Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Wit mense almal verkragters, sê Vrystaatse LUR

“Wit Suid-Afrikaners is sedert Jan van Riebeeck voet aan wal gesit het reeds verkragters.”

Dié stelling van Mathabo Leeto, Vrystaatse LUR vir sport, kuns, kultuur en ontspanning, het die DA soos een man uit ’n wetgewer-sitting in Bloemfontein laat stap.

Mathabo Leeto Foto: Facebook

Die drama het hom Vrydag afgespeel, sê Mariette Pittaway, DA-LPW. Dit volg enkele dae nadat aanklagte van beweerde bedrog, korrupsie en geldwassery van R20 miljoen teen Leeto, dr. Benny Malakoane, LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, en sewe ander teruggetrek is. Die aanklagte is op 30 Julie teruggetrek nadat die staat die klagstaat wou aanpas.

Netwerk24 het berig skerp kritiek is in die hooggeregshof in Bloemfontein oor die ondersoek uitgespreek nadat die verhoor die afgelope vyf jaar reeds 15 keer uitgestel is.

Die klagte het verband gehou met enorme tenderongerymdhede toe Leeto en Malakoane onderskeidelik burgemeester en munisipale bestuurder van die Matjhabeng-munisipaliteit (Welkom) was.

Dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, het in ’n vroeëre mediaverklaring gesê “die verwoesting van die beweerde multitenderbedrog en geldwasserynetwerk in daardie tyd het die Matjhabeng-munisipaliteit verlam”.

Pittaway sê in ’n mediaverklaring Leeto het in Vrydag se debat wat oor Vrouedag gegaan het, venynige en beledigende woorde teenoor wit Suid-Afrikaners en dr. Jankielsohn, geuiter.

Mariette Pittaway Foto: Netwerk24
Dr. Roy Jankielsohn Foto: Netwerk24

“Leeto het gesê dat wit Suid-Afrikaners se grafte oopgegrawe moet word sodat hul liggame rekenskap kan kom gee. Sy het verder gesê dat hul afstammelinge nou DA-lede is.”

Pittaway sê Leeto het na dr. Jankielsohn as ’n stuk ontlasting verwys nadat sy geweier het om ’n vraag van hom te beantwoord.

“Die DA het beswaar gemaak teen dié soort venynigheid, maar , waarnemende speaker, het geweier om Leeto tot orde te roep. Die DA het hierop besluit om die wetgewer se sitting uit protes te verlaat.”

Pittaway sê dit is onaanvaarbaar dat ANC-politici toegelaat word om oor te gaan tot sulke polariserende en beledigende skeltaal.

* Ramokhoase wat vir Mamiki Qabathe, die speaker, op die vergadering ingestaan het, sê hy het ’n verbatim-verslag aangevra.

“Ons sal dan op die volgende sitting van die wetgewer hieroor ’n beslissing gee.”

* Leeto het nie op herhaalde boodskappe dat Netwerk24 met haar wil praat, gereageer nie. Volgens haar personeel was sy nie op kantoor nie.

Meer oor:  Da  |  Roy Jankielsohn  |  Mathabo Leeto  |  Verkragters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.