Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Nuwe Prasa-lokomotief, passasierstrein ontspoor in Noord-Kaap

’n Passasierstrein wat deur een van Prasa se omstrede Afro4000-lokomotiewe getrek is, het Dinsdag omstreeks 23:50 naby Modderrivier in die Noord-Kaap ontspoor en van die passasiers is beseer.

Daar was egter sover vasgestel kon word geen noodlottige beserings nie. Die ongeluk het enkele meter van die Rietrivier-brug af plaasgevind.

Treinwiele en onderdele is in die ontsporing afgeruk. Die lokomotief en voorste treinwaens het oor die gebuigde spoorlyne gelê. Tientalle noodvoertuie was op die toneel.

Die trein was van Johannesburg na Kaapstad onderweg.

Transnet doen tans onderhoudswerk op die spoorlyn.

Volgens ’n ingeligte bron het die treindrywer ligte besering opgedoen en het hy ná die ongeluk langs die treinspoor afgeloop en na almal se welstand verneem. Die assistent-treindrywer is ernstiger beseer.

’n Passasier op die trein sê die polisie, vermoedelik van die Modderrivier-kantoor, was gou op die toneel om passasiers by te staan.

Die treindrywer het glo na hom gekom en ’n selfoon gesoek om sy bestuurders te bel.

Lees ook: R600 m. se optelfout: ingevoerde treine te hoog vir SA spoorlyne

Lede van ’n Britse toergroep is ook beseer.

Peter Turnbull van Lancashire in Engeland was saam met sy vrou, Karen, haar suster Susan Williams en haar man, David Williams, op pad na Kaapstad waar hulle vakansie sou hou.

“Ons het geslaap toe ons ’n harde slag hoor. Die waens het begin ruk. Ek het gehoor hoe ons op die spoor gly. Toe rol ons. Ons is rondgeruk. Dit het gevoel of ek in ’n menslike wasmasjien was. Ons vier het bo-oor mekaar geval soos die treinwa gerol en op sy kant beland het.

“My swaer het bo-op my geland. David se kop, enkel, heup en rug is beseer. Met die rukslag het sy kop die plafon van die kompartement getref, en toe val hy na onder.

“Daar was geweldige (baie) stof in die lug. Die oorhoofse elektriese drade het vonke veroorsaak. Ek was bang vir ’n brand, of dat ’n ander trein in ons gaan vasry.”

“Die venster was bo ons, en die deur na die gang onder ons. Ek het gesukkel om die venster oop te maak. Ons het deur die venster uitgeklim en gaan sit.

“Ons was nou op die kant van die treinwa. Vandaar het ons na die punt geloop en afgeklim. Die mense om ons was kalm. Daar was nie histerie nie. Almal het mekaar gehelp. Ons het in die donker na ons besittings en tasse gevoel. Ons moes ons nagklere uittrek en gewone klere in die donker aantrek.

“Die treinbestuurder het ons bymekaar geroep en gesê ons moet vir ambulanse wag. Hulle was baie behulpsaam en het komberse uitgedeel.”

Die passasiers en personeel is na Kimberley-hospitaal vir behandeling geneem.

Amptenare van Transnet en Prasa het die ongelukstoneel omstreeks 02:00 afgesper.

Niemand wou aanvanklik amptelik kommentaar oor die oorsaak van die ongeluk lewer nie.

Die ongelukstoneel naby Moderrivier. Foto: @charnekemp
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.