Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Nhlanhla Nene sê regering is onkant betrap met #FeesMustFall
Nhlanhla Nene, minister van finansies. Foto: Lulama Zenzile

Die studenteprotes-gebeure het te vinnig vir die regering gekom.

Nhlanhla Nene, minister van finansies, het Donderdag erken die regering was stadig om agter die kap van die byl te kom met die vlaag van protesoptrede op universiteitskampusse oor hoër klasgelde.

“Die regering is inderdaad onkant betrap deur die kwessie,” het Nene gesê. “Die gebeure was vinniger as ons.”

Hy het gesê ’n taakspan wat uit verskeie departemente bestaan is op die been gebring om te kyk na die hele finansieringsmodel van hoër onderwysinstellings.

Volgens Nene is die bydrae van Nasionale Skema vir Finansiële Bystand vir Studente (NSFAS) die afgelope vyf jaar verdriedubbel.

Dan is daar ook ’n ander program, gedryf deur die presidensie, waar alle belanghebbendes, nie net die staat soos in die interdepartementele taakspan nie, verteenwoordig word, het Nene gesê.

“Die kwessie geniet aandag,” het Nene gesê. “Daar is ’n proses.”

Nene het ’n voorlegging gedoen aan die Nasionale Vergadering se staande komitee oor finansies en die begrotingskomitee asook hul eweknieë van die Nasionale Raad van Provinsies oor sy mediumtermyn-begrotingsraamwerk wat hy Woensdag ter tafel gelê het terwyl daar oproer buite die parlement aan die gang was.

In dié begrotingstoespraak het hy net ’n paragraaf aan die klasgeld-kwessie by universiteite afgestaan en nie ’n noemenswaardige aankondiging daaroor gemaak nie.

Sy toespraak is ook voorafgegaan deur die EFF wat daarop aangedring het dat die mediumtermyn-begrotingsrede opgeskort word totdat daar ’n debat oor die klasgeldkwessie plaasgevind het en oplossings daarvoor gevind is.

Thoko Didiza, voorsittende beampte, het dit nie toegelaat nie. Die EFF het daarna Nene se toespraak ontwrig deur te dreunsing “Fees must fall! Fees must fall!” Hulle is toe uit die nasionale vergadering gesmyt. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.