Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Om in die teendeel van die vraag antwoorde te soek
André P. Brink het Maandag ’n eredoktorsgraad van die Franstalige Katolieke universiteit in Louvain-la-Neuve, België, ontvang. Met ontvangs daarvan het hy in sy laaste toespraak, gelewer in foutlose Frans, die beeld van Antigone, ’n karakter in die Griekse mitologie, gebruik. Dié jong meisie het opgestaan teen die heerser van die tyd om haar broer ’n eerbare begrafnis te gee, al het die wet dit verbied. Brink, bekend om sy aktivisme teen apartheid het vir oulaas ’n beroep gedoen om nie blindelings dié met mag te volg nie, maar om aan te hou vrae vra. Hier is Chrisna Bekker se vertaling van sy toespraak.
André Brink Maandagaand waar hy ’n eredoktorsgraad van die Université catholique de Louvain in Louvain-la-Neuve, België, ontvang het. Foto: www.uclouvain.be
As mens vooraf geweet het wat die antwoorde sou wees, sou daar nie 'n avontuur wees nie.

Dames en here,

’n Mens het die gewoonte wanneer ’n mens ’n akademiese toespraak lewer om te begin deur Meneer die Rektor aan te spreek, die dekane van die verskillende fakulteite, die departementshoofde, die professors – en te eindig met die studente.

Ek stel voor om dit omgekeerd te doen omdat ek eerstens die studente wil aanspreek. Hulle wat vrae vra, wat antwoorde soek, wat glad nie seker is van die antwoorde nie, maar wat in die skadu’s werk om die moontlikheid van ’n antwoord te kry.

’n Mens is aanvanklik nooit seker dat jy dit sal kry nie.

Maar voordat ’n mens begin antwoorde soek, moet ’n mens begin met die verhaal van Antigone.

Antigone was die eerste mens in die geskiedenis wat werklik bekend geraak het daarvoor dat sy geweet het hoe om op die belangrikste oomblik van haar lewe “nee” te sê.

Waar sy die keuse moes maak tussen die lewe en die dood, waar sy haar bevind het by ’n vurk, waar sy amper nie ’n keuse gelaat is nie, waar al wat sy kon doen, was om “nee” te sê.

Daar is reeds lank gelede vir my gesê ons weet nie hoe om dit te doen nie, en tog was daar ’n klein sewejarige dogtertjie wat presies geweet het wat sy wou sê toe sy “nee” gesê en besluit het om nie te aanvaar wat haar ouers en ander om haar aan haar voorstel nie.

Dit is die voortsetting van die groot naam van Antigone wat vir my steeds die belangrikste voorbeeld ter wêreld is van hoe om in enige oomblik van ons lewe te reageer op dié wat gesag op ons wil afdwing; op dié wat altyd probeer om beter te weet en ons só probeer bestuur; op dié wat voorgee dat hulle meer as ons weet en dus daarop aandring dat ons hulle volg.

Vir my is dit nooit ’n kwessie van “Je suis Charlie” nie, “suis” in die sin van “om te wees” nie, maar ook in die ander sin van “volg” in die voetspore van iemand wat die pad deur die skaduwee probeer vind na ’n doel wat nog nie seker is nie, wat nog nie duidelik is nie, maar wat ’n mens probeer definieer. Wat ’n mens probeer herken in die skadu’s. Dit is vir my die grootste avontuur in die lewe.

Om in spore te volg wanneer ’n mens nie weet waarheen hulle gaan nie. Maar in die hoop, want dit is ’n uitdrukking van hoop – en vir my is dit bowenal hoop – om iets te vind wat die mens druk na moontlike oplossings op al die vrae wat die lewe hom vra.

’n Mens vind amper oral die moontlikheid van vrae. ’n Mens soek dus oral die moontlikheid van antwoorde.

’n Mens is nooit voor die tyd seker wat die antwoord gaan wees nie, maar ’n mens voel die noodsaaklikheid om die antwoorde te vind, om oplossings te vind op vrae wat die lewe self ons vra. Daar is dan die konfrontasie van ons vrae wanneer ons probeer antwoorde kry, bowenal wanneer ons nie voor die tyd weet wat die antwoorde kan wees nie . . .

Dus die noodsaaklikheid om die ­skadu’s te konfronteer, soos ­Baudelaire gesê het, om in die diepte te duik om die nuutheid te vind.

Vir hom was dit altyd ’n kwessie om die “nuutheid” te kry, want dis in die middel van die nuwe waar die moontlikheid van antwoorde skuil. In die niks.

Want dis daarin, in ’n sekere sin, dat ’n mens kan sê hy was die voorganger van Camus, wat vir my altyd die belangrikste padaanwyser was in my lewe, wat vir my gewys het dat die moontlikheid van ’n keuse bestaan van een oomblik na die volgende.

Vir hom, soos ook vir baie ander wat vir my nog altyd die belangrikste padaanwysers was en is, het dit gegaan om die moontlike pad te vind deur die skadu’s na die flou lig – bowenal wanneer ’n  mens nie vooraf weet wat die regte antwoord gaan wees nie.

Want dít, dit is die grootste triomf wat die mens kan vind, om na die teendeel van die vraag te gaan om antwoorde te probeer kry.

As ’n mens vooraf geweet het wat die antwoorde sou wees, sou daar nie ’n avontuur wees nie, sou daar nie ’n werklike keuse gewees het nie, want dis bowenal deur aanvanklik nie te weet nie, deur in die skadu’s in te duik, deur die antwoorde te probeer vind, dat ’n mens kan voortgaan, stap vir stap, een klein stappie op ’n volgende.

Dit is altyd ’n kwessie om verder en verder te gaan, terwyl ’n mens nie weet of die werklike antwoord bestaan nie – en sonder die sekerheid, slegs bewapen met onsekerheid, die enigste sekerheid vir die mens wat juis onsekerheid is, maar ook die vreugde daarin om antwoorde te vind, om aan te hou om antwoorde te soek, bowenal wanneer daar skadu’s om jou is.

En dit is in wese al wat ek vandag vir julle te sê het.

Die noodsaaklikheid om antwoorde te probeer soek, en om nee te sê soos Antigone gedoen het, wanneer ’n mens die sekerheid van die mag wat ons omring moet konfronteer, want ons stryd is eerstens teen alle uitdrukking van mag teenoor die niks, om jouself in die vreugde van onsekerheid te dompel en die noodsaak om aan te hou reis besef, om aan te hou vrae vra.

Dankie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.