Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
NB-uitgewers bring hulde aan André P. Brink

Dit is met groot skok en hartseer dat ons verneem het van die afsterwe van André Brink. Sy dood raak alle Suid-Afrikaanse liefhebbers van die boek; sy skryfwerk sal die huidige en toekomstige geslagte steeds bly raak.

Brink is plaaslik en internasionaal as skrywer van onkreukbare integriteit beskou – en dit is dié integriteit wat ons sal bly onthou, saam met sy groot literêre nalatenskap.

André Brink is een van die grootste literêre figure wat Suid-Afrika opgelewer het, en sy dood herinner ’n mens dadelik aan die groot stryd wat hý en ander skrywers sedert die 1960’s gestry het om vryheid en gelykheid vir alle Suid-Afrikaners te bring.

Sy dood is meer as net die einde van ’n era. Dit ontneem ons van een van die besonderste mense in die Suid-Afrikaanse kultuurwêreld – ’n reus wat skalks sou glimlag en net die kop sou skud as hy moes weet dat hy só beskryf word.

Brink is oorlede onderweg terug van die Lae Lande, waar hy vroeër vandeesweek ’n eredoktorsgraad van die Katolieke Universiteit van Louvain ontvang het. Brink was baie trots om in dié manier vereer te word deur die universiteit waaraan sy vriend Ron Antonissen verbonde was voordat hy na Suid-Afrika gekom het.

André Philippus Brink as jong skrywer. Foto: Argief

André Philippus Brink – gebore op 29 Mei 1935 op Vrede – se naam is vir baie mense sinoniem met Die Sestigers en die groot stryd teen sensuur in die apartheidsera. Vir ons by NB, en by ons druknaam Human & Rousseau, met wie hy deur die jare ’n nou en vrugbare verbintenis gehad het, was hy ’n vertroueling, ’n raadgewer, en ’n bondgenoot.

In oomblikke van onsekerheid was dit dikwels hy wat op ’n rustige manier moeilike sake kon ontlont. As ’n mens dink aan al die terreine waarop hy sy spore nalaat, is dit moontlik om sonder vrees van teenspraak te verklaar dat hy meer as die meeste skrywers van sy geslag die literêre toneel soos ons dit vandag ken, help vorm het. Die literêre kritiek het nooit weer die hoogtepunte bereik waarheen hy dit kon opvoer toe hy as resensent in volle gang was nie.

Brink was ’n natuurlike leiersfiguur, iemand wat as intellektueel deur sy medeskrywers en die publiek gerespekteer is. Dit is eienskappe wat aanvanklik van owerheidskant nie korrek takseer is nie, en wat daartoe gelei het dat hy nooit die kans gekry het om aan ’n Afrikaanse universiteit te doseer nie.

Hy was een van die stigterslede van die Afrikaanse Skrywersgilde, wat in die 1970’s en 1980’s ’n belangrike rol in die stryd teen staatssensuur gespeel het, en ook ’n meer gebalanseerde tantième-verdeling met uitgewers beding het. Brink het enkele jare gelede met die stigting van PEN Afrikaans sy gewig agter dié nuwe vereniging ingegooi, en sodoende bygedra tot die aanvaarding van dié vereniging deur die internasionale skrywerskorps, soos beliggaam deur PEN International.

As skrywer het hy vir verskeie deurbrake en vernuwing op prosa- en dramagebied gesorg in die 1960’s, en in die 1970’s dit verder gevoer met sy heel besonderse manier van betrokke skryfwerk – literatuur wat daarop gemik was om die politieke onregte van Suid-Afrika aan die kaak te stel. Die reikwydte van sy skryfwerk was verbluffend: Prosa, drama, humoristiese kortkuns, literatuurstudie, niefiksie oor ’n verskeidenheid onderwerpe, en les bes sy reisverhale, wat vandag nog uniek in hul soort is.

In die 1970’s het hy as boekeresensent by Rapport ’n reuserol gespeel in die ewewigtige evaluering van Afrikaanse literêre werke in alle genres. Hy was self nooit as digter aktief nie, maar sy insig en aanvoeling daarvoor het uit sy resensies gespreek, en toe ons ’n nuwe samesteller vir Groot Verseboek moes vind ná D.J. Opperman deur ongesteldheid verhinder is om voort te gaan daarmee, het Brink met groot akklamasie by Opperman oorgeneem. Brink se keuses van gedigte vir dié werk was gedurf en verruimend.

Brink het dit nie altyd gelukkig getref met institusionele erkenning nie, maar in die 1990’s het die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns uiteindelik hul Hertzogprys hom laat toekom.

In 1973 is Kennis van die aand gepubliseer en word dit die eerste Afrikaanse boek waarop die sensuurraad ’n algehele verbod geplaas het.
NB-uitgewers

Brink se oeuvre het verskeie interessante mylpale. Sy roman Lobola vir die lewe, een van die werke wat die beweging van Sestig aangekondig het, is in 1962 uitgegee en word bekroon met die Reina Prinsen-Geerligs-prys. In 1973 is Kennis van die aand gepubliseer en word dit die eerste Afrikaanse boek waarop die sensuurraad ’n algehele verbod geplaas het.

Hy ontvang al die belangrike Suid-Afrikaanse pryse vir sy werke: die Eugène Marais-prys, destydse CNA-prys (drie maal), die Akademieprys vir Vertaalde Werke, die WA Hofmeyr-prys, Hertzogprys vir drama en prosa, Gustav Preller-prys, Boekjoernalis van die Jaar, Statebondskrywersprys, Alan Paton-prys vir Fiksie en UJ-Prys vir Skeppende Werk.

Daar was ook internasionale erkenning: Prix Médicis Étranger (Frankryk), Martin Luther King Memorial Prize, Ridder van die Franse Legion d’Honneur en Offisier van die Franse Orde van Kuns en Lettere.

Die Suid-Afrikaanse Arts & Culture Trust het hom einde verlede jaar vereer vir ’n loopbaan van literêre prestasie – slegs die derde skrywer wat dit ontvang (Nadine Gordimer en Elsa Joubert is die ander twee).

Hy het eredoktorsgrade van die Universiteit van die Witwatersrand (1985), die Universiteit van die Vrystaat (1997) en die Universiteit van Pretoria (2003) ontvang. Die Universiteit van Uppsala in Swede gee in 1992 die Monisamiën-prys aan hom vir sy bydrae tot die bevordering van menseregte. Die Engelse vertaling van Sandkastele ontvang in 1997 die Mondello Vyf Kontinente Prys vir Wêreldliteratuur.

Hy was die eerste ontvanger van die Jan Rabie-Marjorie Wallace-skrywersbeurs, in 2009.

Die Suid-Afrikaanse Brandewyngilde vereer André in 2006 vir sy “ongelooflike bydrae tot die brandewynbedryf in Suid-Afrika” nadat hy twee van die beste boeke tot nog toe oor die bedryf geskryf het – Brandewyn in Suid-Afrika en Essence of the Grape.”

Sy romans is in meer as 20 tale vertaal, die jongste is Oksitaans, ’n skaars dialek wat in die suide van Frankryk gepraat word.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.