Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Munisipaliteite
Zeerust, Groot-Marico: ‘Eiendom tot 600% oorwaardeer’

Sommige mense in die Zeerust- en Groot-Marico-omgewing se eiendomme is glo tot 600% hoër gewaardeer as wat dit werd is.

Meer as 200 mense het gekla oor dié stand van sake, het Michal Groenewald, VF Plus-leier in Noordwes, Sondag gesê.

Volgens Karlien Venter, VF Plus-raadslid in die Ramotshere Moiloa-munisipaliteit wat die gebied bedien, wissel die beweerde oorwaardasie van eiendomme van buurt tot buurt van 100% tot 600% hoër as die werklike markwaarde van die eiendomme.

“Dis onseker wie die waardasies vir die munisipaliteit gedoen het en hoe dit gedoen is, maar dis duidelik nie met die nodige omsigtigheid gedoen nie.”

’n Oorwaardasie van eiendom kan ernstige belastingimplikasies vir eienaars inhou – hoe hoër die waarde van eiendom, hoe hoër die belastingheffing wat die belastingbetaler moet betaal.

Dis onseker wie die waardasies vir die munisipaliteit gedoen het en hoe dit gedoen is, maar dis duidelik nie met die nodige omsigtigheid gedoen nie.

Venter sê die VF Plus het die Ramotshere Moiloa-raad versoek om ’n voorstel aan die LUR (vir plaaslike regering) voor te lê, dat die tydperk vir die hersiening van die waardasierol met een jaar uitgestel word. “In hierdie tyd kan die waardasies dan behoorlik en deursigtig gedoen word. Wetgewing bepaal dat ’n waardasierol elke vyf jaar hersien moet word, maar dit kan met die LUR se toestemming verleng word.”

Venter vra dat mense in die Ramotshere Moiloa-gebied wie se eiendomme vermoedelik oorgewaardeer is en wat nog nie beswaar gemaak het nie, dit nou doen. “Die proses moet beslis hersien word sodat die waardasies billik en regverdig gedoen kan word.”

Ditshaba Makhate, munisipale bestuurder, het Sondag bevestig mense kan nog tot einde vandeesmaand beswaar maak. “ ’n Onafhanklike persoon van buite die munisipaliteit sal die besware beoordeel.”

Volgens Makhate het die munisipaliteit nie self ’n waardeerder aangestel nie omdat hy nie geld daarvoor gehad het nie. “Ons het die nasionale departement van samewerkende regering en tradisionele sake gevra om ons te help. Hulle het toe iemand aangestel wat die waardasies doen.”

Inwoners kan die waardasierol nog tot 13 April tussen 07:30 en 16:00 by die munisipale kantoor in Zeerust sien. Spesifieke vorms waarop beswaar teen waardasies aangeteken kan word, is ook by die munisipale kantoor beskikbaar. Die voltooide vorms moet aan die munisipale bestuurder gerig en by sy kantoor in Zeerust ingegee word.

Navrae kan ook per e-pos gerig word aan snell.pule@ramotshere.gov.za of motseane.lencoe@ramotshere.gov.za.

Meer oor:  Zeerust
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.