Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Omgewing
15-jarige sit firmas ore aan met urine-kragopwekker

’n 15-jarige meisie van Pretoria het groot maatskappye ore aangesit toe sy Dinsdagaand ’n eerste plek by die African Energy-toekennings verwerf het met haar urine-kragopwekker.

Nicole Barwise van die Hoërskool Menlopark het dié prys met die Vuselela Energy-maatskappy gedeel en is nou R150 000 ryker.

Sy is die jongste persoon nog wat die kompetisie gewen het. Dit is gewoonlik groot maatskappye wat dit wen, sê Barwise.

“In 2014, toe ek in graad 8 was, moes ons ’n projek doen oor hoe ’n mens beurtkrag op ’n koste-effektiewe wyse kan vermy.

“Die juffrou het gesê ons gaan gepenaliseer word as almal se idees dieselfde is. Dit het my gedwing om buite die boks te dink,” vertel Barwise.

Barwise het toe ’n urine-battery ontwikkel.

“Ek vang die urine op met my urine-stelsel wat onder die toilet geplaas word. Die urine gaan dan deur pype na die battery. Die urine dien as elektroliet.”

Sy sê 2 000 ml urine kan onder meer selfone en koordlose ligte laai.

“Die mens skei daagliks sowat 2 000 ml urine af. Dié hoeveelheid urine kan ’n lig van 0,5 ampère vir sowat 42 uur laat brand en ’n iPhone 5S van 0% tot 100% herlaai.”

Barwise vertel haar projek kan ’n groot verskil in mense se lewe maak.

“Daar is volgens die sensus van 2011 sowat 2,5 miljoen mense in Suid-Afrika wat nie toegang tot elektrisiteit en lopende water het nie.

“Hierdie is ’n oplossing vir die probleem. Dit verskaf nie net tot ’n groot mate elektrisiteit aan mense nie, maar ook ’n toilet.”

Sy wil in die nabye toekoms die projek verder ontwikkel en die urine-kragopwekkers begin vervaardig.

“Die hele eenheid kos R534. Ek wil dit aan niewinsgewende organisasies gee sodat hulle dit aan mense sonder lopende water en elektrisiteit kan verskaf.”

Sy was baie verbaas toe daar aankondig word dat sy die eerste plek verwerf het.

“Dit was die nasionale Eskom-Ekspo-kompetisie wat my toevallig vir African Energy Awards ingeskryf het. Ek het gehoor dis groot maatskappye wat gewoonlik inskryf.

“Ek was baie verbaas en opgewonde toe ek hoor ek het gewen.”

Haar pa, Charles, was haar mentor tydens die ontwikkeling van die projek.

“Hy is eintlik ’n prokureur, maar elektrisiteit is sy passie en stokperdjie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.