Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Nigerië-span: Hulle is nié ‘huursoldate’

Wetgewing om huursoldatery en buitelandse militêre hulp te reguleer is hoofsaaklik gemik op konflikgebiede waar Suid-Afrika in ’n diplomatieke verleentheid kan beland as sy landsburgers sou betrokke raak.

Waar dit gaan oor die bestryding of bekamping van bloedvergieting deur ’n terreurorganisasie soos Boko Haram maak die versterking van die Nigeriese weermag se terugslaanvermoë egter net sin.

Só het André Roux van die Instituut vir Sekerheidstudie Sondag gesê in reaksie op ’n berig op Netwerk24 dat Suid-Afrikaanse militêre kundiges nou gaan help met die slyping van Nigeriese soldate om Boko Haram trompop te pak.

Suid-Afrika se aansien sal ’n knou kry as hy die wet in die geval van die kontrakteurs in Nigerië nou streng sou toepas – veral omdat dit ’n kontrak met dié regering behels.
André Roux

Brian Dube van die departement van staatsveiligheid het egter gesê Suid-Afrika sal nie skroom om teen Suid-Afrikaners op te tree as hulle die letter van die wet oortree nie.

“Ons is nie bewus van hierdie projek nie, maar ons wetgewing verbied deelname aan enige vorm van militêre optrede buite landsgrense,” het Dube gesê.

Volgens Roux onderskei Suid-Afrikaanse wetgewing oor buitelandse militêre hulp tussen direkte betrokkenheid by konflik en indirekte veiligheidskontrakteurswerk in ’n konflikgebied. Die nasionale komitee oor die beheer oor konvensionele wapens (NCACC) se goedkeuring is nodig in albei gevalle om veral te verhinder dat Suid-Afrikaners as deel van ’n ander land se magte aan ’n konflik deelneem (of as deel van ’n terreurgroep).

“Die wetgewing se bepalings is nié in die hof getoets nie en die regering het duidelik tot op hede verkies om dit nie as ’n stok te gebruik wanneer Suid-Afrikaners hul militêre ervaring ter wille van stabiliteit elders gaan aanwend nie.

“Dit was verlede jaar duidelik toe die kwessie van Suid-Afrikaners wat diensplig gaan doen in Israel ter sprake was. Ondanks klagte wat in Suid-Afrika aanhangig gemaak is, was daar geen optrede teen dié individue nie.

“Suid-Afrika se aansien sal ’n knou kry as hy die wet in die geval van die kontrakteurs in Nigerië nou streng sou toepas – veral omdat dit ’n kontrak met dié regering behels,” het Roux gesê.

“Die span gaan Nigerië help om homself te help en dít kan nie op sigself as ‘huursoldatery’ vertolk word nie,” het hy gesê.

Die Suid-Afrikaners sal na verwagting deel van ’n multinasionale span kundiges wees wat Nigeriese soldate in asimmetriese of guerrilla-oorlogvoeringtaktiek gaan oplei.

“Die humanitêre krisis in die noordooste van Nigerië weens Boko Haram se bloedige strooptogte neem enorme afmetings aan,” het Roux gesê.

“Selfs die Verenigde Nasies het steun beloof om alles in die stryd te werp om die groep se opmars te stuit. In dié stadium hang dit van die gewillige lande en groeperings af wié Nigerië gaan help en min het al na vore getree met aanbiedings.”

Brooks Spector, internasionale politieke ontleder oor Afrika en Amerika, het gesê private militêre kenners word wêreldwyd aangewend, veral waar dit vir lande moeilik sou wees om self op te tree.

“Vir opleiding soek ’n land die beste kundigheid vir die taak op hande. Amerika het tot onlangs self soortgelyke kundigheid aan die Nigeriërs verskaf en doen dit nou elders in Wes-Afrika,” het Spector gesê.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.