Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Om ma te kan wees
Drie wonderwerke
Pally Peyper (34) speel te lekker pop met haar drie mannetjies, Franco, Jeandré en Tiaan. Foto: charl devenish
Franco, Jeandré en Tiaan.
Franco, Jeandré en Tiaan.
Pally Peyper (34) speel te lekker pop met haar drie mannetjies, Franco, Jeandré en Tiaan. Foto: charl devenish
Hulle wens almal kon swanger word. Suster Lizahn Basson en Prof. Paul Wessels by ’n sonar masjien by Femspes. Foto: maradine whitehorn
Dié buisies word gevul met follikels en in ’n broeikassie geplaas. Etlike sekondes later word hulle weer uitgehaal om deursoek te word vir eierselletjies. Foto: maradine whitehorn
Hulle wens almal kon swanger word. Suster Lizahn Basson en prof. Paul Wessels by ’n sonarmasjien. Foto: maradine whitehorn
’n Fyn werk. Suster Basson wys die katetertjie wat die embrio's in die vrou se uterus terugplaas. dié embrio’tjies pas almal in die klein voorste puntjie in. Foto: maradine whitehorn
Michelle Siebert, embrioloog, werk onder die mikroskoop om die eierselletjies uit te soek. Foto: maradine whitehorn
Tyd is ’n kwessie. Michelle Siebert, embrioloog, haal die buisies vol follikels uit die broeikassie uit, etlike sekondes nadat hulle deur suster Lizahn Basson ingesit is. Foto: maradine whitehorn

HULLE sit saam voor die dokter, haar koue hand in syne vasgeklem. Onsekerheid en bekommernis vul die spreekkamer sonder ’n woord.

Sê nou ek raak nooit swanger nie? Sê nou ek kan nooit vir my man ’n kind gee nie . . .

Volgens prof. Paul Wessels, hoof van die Universiteit van die Vrystaat se departement obstetrie en ginekologie en private praktiserende ginekoloog, is subfertiliteit (verminderde vrugbaarheid) baie algemeen.

Van ses tot tien nuwe paartjies kom spreek hom elke week.

“Ongelukkig is daar ’n mate van stigma aan iemand wat nie swanger kan raak nie – maar die feit dat ’n vrou sukkel, is nie ’n siekte nie. Ek dokter ’n behoefte; ’n wens of ’n begeerte.”

Ná 30 jaar in die veld van in vitro-bevrugting word hy steeds deur ouers se behoefte om kinders te hê, oorweldig. “Die krag van die moederbehoefte slaan my steeds stom. Dit is maar net hoe ons gemaak is. Die Skepper het ’n vrou die drang gegee om ’n mamma te wees.”

Die oomblik wat die paartjie voor Wessels gaan sit, begin die proses na ouerskap.

’n Algemene probleem

“Ek is destyds deur ’n vorige ginekoloog met endometriose gediagnoseer, so ek en my man, Jacques, het geweet ons gaan eendag hulp moet kry as ons kinders wil hê,” sê Pally Peyper (34), een van Wessels se pasiënte.

“Toe my skoonsuster ’n babatjie kry, het ons besef dit is dalk tyd dat ons ook iets doen, want anders gaan die kleinding nooit nefies of niggies hê nie.”

Hulle het in Januarie 2013 voor Wessels gaan sit om met die in vitro-behandeling te begin.

Hoekom is daar so baie mense wat deesdae sukkel om kinders te kry?

Wessels meen die rede is drievoudig. “Gesinsbeplanning is heeltemal anders as 100 jaar gelede. Deesdae volg vroue professionele beroepe – eers swot hulle, dan vestig hulle hulle in hul beroep, dan wil hulle ’n huis en besittings opbou. Dertig het ’n magiese ouderdom geword van wanneer vroue kinders wil hê, maar hulle wil dan ook reeds teen 35 klaar wees.”

Die natuurlike proses van kinders kry, word dus kunsmatig uitgestel . . . dalk vir té lank.

Leefstyl is nóg ’n faktor – mense leef lewens van druk. Verwerkte kosse, gemanipuleerde produkte en besoedeling speel ook ’n rol. Verder meen hy mense is deesdae baie meer bereid om hulp te soek as hulle sukkel en sodoende word die kwessie van subfertiliteit al hoe meer in die kollig geplaas.

