Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Olimpiese atleet Esther Brand (92) ‘blaas stil laaste asem uit’
Esther Brand

Esther Brand (92), die eerste en enigste Springbokatleet wat ’n goue medalje op die Olimpiese Spele in hoogspring kon wen en een van Suid-Afrika se grootste sportsterre, is Saterdag om 12:00 in die Westerbloem-tehuis vir bejaardes in Bloemfontein dood.

Brand het hoofsaaklik meegeding in die hoogspring en het die goue medalje vir Suid-Afrika op die Olimpiese Spele in 1952 in Helsinki, Finland, verower.

Essie van Wyk, haar dogter van Harrismith, sê haar ma het op 20 Junie vanjaar in haar slaapkamer in die Westerbloem-aftreeoord geval en haar linkerheup gebreek. Sy is daarna in die Mediclinic Bloemfontein geopereer waar skroewe ingesit is om die heup te heg.

“Van daar af het sy net verswak. Sy het Saterdag om 12:00 net stil haar laaste asem uitgeblaas, terwyl ’n suster van die aftreeoord besig was om haar te versorg. Haar susterskind, Angelina Pretorius van Bloemfontein, wat sy van 16-jarige ouderdom in haar huis verder grootgemaak het, was ook teenwoordig.”

Van Wyk sê haar broer, Gerhard Brand van Saoedi-Arabië, sal na Bloemfontein kom vir die begrafnis. Dit is nog nie bekend wanneer dit gaan wees nie.

Van Wyk sê dit was haar ma se “begeerte om stil heen te gaan.”

Naas die drie kinders word sy ook oorleef deur haar ses kleinkinders en vyf agterkleinkinders.

Brand is op 29 September 1922 in Springbok in die Noord-Kaap as Esther van Heerden gebore.

Sy het aan die Hoërskool Maitland in Kaapstad gematrikuleer.

Sy was onder die voorste Suid-Afrikaanse atlete wat die Vrystaat en die Noord-Kaap oor jare op junior en senior vlak opgelewer het.

Brand het in 2013 gesê van die oomblik toe sy die eerste en enigste Springbokatleet geword het wat ’n goue medalje op die Olimpiese Spele in die hoogspring verower het: “Net voordat ek op die baan gestap het, het ek ’n muntstukkie voor my voete sien lê. Dit was so groot soos ’n sikspens. Ek het dit opgetel. Op die muntstukkie was ’n duif met ’n takkie in sy bek. Ek het dit opgetel en in my sweetpak se sak gesit.

“My bene het gebewe en ek het ’n hol kol op my maag gekry toe ek die 100 000 mense in die stadion gesien het. My spanmaats het vanuit die paviljoen vir my gewaai en ek het moed geskep en net aan Suid-Afrika se naam gedink.”

Sy het een ná die ander uitgestof en uiteindelik die goue medalje verower.

“Die grootste oomblik het gekom toe ek op die rostrum kon staan om my goue medalje te ontvang. En ons eie volkslied hoor. Die oomblik toe die Unievlag (landsvlag) stadig na bo gehys word en ontplooi is.

“Selfs die goue medalje om my nek was op daardie oomblik nie so mooi soos die Stem van Suid-Afrika nie.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.