Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Woede oor groen water, verval by Stadion-swembad in Bfn

Ouers, swemafrigters en kinders is woedend oor die vervalle toestand van die Stadion-swembad in Bloemfontein waar die Vrystaatse Interprimêre kampioenskappe Dinsdag begin.

So het die water in die groot swembad Maandag nog gelyk. Foto: Verskaf
So het die water in die groot swembad Maandag nog gelyk. Foto: Verskaf

Benewens ander probleme, is die swembad se water grasgroen.

Edward Saundersone, voorsitter van Vrystaatse skoleswem, sê egter nadat hy met die superintendent gepraat het, word daar chemikalieë in die water gegooi, die gras word gesny en die kleedkamers waaroor mense gekla het, is Maandag skoongemaak.

Rossouw Botes, DA-raadslid, wat al byna ’n week lank amptenare by die Mangaung-metro probeer oortuig om iets aan die water in die twee swembaddens te doen, sê sy klagtes by die metro, onder wie se beheer die swembad val, het op dooie ore geval.

Hy het Donderdag en weer Maandag foto’s geneem van alles wat verkeerd is by die swembad. Buiten dat die lang gras gesny is en ’n emmertjie chloor in die water gegooi is, is min vordering gemaak, sê hy.

Botes het ook foto’s na Netwerk24 gestuur.

Die duikbad langs die groot swembad waarin die kinders gewoonlik opwarm, was Maandagmiddag nog donkergroen en aan die rante was daar oral voëlmis. Foto: Verskaf
Die lang gras by die Stadion-swembad is Maandag gesny. Foto: Verskaf

’n Kenner wat daar werk, meen glo die chloor is gans te min om die groen water voor Dinsdag helder te kry.

Hy sê swemafrigters, ouers én swemmers het hom gebel oor die water en die vieslike vuil toestand van die kleedkamers waar urinale in die manstoilet verstop is. Daar is ’n sterk reuk van urine in die lug. Daar was verlede week ook geen toiletpapier nie en die vloere was vuil.

Die gras was ook baie lank, maar dié het hulle Maandag begin sny, sê Botes.

Die DA-raadslid Johan Pretorius sê sy dogter Emma moet Dinsdag en Woensdag aan gala-kampioenskappe daar deelneem.

“Ons ouers is bekommerd oor ons kinders se gesondheid. Selfs as ’n raadslid van die munisipaliteit kon ek nie die munisipaliteit sover kry om die swemgeriewe veilig te kry vir die kinders se gesondheid nie.”

Hy sê verskeie ouers en afrigters het hom al gevra om te help.

Hy sê die metro het skielik baie chloor in die water gegooi, maar dit gaan nie die water oornag regkry nie.

“Die metro het in die verlede miljoene rande aan die swembad bestee om dit op Olimpiese standaard te kry. Nou het hulle alles laat verval.”

Die skole kon ook nie vanjaar hul kleure-byeenkomste in die swembad hou nie en die meeste skole het Grey-kollege en ander skole se geriewe gebruik.

Die plafon in die manskleedkamer is stukkend, die urinale was nog verlede week verstop en alles het na urine geruik. Daar is glo ook nie toiletpapier nie. Foto: Verskaf
Die enigste borseltjie waarmee al die manstoilette glo skoongemaak moet word. Foto: Verskaf

“Sover ek weet, is dit die eerste keer in die geskiedenis dat dit gebeur.”

Hy gaan ’n spesiale vergadering met adv. Mzwakhe Mofokeng, nuwe administrateur van die metro wat onder administrasie geplaas is, hou oor die stand van die swembad.

“Dit is ongelukkig nou te laat vir môre se gala.”

Die Interhoër-swemgala word boonop Donderdag en Vrydag daar aangebied, terwyl daar Saterdag ook ’n groot kampioenskapsbyeenkoms plaasvind.

Die duikbad waarin die kinders gewoonlik opwarm, kan weens die toestand van die water glad nie gebruik word nie, sê Pretorius.

“Ek het vandag self gaan kyk.

“Die terrein rondom die swembaddens is verskriklik onnet met lang gras en daar is voëlmis oral om die swembad,” sê hy.

Qondile Khedama, hoofbestuurder: kommunikasie van die metro, sê hy stel ondersoek in en sal laat weet wat gedoen gaan word.

Saundersone het Maandagmiddag gesê klublede is besig om in die water te oefen. “Julle kan kom kyk as julle wil.”

Meer oor:  Bloemfontein  |  Swembad  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.