Pally skud haar kop met ’n vae glimlag soos sy oor die proses dink. “As ek nou terugkyk, besef ek ’n mens moet dit vroeër doen. Ons het net altyd gedink daar is nog baie tyd, maar nou besef ek dit is beter – makliker – as jy jonger is.”

Duur behandeling

Hoewel in vitro-bevrugting ’n hoë suksessyfer het, is daar wel gevalle waar die behoefte na ’n kind nie met die eerste probeerslag bevredig kan word nie. En om ’n tweede keer te probeer, is ook nie iets wat almal kan bekostig nie.

“Die uniekheid van die behandeling maak dit duur. Spesiale medikasie en toerusting wat gebruik word, is slegs vir vrugbaarheidsbehandeling bedoel, en dus is dít ook duur,” sê Wessels.

“Baie mense kom een keer en word swanger, maar baie kom ook en word nié swanger nie.” Hy sug. “Wie kan nou eintlik bekostig om onbepaald hiermee aan te hou?”

Op die ou end moet die twee teenoor mekaar opgeweeg word. ’n Duur – vir baie ’n onbekostigbare – behandeling, teenoor die dringende behoefte om ’n babatjie te hê.

Elke paartjie wat voor Wessels sit, is uniek, met hul eie unieke agtergrond en geskiedenis. Om ’n persoonlike verhouding met elkeen van die paartjies te bou, is hoog op sy voorkeurlys. “Ek versamel goeie mense rondom my om my aan te vul. Die hele proses is immers ’n spanpoging.

“Wanneer ’n vrou swanger word, is dit nie my sukses nie. Dit is die span se sukses.”

Suster Lizahn Basson stem volkome saam. “Spanwerk is so belangrik. As ons mekaar nie vertrou nie . . .”

Die belangrikste spanpoging is egter die een tussen man en vrou.

“Die hele proses het my en Jacques beslis nader aan mekaar gebring,” sê Pally. “Ondersteuning tussen man en vrou is kardinaal. Die een kan nie die ander kwalik neem as daar probleme is nie. Ons is saam in die ding. Jy het mekaar só nodig.”

“Dit was verskriklik seer. Stresvol. Ek is so bang vir naalde, en toe moes ek vir twee weke lank myself elke dag ’n inspuiting gee,” sê Pally en skud haar kop. Haar hande is wit soos sy hulle op haar skoot vasklou en aan haar nare ondervinding terugdink.

Die eerste stap van vrugbaarheidsbehandeling is gewoonlik hormonale inspuitings – elke dag vir 10 tot 14 dae. “Ná die inspuitings kyk ons met die sonar of die vrou mooi follikels ontwikkel het – hulle moet verkieslik 18 mm of groter wees,” verduidelik Basson die proses.

“Ons aspireer soveel as moontlik follikels, want die kans op ’n eiersel is dan net soveel groter.”

Indien wel, word daar na die laboratoriums toe beweeg waar die follikels geaspireer – of uitgesuig – word en in ’n buisie gesit word. Van daar moet dinge vinnig gebeur.

“Sonlig of helder lig is skadelik vir eierselletjies, so ons probeer als so gou as moontlik doen. As ons sien die buisie is vol, sit ons dit in ’n broeikas wat teen 39°C gekontroleer word,” verduidelik sy en beduie na die klein ingeboude broeikassie. “Ons stel dit so twee grade warmer as liggaamstemperatuur, want ons wil so min as moontlik temperatuurskommeling toelaat; dit kan ’n skok vir die delikate selletjies wees.”

Die buisie bly vir etlike sekondes in die broeikassie, voordat Michelle Siebert, die embrioloog, dit weer aan die ander kant uithaal. Teen dié tyd het sy reeds die spermselle en moet sy net onder die mikroskoop die eierselletjies uitsoek en saam met die sperm sit.

Emosionele wipplank

Dan kom die wag vir bevrugting om plaas te vind.

Tussen 72 en 120 uur later word die embrio’s weer in die vrou se uterus teruggeplaas.

“Die stres- en spanningsvlakke van die pasiënt is teen dié tyd al vreeslik hoog,” sê Basson. “Dit is ’n emosionele wipplank wat hulle ry en dan is daar nog die afwagting van wat nou?”

