl die Vrystaatse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) ook gehelp het. Afskrifte van die herstelplan en aksieplan sal by die wetgewer ingedien word sodra die metro-raad dit goedgekeur het.”

Mea het gesê skuld aan die metro beloop nou R4,3 miljard.

Die provinsiale regering skuld die metro R1 miljard vir munisipale dienste en die Vrystaat-ontwikkelingskorporasie (VOK) altesaam R700 000.

“Die probleem is dat ons nie die elektrisiteit van die VOK se fabrieke in Botshabelo en Thaba Nchu kan gaan afsit nie, want dan ruïneer ons die ekonomie en veroorsaak ons dat mense nie meer sal kan werk nie.”

Mlamleli het gesê dat sy oortydure waarvoor betaling by die metro geëis kan word, van 120 ure tot 60 en nou tot 40 ure verminder het om geld te bespaar.

Sy het oor die probleem met morsige vullissakke gesê dat die metro se vloot motors en vragmotors verouderd is en dat die dienslewering na Soutpan, Wepener, Vanstadensrus, en Dewetsdorp uitgebrei moes word.

“ ’n Nuwe vloot is aangekoop waarmee ’n verbeterde diens gelewer sal word. Verouderde vlootmotors gaan opgeveil word om geld vir die stad te genereer.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.