Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Winde sal met LUR vergader oor CV-aantygings

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het Woensdag gesê hy is diep bekommerd oor aantygings dat die LUR Bonginkosi Madikizela oor sy kwalifikasies gelieg het en gaan die middag met hom vergader.

Winde het by navraag bevestig dat hy aantygings dat Madikizela se curriculum vitae inligting bevat “wat nie waar is nie” reguit met hom gaan bespreek en dan die gepaste stappe sal doen.

“Dit is in die belang van alle partye, insluitend ons inwoners, dat dié saak so gou moontlik opgeklaar word en ek sal seker maak dat dit gebeur.”

Alan Winde, Wes-Kaapse premier. Foto: Malherbe Nienaber

Winde het die middag aangedui dat hy die media op die hoogte van verwikkelinge sal hou.

Hy het ook kommer uitgespreek dat Madikizela glo joernaliste van Daily Maverick wat sy CV ondersoek het, mislei het en verwelkom dat die DA self ondersoek instel.

Ntomboxolo Makoba-Somdaka, Madikizela se woordvoerder, het die vergadering met Winde bevestig en gesê hy sal sy volle samewerking met enige ondersoek gee.

Dit volg nadat Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, bekend gemaak het dat die aantygings dat Madikizela ’n wanvoorstelling oor sy kwalifikasies aangebied het, ondersoek gaan word.

Zille, voormalige premier, het in ’n verklaring gesê die party het met kommer kennis geneem van die aantygings en beskou dit in ’n ernstige lig.

Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse DA-leier en LUR. Foto: Malherbe Nienaber

Madikizela is in November verlede jaar herkies tot DA-leier in die Wes-Kaap en is LUR vir vervoer en openbare werke.

Hy is ook een van die DA-leiers wat hul naam in die hoed gegooi het om in die komende plaaslike verkiesing as die party se burgemeesterskandidaat vir Kaapstad te staan.

Luidens sy CV op die provinsiale regering se webwerf het Madikizela (46) ’n BCom-graad in menslikehulpbronbestuur verwerf en ’n sertifikaat in inligtingstegnologie (IT).

Hy het van 2009 tot 2019 onder Zille as LUR vir menslike nedersettings gedien en was voor dit betrokke by die Kaapstadse burgemeesterskantoor as woordvoerder en skakelbeampte.

Voor dit het hy volgens sy CV by die Khayelitsha-ontwikkelingsforum (KDF) gewerk.

Daily Maverick het Dinsdag egter berig dat hy nie Madikizela se CV in die hande kon kry of sy graad kon bevestig nie.

Madikizela het eers aangedui het dat hy aan Unisa studeer het en later gesê het dat hy nie die graad voltooi het nie en dat dit verkeerdelik so aangedui is.

Die ANC in die Wes-Kaap het intussen ’n beroep op Madikizela gedoen om onmiddellik te bedank en dat die provinsiale wetgewer se gedragskomitee hom moet ondersoek.

Winde is ook versoek om Madikizela te skors in die geval dat hy nie bedank nie.

Volgens die ANC is dit ’n "vreemde konsep” vir DA-leiers om kwalifikasies te verwerf en hy is dus nie verras oor dié verwikkeling nie.

Met elke dag kom die DA waar hy regeer, al hoe meer soos die ANC voor.

Cameron Dugmore, ANC-leier in die Wes-Kaapse wetgewer, het ook gesê hy is geskok met Madikizela se reaksie op Daily Maverick se navrae en dat hy “in wese erken dat hy ’n bedrieglike CV ingedien het.

“Dit is nog meer van ’n rede dat dié kwessie ondersoek moet word.”

Brett Herron, sekretaris-generaal van Good, het ook in ’n verklaring gesê Winde moet optree deur Madikizela uit sy amp te verwyder, “as hy wel met integriteit wil lei”.

Volgens Herron, ook ’n lid van die wetgewer, is dit glad nie per toeval dat dié aantygings in die aanloop tot die keuring van ’n burgemeesterskandidaat kom nie.

Hy voer aan dit is ook ’n manier vir die DA om Madikizela uit dié resies te haal.

Herron het daarop gewys dat Madikizela in 2009, 2014 en 2019 tot die uitvoerende raad van die Wes-Kaapse regering aangewys is en sê die DA moet aan die land verduidelik hoe dié “valse aanspraak” op ’n graad nooit raakgesien is nie.

Dit skep ook ernstige vrae oor hoe leiers in die DA gekeur word, volgens Herron.

“Met elke dag kom die DA waar hy regeer, al hoe meer soos die ANC voor.”

Meer oor:  Bonginkosi Madikizela  |  Alan Winde  |  Wes-Kaap  |  Kwalifikasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.