Pally kan dit beaam. Dié spanning het sy self beleef. “Ek het vir niemand eers gesê ek gaan dit doen nie. Ek wou nie al daai druk van buite hê nie,” sê sy terwyl sy met haar hande beduie. “Ek wou nie hê mense moet my heeltyd vra hoe dit gaan en of dit gewerk het nie.”

Pally sidder as sy dink aan die dag van die terugplasing. “Die ander mense is opgewonde as dit eers gedoen is, maar ek was bang. Ek hou nie van hospitale nie, ek hou nie van naalde nie en ek hou nie van operasies nie. Dit was net glad nie lekker nie.”

Ná die maande lange proses en emosionele wipplankryery is die terugplasingsproses van die embrio’s amper verspot vinnig.

Twee minute.

Twee minute en dan is sy moontlik swanger. Dan is haar droom dalk bewaarheid.

Met ’n haarfyn silikoon-katetertjie word die embrio’s in die vrou se uterus geplaas, waarna sy vir ’n uur op haar rug moet lê en rus.

“Dié mense het baie keer net een kans. Natuurlik moet hulle alles in hul vermoë doen om die ‘ek moes maar net’ of ‘wat as’ oomblikke te vermy,” sê Basson.

“Ná 10 dae – maar dit voel meer soos 20 – het hulle na my bloedtelling gekyk en gesien dit wys positief,” sê Pally. “Maar omdat daar so baie mense is wat miskrame kry, wou ek nie te opgewonde raak nie.”

Basson glimlag breed. “Dié is ’n werk waar mens nie afgestomp kan raak nie – kyk hier, ek kry sommer hoendervleis,” sê sy terwyl sy haar arms vryf. “Jy kan net nie. Ek kan dit nie beskryf nie. Om te sien hoe selletjies bymekaar kom en ontwikkel tot die embrio wat ons terugplaas, is ongelooflik. Dit is die wonderwerk van lewe.”

Wanneer sy goeie nuus aan haar pasiënte kan oordra, is Basson oorstelp.

Sy lag. “Die eerste vraag wat die mans vra wanneer hulle hoor die vrou is wel swanger, is amper altyd dieselfde. ‘Hoeveel is daar?’ ”

Soos die geval met Pally. “Ons het drie embrio’s vir haar teruggesit. Nou het sy drie babatjies. Mense wat normaalweg kinders kan kry, verstaan nie. Hulle dink kinders is ’n reg, nie die voorreg wat hulle eintlik is nie,” sê Pally.

Haar stem is gelaai met emosie.

Wessels het eers vir haar en Jacques gesê hy dink hulle verwag ’n tweeling, maar het hulle laat inkom om persoonlik die nuus mee te deel. “Nou ja. Toe sê hy vir ons daar kom drie.”

Sy kyk met oë vol liefde na haar drie nege maande oue seuntjies waar hulle in ’n ry op stoeltjies sit en voetjies skop. Ses groot blou oë hou hul mamma dop.

Groot eer

“Dit was ’n helse skok, maar dit is ook ’n groot eer dat die Here drie van sy kinders vir ons gegee het om groot te maak.”

Sy streel oor haar seuntjies se koppies – twee donker, een rooi. “Tiaan was met geboorte 1,8 kg, Jeandré 1,6 en Franco 1,4. Nou is Franco die grootste en hy geniet dit vreeslik om sy boeties se hare en ore te trek.”

Franco gee ’n gorrel-laggie asof om te bewys dis die waarheid terwyl Pally liefkosend glimlag.

“Tiaan is die vriendelikste enetjie en hy is verskriklik lief vir sy pappa. Jeandré is die ou sagte enetjie. Hy wil ook speel, maar hy hou nie daarvan as sy boeties aan sy gesiggie raak nie.”

Hoewel sy mamma-wees van drie seuntjies as ’n heeltydse werk beskryf, is sy nie ’n oomblik spyt nie. “Ek sal beslis in vitro aanbeveel. Hoewel die maande van behandeling glad nie lekker is nie, is dit die moeite werd. Ek kyk net na daai gesiggies en ek weet dit was die moeite werd.”

Sy skud haar kop in verwondering. “Dit is so onwerklik dat daar van niks, soveel kan kom.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.