Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Museum nét vir Kaapse musiek
David Kramer en Johannes Coetzee kyk na die uitstallings in die nuwe Music van de Caab-sentrum. Coetzee, wat van Herbertsdale naby Mosselbaai kom, speel altyd kitaar met ’n lepel by die Solms-Delta-feeste. Foto: Leánne Stander

Musiek en hoop, selfs meer as wyn.

Dit is waarmee die mense op die wynlandgoed Solms-Delta boer, het die eienaar, prof. Mark Solms, gisteroggend gesê.

Die Music van de Caab-sentrum is op dié 320 jaar oue landgoed tussen Franschhoek en Stellenbosch geopen. Dis die enigste museum ter wêreld wat net toegewy is aan Kaapse musiek.

Die musieksentrum bevat ’n interaktiewe raakskermuitstalling oor die veelvlakkige wortels van Kaapse musiek, asook replikas van vergete inheemse instrumente.

Die musikant David Kramer is al in 2007 genader om te help met dié projek.

“Dis ’n droom wat waar word. Jare gelede het ek van die instrumente in boeke gesien, en vandag kan ek die klanke daarvan hoor,” het hy vertel.

Volgens Tracey Randle, Solms-Delta se inwonende geskiedkundige, het die museum sewe jaar geneem om ’n werklikheid te word.

“Dit is die opwindendste ding waaraan ek nog ooit gewerk het.”

Sy het gesê dit is belangrik dat daar na musiek geluister kan word, eerder as om net daaroor te lees.

“Ek het geen musikale kennis nie, en die navorsing was soos speurwerk. Die behoefte is juis dat die museum toeganklik vir alle mense van alle ouderdomme moet wees, of hulle nou musikaal is, of nie.”

Solms is net so opgewonde oor die museum. “Musiek is een van die oudste vorms van kommunikasie, dit oorskry grense en dit het die krag om gesond te maak en te verenig.”

Die tien panele in die museum dek alles van “musiek en die oorsprong van die mens” tot “Musiekuitruiling – Die eerste kontakte tussen koloniste en inheemse mense” en “Die ghoema-ritme”.

Die inheemse musiek-instrumente wat in die sentrum ten toon gestel word, is bruikbare replikas van instrumente uit die Universiteit van Kaapstad se Kirby-versameling. Die oorspronklike stukke in die versameling word in glaskaste gehou en is heeltemal te broos om bespeel te word.

Hierdie replikas, waarvan baie deur San- of Khoikhoi-groepe gemaak is, is vervaardig deur die volksmusikoloog Gavin Coppenhall.

Hy het selfs ’n aantal plaasinwoners op Delta geleer hoe om dit te maak as deel van ’n vaardigheids- en kennisoordragprogram.

Al die gidse van die musieksentrum is inwoners van Solms-Delta en is betrokke by een van die landgoed se vele musikale groepe.

Soos die skrywer Elias Nel gister opgemerk het: “Die bewaring van ons grootword-musiek lê my baie naby aan die hart.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.