Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Nog ’n Laner vat die pad
Dis tyd vir nuwe dinge, reken Deon
Deon Coetzee en sy vrou, Tertia op hul troudag in Maart vanjaar. Foto: Jurie van Dyk

Nou wil hy sy hare laat groei tot dit op sy boude hang.

“En ook ’n lekker lang baard, sodat niemand my meer as Herman herken nie. Ná ses jaar by 7de Laan is ek redelik keelvol vir die karakter,” sê die akteur Deon Coetzee.

Ja, Deon is die soveelste akteur die laaste tyd wat die Laan groet.

“Dit was tyd om te gaan,” sê hy.

In die storielyn wat op die oomblik uitgesaai word, vry een van Herman se seuns, Willem (Markus Haywood), na Herman se vrou, Felicity (Melanie du Bois).

En dit wil lyk asof die oorlog waarvoor Felicity so bang is, net wag om te gebeur.

Dis nie net Herman wat die sepie groet nie.

Sy dogter Nadia (Simoné Nortmann) is reeds weg en binnekort gaan sy ander seun, Louis (Lesley van Wyk), ook die pad vat.

Presies hoe hulle gaan groet, wil 7de Laan nie verklap nie.

“Maar dit gaan dramaties wees,” sê Tsholofelo Modise, die sepie se publisiteitsbestuurder.

“Deon en Lesley is albei reeds weg. Deon se laaste toneel is op 7 Augustus geskiet en hy gaan op 23 Oktober vir die laaste keer in die Laan verskyn,” sê Modise.

Deon en Lesley het besluit om nie hul kontrakte te hernu nie, maar Simoné gaan weer van tyd tot tyd haar verskyning maak.

“Daar was ook nie meer ’n familie oor nie. Daar was nie baie potensiaal vir my karakter nie. So ek het besluit dis tyd om aan te beweeg,” sê Deon, wat in Maart vanjaar getroud is met Tertia Moolman.

Dit is sy derde huwelik.

Sy werk by 7de Laan het baie van sy tyd in beslag geneem en hy wou meer van sy vrou sien, wat in Port Elizabeth woon.

Hy is tans by haar en ironies genoeg gaan hy haar help om ’n klerereeks te ontwikkel.

In die sepie is sy karakter se vrou, Felicity, ’n modeontwerper.

“Ek het nou uiteindelik tyd om ander dinge ook te doen. Ons besluit nog of ons in Port Elizabeth of Johannesburg wil woon, of albei,” sê Deon.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.